Op verskeie plekke in Suid-Afrika is konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog opgerig. Die Raad vir Oorlogsgrafte het talle Konsentrasiekampkerkhowe gerestoureer en oral is dit plekke van byeenkomste vir Afrikaners. Omdat dit nie moontlik is om al die kampkerkhowe hier te vermeld nie, word slegs een beskryf, te wete die kampkerkhowe by Irene. In Port Elizabeth word slegs na ’n gedenkteken op die konsentrasiekamp-terrein verwys.

In die tweede helfte van die jaar 1900 het die Britse leërowerheid besluit om die voedselvoorraad van die Boerekrygers af te sny deur hul berugte “verskroeide aarde”-beleid. Oor uitgestrekte gebiede is met aaneengeskakelde kolonnes (die sogenaamde dryfjagte) van plaas tot plaas beweeg, huise afgebrand, oeste verniel, vee is gebuit of doodgemaak en die bewoners onverwyld en met groot ontwrigting na ’n Konsentrasiekamp vervoer.

Die toestande in die kampe was haglik. Die huisvesting was ontoereikend, sanitasie was gebrekkig en mediese geriewe gering. Teen die winter van 1901 was die kamptoestande só swak dat ’n verskeidenheid aansteeklike siektes uitgebreek het. Die sterftesyfer in die kampe het sorgwekkend gestyg.

Agitasies deur onder andere Emily Hobhouse en ’n ondersoek ter plaatse deur ’n Britse Dameskomitee het daartoe bygedra dat die Britse leërowerheid die toestande oor die algemeen verbeter het. Nuwe kampe is langs die ooskus opgerig en die sanitasie en hospitalisasie is verbeter, sodat daar teen 1902 ’n aanmerklike afname in die sterftesyfer was.

Tog het daar in slegs 20 maande 26 260 vroue, en kinders onder sestien jaar, en 1676 mans in die kampe gesterf … teenoor 3990 gesneuwelde burgers in aktiewe oorlogvoering van 32 maande.

Na die oorlog was die konsentrasiekampkerkhowe plekke van byeenkomste en ’n bron van Afrikaner-inspirasie. Plaaslike organisasies het oral geprobeer om die begraafplase as blywende gedenktekens te bewaar. In die sestigerjare het die Raad vir Oorlogsgrafte met ’n projek begin om al die kampkerkhowe in die land te restoureer.

Die Irene-kampkerkhof, digby Pretoria, was die eerste een aan die beurt. Dié konsentrasiekamp was een van die eerstes wat opgerig is en ook een van die laastes wat gesluit het (op 7 Februarie 1903). Die kamp, wat later aansienlik vergroot is, was geleë waar die Irene-golfbaan vandag is. Vir ’n tydperk van 14 maande, van 1 Mei 1901 tot 30 Junie 1902, was daar gemiddeld sowat 4505 kampinwoners, van wie 1737 (38,6%) kinders sowat 12 jaar oud, 1707 (37,8%) vroue en 1065 (23,6%) mans was.

Die Irene-kampkerkhof is geleë in Bruceweg, Irene

Die Irene-kampkerkhof is geleë in Bruceweg, Irene

Gedurende die aanvangsmaande van die kamp het dames uit Pretoria, onder aanvoering van mevrou H Armstrong, in oorleg met mevrou (dominee) HS Bosman, die “Irene Vrijwilliger Verpleegsterskorps” georganiseer om hulp aan die siekes en noodlydendes te verskaf. Onder hierdie handvol jong dames was Johanna van Warmelo, later bekend as Johanna Brandt, skryfster van Die Kappie-kommando en Het Concentratiekamp van Irene, waarin sy van haar kampervaringe vertel.

Na die oorlog het van die groepie dames die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie gestig. Sedert 1906 het hulle gereeld op 31 Mei kransleggings by die kerkhof gehou; en vanaf 1911 het die SAVF gereeld die Kampkerkhof versorg. Dit was egter op private grond geleë, wat sake bemoeilik het. Deur die SAVF se bemoeienis het die Transvaalse Provinsiale Administrasie die kerkhof in 1957 aangekoop en in samewerking met die destydse Sentrale Burgergraftekomitee die eerste restourasieprojek aangepak. Op 31 Mei 1958 is ’n gedenkteken deur senator J de Klerk, minister van Binnelandse Sake, onthul.

