Jan Hendrik (Onze Jan) Hofmeyr is op 4 Julie 1845 in Kaapstad gebore. Hy werk ’n ruk lank as joernalis by De Volksvriend en in 1861 word hy aangestel as redakteur van die koerant. In 1870 koop hy die koerant en ’n jaar later word dit met De Zuid-Afrikaan verenig.

In 1879 word hy verkies tot lid van die Kaapse Parlement en in 1881 verkoop hy die koerant. Hofmeyr het Stellenbosch tot in 1893 in die Parlement verteenwoordig, toe hy om gesondheidsredes uit die politiek getree het. Na sy toetrede tot die Parlement beywer hy hom vir die gelyke regte van Nederlands en Engels in die Kaapkolonie, en vanaf 1 Mei 1882 word die gebruik van Nederlands in die Kaapse Parlement dan ook toegelaat.

Die liefde en respek wat Hofmeyr by sy tydgenote afgedwing het, blyk duidelik uit die naam “Onze Jan”, wat spontaan in die volksmond ontstaan en gevestig geraak het.

Hoewel hy verkies het om sy invloed onregstreeks in die Parlement te laat geld, was Hofmeyr in 1881 ’n paar maande lank minister van die kabinet van TC Scanlen. Hy het hom daarvoor beywer om ’n hegter ekonomiese eenheid in Suid-Afrika te bewerkstellig. In 1899, kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog, het hy hard gewerk om die Britse regering en die Boererepublieke te probeer versoen en ’n vreedsame oplossing te vind. Dit was egter ’n vergeefse poging.

Op 16 Oktober 1909 is JH Hofmeyr in Londen oorlede as lid van die afvaardiging wat die voorgestelde Suid-Afrika-wetsontwerp aan die Britse parlement voorgelê het.

Hoewel hy ook op politieke gebied ’n belangrike rol gespeel het, was Onze Jan Hofmeyr allereers taalstryder. Dwarsdeur sy hele politieke loopbaan pleit hy daarvoor dat Engels en Nederlands op gelyke voet geplaas moet word. In 1890 help hy met die stigting van die Taalbond, en in 1904 beywer hy hom vir die erkenning van die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling deur die onderwysdepartemente en die Raad van die Kaapse Universiteit.

Hofmeyr het gehelp met die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns in 1909, en was lid van die eerste Akademie. Sy lesing oor die Nederlandse taal onder die opskrif “Is’t ons Ernst?”, wat hy op 6 Maart 1905 op Stellenbosch gelewer het, het ontsterflik geword. In sy lesing bepleit hy die handhawing van Nederlands as skryf- en moedertaal van die volk, al is dit in ’n vereenvoudigde vorm.

Na sy dood het daar ’n begeerte by die volk ontstaan om vir “Onze Jan” ’n monument op te rig. In 1915 is aan die bekende beeldhouer Anton van Wouw opdrag gegee om ’n standbeeld van Hofmeyr vir Kaapstad te maak. Hy het twee sketsmodelle voorgelê vir hierdie monument. Die een wat afgekeur is, toon “Onze Jan” met ’n sambreel in sy hand, en dit kan vandag in die Anton van Wouw-huis in Pretoria besigtig word.

As gevolg van die Eerste Wêreldoorlog kon Van Wouw nie na Europa gaan om die beeld daar te maak nie. Hy moes dus sy ateljee in Johannesburg vergroot vir die maak van dié yslike beeld. In Augustus 1916 was die groot gipsbeeld voltooi en kon Van Wouw dit na Nederland verskeep om dit in brons te laat giet.

Die standbeeld van JH Hofmeyr is op 5 Julie 1920 op Kerkplein in Kaapstad deur die Minister van Mynwese en Ons Jan HofmeyrNywerhede, mnr FS Malan, onthul.

Die beeld, met sy voetstuk van klip, is ongeveer 4 m hoog. Die beeld is ’n baie goeie beeltenis van JH Hofmeyr. Hy staan fier en regop, met sy voete wyd uitmekaar en sy hande agter sy rug. In sy hand hou hy ’n hoed vas. Die beeld wek ’n indruk van forsheid en standvastigheid. Die bewoording op die voetstuk lui:

Jan Hendrik
Hofmeyr
“Onze Jan”
4 Julie 184–16 Oktober 1909
Is het ons Ernst

Die standbeeld is simbolies van wat “Onze Jan” vir die Afrikaner beteken het. Hoewel Hofmeyr in sy bekende toespraak van 1905 vir die behoud van Nederlands gepleit het, het sy toespraak gelei tot ’n belangrike debat tussen Afrikaanse geleerdes, predikante en joernaliste, oor die meriete van Nederlands en Afrikaans.

In antwoord op Hofmeyr se vraag: “Is’t ons Ernst?”, antwoord Gustav Preller met ’n reeks artikels onder die opskrif: “Laat’t ons toch ernst wezen!” In hierdie artikels pleit Preller om die voortbestaan van Afrikaans in plaas van Nederlands. Ná hom volg doktor DF Malan met “Het is ons Ernst”, waarin hy ook Afrikaans bo Nederlands stel as die taal van die volk. Hofmeyr se toespraak ten gunste van Nederlands het dus regstreeks aanleiding gegee tot die besef dat die stryd om die erkenning van Afrikaans as volkstaal voortgesit moet word.

Die betekenis van hierdie baken blyk ook duidelik uit die woorde van minister FS Malan by die onthullingsplegtigheid op 5 Julie 1920. Hy het toe gesê: “Jan Hendrik Hofmeyr … bekleedt een enige plaats in de geschiedenis van Zuid-Afrika door geen ander te worden ingenomen”.

Bron: NALN. 1989. J.H. Hofmeyr (Onze Jan). In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 28-29.