Die burgers van die Oranje-Vrystaat het in 1864, die knap jong Kaapse advokaat, Johannes Henricus Brand, wat op 6 Desember 1823 in Kaapstad gebore is, tot hul staatshoof gekies. Hy was die enigste seun van die bekende Kaapse staatsman en vriend van die Voortrekkers, sir Christoffel Brand. President Brand sou hom oor ’n tydperk van bykans ’n kwarteeu as een van Suid-Afrika se grootste staatsmanne van die negentiende eeu onderskei. Onder die Vrystaters sou hy met reg die erebenaming “Vader des Volks” verwerf.

JH Brand_klein

Die bestuursdade en -optrede van president Brand hoort tot die mooiste jare van hierdie staat se geskiedenis. Hy was die man wat met ferme beslistheid en besielde leiding die Basoeto-vraagstuk vir die Vrystaat opgelos het. Dit is hy wat Vrystaat uit sy ekonomiese wurggreep bevry en met foutlose diplomasie teenoor Brittanje, die Vrystaat se goeie reg op die diamantvelde met eer en erkenning afgedwing het. Dit is ook hy wat met geesdrif en nougesette ywer die lewensbelangrikheid van die bevordering van die onderwys, regswese, staatsdiens, verdediging, vervoerwese en kommunikasie besef en by die Vrystaatse Volksraad ingeskerp en deurgevoer het.

Sy liberale Kaapse opvoeding het wel aan sy persoonlikheid ’n soort “Engelse” oriëntasie gegee waarvan hy selfs as Vrystater nooit heeltemal ontslae kon raak nie. Sy sentiment was altyd “Kaaps” en hy het hom selfs ’n Britse sirskap laat welgeval. Die samesnoering van Afrikanerkragte in die twee Boererepublieke was nooit deel van sy program nie en hy was altyd wantrouig om die Vrystaat aan die “onrustige” Transvaal te verbind.

Dit was president Brand se besondere verdienste – hoewel hy nie bewus tot die Afrikaner se staatkundige beskouinge meegewerk het nie – dat hy die republikeinse tradisie op ’n besondere wyse verstewig het. Dit het by die Afrikaner die onwrikbare geloof laat posvat dat hy homself slegs in so ’n staatsbestel die beste en volkome kan uitlewe.

Die liefde en agting wat die Vrystaters vir hul president gehad het, het by die feit dat hy maklik en selfs onnodig in sy eer gekrenk was, verbygekyk en hy is nie minder as vier keer in die amp herkies nie. Slegs sy ietwat onverwagse dood op 14 Julie 1888 het verhinder dat hy vir ’n vyfde keer herkies sou word.

Reeds met die buitengewone Volksraadsitting van 10 Augustus 1888, wat ingevolge die oorlye van president Brand gehou is, word besluit om, naas die bou van ’n paslike grafkelder, dit aan ’n kommissie op te dra om ’n standbeeld ter nagedagtenis van die President op te rig. Die kommissie het bestaan uit JG Fraser (die latere sir), Abraham Fischer, die latere premier van die DRK en doktor BO Kellner.

Met advokaat HAL Hamelberg, Vrystaatse gesant in die Nederlande as bemiddelaar, is advertensies in oorsese lande geplaas om makette vir goedkeuring voor te lê. Die beeld van die beeldhouer Best van Amsterdam, wat van foto’s en tekeninge gewerk het, is uiteindelik aanvaar en onder sy toesig in Italië gegiet. Die standbeeld van gegote brons, effens groter as lewensgrootte, toon president Brand met sy ampserp terwyl hy ’n toespraak in die Volksraad lewer en ’n manuskrip in sy regterhand vashou. Die voetstuk is van gepoleerde Aberdeense graniet.

Op die voorkant van die voetstuk is die woorde J.H. Brand Staatspresident 1864–1888 met ’n koper lourierkrans aangebring. Aan die suidekant is die woorde Van de dankbare natie en aan die noordekant Hy was de vader des lands ingegraveer en die Vrystaatse wapen is in brons aan die agterkant aangebring. Met die onthulling van die standbeeld het president FW Reitz daarop gewys dat juis op die noordekant geen inskripsie is nie en dat dit hom sou verbly indien president Brand se gewilde en beroemde leuse daarop aangebring sal word, naamlik, Alles sal recht komen. Aan sy wens is toe deur argitek, Stucki, voldoen.

Die publiek het £1100 (R2200) en die Volksraad £2000 (R4000) tot die oprigting van die beeld bygedra wat op 5 Julie 1893 op ’n luisterryke wyse deur president Brand se opvolger, FW Reitz, om halfdrie die middag aan die bopunt van Maitlandstraat voor die Goewermentsgebou onthul is.

By ander huldeblyke het president Reitz die hoofrede gevoer. Verwysende na president Brand se spreuk, sluit hy af met: “Alhoewel alles nog niet recht is, zal ongetwyfeld het met vertrouwen op God en in navolging van Johannes Henricus Brand, zulks gebeuren.”

Onder die speel van die Vrystaatse Volkslied is die doek oor die beeld verwyder en die plegtigheid afgesluit met die lê van ’n krans van palmtakke en lourierblare deur hoofregter Melius de Villiers.

Meer as negentig winters en somers pryk hierdie beeld al op dieselfde plek in die Vrystaatse hoofstad om die Vrystaters dankbaar te herinner aan een van sy grootste seuns en te leef volgens sy leuse: “Alles sal reg kom mits elkeen sy plig doen!”

Bron: Van Schoor, M.C.E.. 1989. J.H. Brand. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 90–91.