Hoewel daar altesaam 1149 sterfgevalle in die kamp was, is met die restourasie slegs 808 leiklipgrafsteentjies opgetel. Hierdie steentjies is toe in vier U-vormige ringmuurtjies aan die vier sykante van die kerkhof ingemessel. Die woorde op die gedenksteen lui:

Ter nagedagtenis van die vroue en kinders
wat gesterf het te Irene gedurende die
Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902,
opgerig deur die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie
in oorleg met die Sentrale Burgergrafte-komitee.

Van toe af kon gereeld elke jaar op 31 Mei kransleggingsplegtighede gehou word.

Met die restourasie van die Konsentrasiekampkerkhowe deur die Raad vir Oorlogsgrafte het daar in die pers stemme opgegaan omdat sekere “rare botaniese spesies” in die slag gebly het. Die kerkhof is egter omgeskep in ’n gedenktuin met geplaveide wandelpaadjies, blombeddings en bome. Op 13 September 1969 het die eggenote van die toenmalige staatspresident, mevrou Lettie Fouché, en die premiersvrou, mevrou Tini Vorster, elkeen meegedoen aan ’n boomplantdag toe sewentig inheemse bome in die kerkhof geplant is. Vandag staan daar onder meer wag-‘n-bietjie, witstinkhout, olienhout, karee en soetdoring.

Teen ’n koste van R13 000 is die kerkhof heruitgelê. Om steeds die voorkoms van ’n kerkhof te behou, is ’n tagtigtal nuwe granietgrafstene in pare opgerig. Aan weerskante van elke steen is ’n drietal name van dié volwassenes wat in die kamp gesterf het, uitgegraveer. Die argitek was meneer Anton du Toit van die firma Bosman en Smal te Pretoria, en die kontrakteur menere A en J van Tonder.

Sedert 1969 is die eiendomsreg en versorging van die kerkhof aan die Verwoerdburgse stadsraad oorgedra. Tien jaar later het die stadsraad en die Raad vir Oorlogsgrafte ’n verdere bedrag van R10 000 aan herstelwerk bestee. Die derde projek is in 1981 voltooi. Die werk is deur menere Bolstone Transvaal (Edms) Bpk in samewerking met die Raad se argitekte en ingenieurs onderneem.

As gevolg van hierdie projekte maak die Irene-kampkerkhof vandag die indruk van ’n ware gedenktuin. By die suidelike hoofingang, soos aan die noordelike kant, staan vier suile van bruin klipbeslag, elk 4 m hoog. Op een is ’n koperplaat aangebring wat die verhaal van die kerkhof in ’n oogopslag vertel. Aan die noordekant, op ’n bedding van melkkwartsgruis, is twee granietsarkofae. Die grootste, in ’n noord-suid-lyn en van grys graniet, simboliseer die dood van die talle kinders wat in die kamp omgekom het. ’n Kleiner, maar hoër sarkofaag van wit graniet en in ’n oos-wes-lyn, beeld die dood van die volwassenes uit.

Suid van die twee sarkofae, in ’n donkergraniet, staan ’n gedenkmuur. Daarop is die name gegraveer van al die kinders van 15 jaar en jonger wat in die gedenktuin begrawe lê. Die bewoording op die gedenkmuur lui:

Hulde aan hulle wat in die Konsentrasiekamp
van Irene (1899–1902) die hoogste offer
gebring het vir volk en vaderland.

In die kerkhof, maar eenkant, is daar die grafte van ses Engelse soldate.

Buite die omheining, langs die hoofingang, met weerskante die spore van die 1938-ossewa wat daar verby is, lê ’n blou granietsteen waarop die volgend woorde verskyn:

Hierdie gedenksteen is tydens die eeufees
opgerig om hulde te bring aan die wat gesterf
het in die Konsentrasiekamp en vir die opofferende
liefdesdienste van mev. H.E.C. Armstrong.
Opgerig deur die SAVF.

