Aan JD Kestell het die Afrikanervolk die eretitel van Vader Kestell toegeken, nie vanweë sy hoë ouderdom  nie, maar omdat hy ’n ware vader van sy volk was.

John Daniel Kestell is op 15 Desember 1854 in Pietermaritzburg gebore – die vyfde kind uit die huwelik van Charles Kestell, seun van ’n Britse setlaar, en Dorothea Louisa Meyer, Afrikanerdogter van Pietermaritzburg. Na voltooiing van sy teologiese opleiding aan die Universiteite van Stellenbosch en Utrecht, Nederland, word hy in Oktober 1881 tot die bediening toegelaat, waarna hy agtereenvolgens die Nederduitse Gereformeerde gemeentes Kimberley, Harrismith, Ficksburg en Bloemfontein bedien.

JD Kestell_klein

As predikant, Bybelvertaler, skrywer en kultuurleier het Vader Kestell talle bakens nagelaat op die ontwikkelingspad van die volk wat hy gedien en liefgehad het.

Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog vorm hy saam met president MT Steyn en generaal CR de Wet die vermaarde driemanskap – Kerkman, Staatsman en Krygsman. As veldprediker het hy die Boerevolk se sware laste saam met hulle gedra. Hy het die vernedering van sy volk by Vereeniging aanskou, maar tog sterk en vol vertroue die boodskap gebring: Hou moed, God regeer!

As leier by uitnemendheid, het doktor Kestell ook op die kerklike terrein diep spore getrap. Drie agtereenvolgende termyne was hy Moderator van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Vir die Afrikanervolk het hy ’n blywende erfenis nagelaat met sy vertaling van die Nuwe Testament in Afrikaans.

In 1920 het hy Rektor van die GUK (vandag UOVS) geword en hom dit ten doel gestel om dit tot ’n volwaardige universiteit te ontwikkel en om aan die Universiteit ’n eie karakter te gee. Pas nadat hy Rektor geword het, het hy die studente in ’n lesing oor Afrikaans as medium op Universiteitskollege aangemoedig om die amptelike erkenning van Afrikaans aan universiteite prakties toe te pas.

Hy het die Afrikanervolk gehelp om uit eie werkkrag en met eie hulpmiddele homself te red. Die bekende leuse – ’n Volk red homself – het die ekonomiese opheffing en vestiging van die Afrikanervolk ten grondslag gelê. Van al die uitnemende erfenisse wat Vader Kestell vir sy volk nagelaat het, was die Reddingsdaadaksie die grootste.

Laurika Postma het op versoek van die Nederduitse Gereformeerde Kerk die JD Kestell-borsbeeld geskep. Dit staan tans in die Oorlogsmuseum digby die Vrouemonument in Bloemfontein, waar hy na sy dood op 9 Februarie 1941 ter ruste gelê is, langs die ander twee lede van die reeds vermelde Driemanskap. Laurika Postma het hierdie opdrag ontvang pas nadat sy in 1930 uit Europa teruggekeer het. Na voltooiing is die borsbeeld in die ou Sinodesaal in Bloemfontein geplaas. In 1986 is dit op voorstel van doktor SJ Naudé, saakgelastigde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die OVS, na die Oorlogsmuseum oorgeplaas. Daar is geoordeel dat die borsbeeld meer tot sy reg in die Oorlogsmuseum sou kom, waar dit saam met die borsbeelde van president Steyn en generaal De Wet die Driemanskap sou voltooi.

Die beeld is in brons gegiet en is 490 mm hoog. Dit is interessant om daarop te let dat die kunstenares nêrens op die beeld haar naam of datum van voltooiing aangebring het nie.

Daar is op wye vlak erkenning verleen aan Kestell se groot bydraes tot die uitbou en erkenning van die Afrikaanse taal, kultuur en sakelewe. So het drie universiteite eredoktorsgrade aan hom toegeken. Die Universiteit van Suid-Afrika (DD), die Universiteit van Pretoria (DLitt) en graad LLD deur die Universiteit van Kaapstad. Waarskynlik die huldiging wat die kroon gespan het op al die erkennings wat hy ontvang het, het van die FAK gekom toe daar, op versoek van die volk, op 4 Oktober 1938 ’n huldigingsfees in die Bloemfonteinse stadsaal vir hom gehou is, in dankbare erkenning aan sy onbaatsugtige dienslewering.

Bron: Geyser, O. 1989. J.D. Kestell (Vader Kestell). In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 100–101.