Die Konsentrasiekamp in Port Elizabeth het van Desember 1900 tot November 1902 bestaan. Vir die eerste 6 tot 7 weke was die kampbewoners van einde Oktober tot middel Desember 1900 tydelik in die sogenaamde resiesbaankamp (die ou Fairview) gehuisves. Daarna is hulle na die terrein waar vandag Kemsleypark, Polisie se rugbyveld aan Lennoxweg geleë is, oorgeplaas.

Die Konsentrasiekamp-gedenkteken is opgerig in die SAP-sportterrein Kemsleypark, Lennoxstraat

Die Konsentrasiekamp-gedenkteken is opgerig in die SAP-sportterrein Kemsleypark, Lennoxstraat

Ongeveer vyftig hutte van 3,6 m x 3 m x 3 m hoog van sink en yster is hier opgerig ten einde gemiddeld ses mense te huisves. Die gemiddelde kindertal vir die totale eenheid was 230, vrouens 85 en mans 32. Vanweë die weerkaatsing van die son op die blink dakke is die kamp spottenderwys Crystal Palace genoem. Die inwoners was hoofsaaklik van Jagersfontein en Fauresmith afkomstig.

In 1946 het dominees Steijl en Gideon Boshoff, doktor Andrew Rabie en die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Ring probeer om ’n gedenkteken op te rig, maar die stadsvaders se negatiewe houding het dit verhinder. In Oktober 1959 is wel in die Noordeinde-begraafplaas ’n gedenksuil vir die dertien oorledenes opgerig wat aldaar op die terrein vir armlastiges bymekaar begrawe is. Klein Charles Hertzog (7) en Francina van der Poel (byna 3) is destyds in eie, betaalde graffies begrawe – ’n totaal van 15 oorledenes. Generaal JBM Hertzog se moeder, sy vrou Mynie en hul seuntjie, Albert van 17 maande oud, en ook drie van generaal Hertzog se skoonsusters met hul gesinne, is in hierdie kamp aangehou.

Die Somerstrandse tak van Dames Aktueel en die Rapportryerskorps van Port Elizabeth het leiding geneem om die kampterrein as Afrikanerbaken in dié stad erken te kry. Op 29 Oktober 1983, is die gedenkteken onthul. Die uitgawe het R5000 beloop en die argitek was meneer Nic Maritz. Reg rondom die baken is ’n reling van 3 mm dik, 100 mm breed en 900 mm hoog, van swaar gegalvaniseerde yster wat soos doringdraad gevorm is en die ingeperkte omstandighede van die inwoners vertolk. Dit bestaan verder uit ’n plaveisel met ’n straal van 9 m van donker bakstene radiaal gepak, wat die smart en onheil simboliseer. Daarbinne is ’n plaveisel van ligkleurige baksteen volgens vierkant-patroon wat vertroue en volharding weergee. Heel sentraal is die gedenkplaat in brons van 1,5 m wat die inwoners, die geharde en blywende kern, uitbeeld. Die woorde lui:

Konsentrasiekampterrein
Tydens die Anglo-Boereoorlog was op hierdie terrein ’n Konsentrasiekamp vir Afrikaners van Desember 1900 tot November 1902 geleë. Ons eer hul nagedagtenis. Opgerig deur Dames Aktueel en die Rapportryers van Port Elizabeth en op 29 Oktober 1983 deur prof. Marius Swart onthul. Argitekte: Maritz en Maritz. Bou-aannemers: Strydom, Basson en Tait.

Professor Marius Swart het na die betekenis van die konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog verwys, die rol van die Afrikanervrou in ons volksgeskiedenis beklemtoon, die noodsaaklike band tussen kerk en volk tot heil van albei onderstreep en op die krag van gesonde kultuurlewe in ’n samelewing gewys deur onder meer te sê: “Toekoms en verlede omhels mekaar wanneer ’n volk sinvol en kultureel wil voortbestaan. Betekenisvolle toekomsgerigtheid, gevoed uit ’n eie kultuurverlede en oortuiging, dáárin lê die behoudende mens se bydrae tot betekenisvolle hoop vir almal”.

Bron: Hattingh, J.L. 1989. Konsentrasiekampe. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 262–265.