In die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 het tussen 400 en 500 Iere hulle met die Boere se stryd om vryheid vereenselwig.

Ierse monument_klein

’n Komitee van Randse Iere, onder leiding van John McBride, is op die been gebring met die doel om ’n Ierse Brigade of -Kommando te vorm om die Boere by te staan.

Aangesien die Iere indertyd as onderdane van Engeland deur die Engelse as rebelle geskiet sou word, het president Kruger twee versoeke van hulle om ’n kommando te vorm, van die hand gewys. Dit was ’n te hoë offer van die Iere. Met die komitee se derde versoek het president Kruger toegegee en ’n spesiale wet deur die Volksraad geloods wat Burgerregte aan die Iere toegeken het.

Een kommando met sowat 300 man, het onder leiding gestaan van ’n Amerikaanse Ier van Pretoria, kolonel John Blake. Hulle het aan die Natalse front diens gedoen en hulle onderskei met die Slag by Nicholsonsnek asook by Colenso.

’n Tweede kommando, onder die Australiese Ier Arthur Lynch, met sowat twintig Iere in hulle geledere, het diens gedoen in gevegte teen die Engelse by Ladysmith en Glencoe. ’n Groep van omtrent vyftig Amerikaanse Iere onder kaptein O’Conner is as ’n ambulanseenheid deur die Clan-na-Gael van die Verenigde State van Amerika na Transvaal gestuur. Slegs tien was werklike ambulansmanne.

Na afloop van die groot veldslae is die Iere onder verskeie Boerekommando’s versprei en het hul enduit aan die moedige stryd deelgeneem.

Ten einde hulde te bring aan hierdie moedige manne, is ’n Ierse Kommando-Gedenkfonds (Ciste ar son Briogaid na nGael) in 1952 gestig. Verskeie vooraanstaande Iere en Afrikaners het in die komitee gedien.

Fondsinsameling het gestrek oor ’n periode van 25 jaar en in 1973 is opdrag aan Jan van Wijk en Vennote, argitekte, gegee om ’n gedenkteken te ontwerp.

Die terrein is aan die noord-oostekant van die Brixtontoring in Johannesburg, en is van die SAUK in ruil vir ’n perseel in Cottesloe verkry.

Die sleutelwoorde wat die argitek gebruik het by die beplanning van die monument was: “Die Iere het saam met die Boere geveg vir vryheid.” Verder is twee elemente wat prominent in die Ierse vroeë monumentbou gebruik is in ag geneem: Die grondwal (of berm), wat sirkelvormig ’n laer of bastion gevorm en beskerming gebied het, en staanstene wat geskiedkundige gebeurtenisse aangedui of herdenk het.

Dié twee elemente is soos volg in die ontwerp toegepas:

Soos met ons eie Voortrekkerlaer en volgens die Ierse gebruik, is ’n sirkelvormige grondwal van 22 m in deursnee aangelê om die monument te omsoom.

Die wal, as deel van die tuinlandskap, is grasbedek, en het aan die westekant ’n opening as ingang na die binneruim.

Op ’n ronde podium in die middel van die binneruim is vier gehamerde beton-“staanstene” in ’n sirkel gerangskik. Hulle is antikloksgewys van klein tot groot só geplaas dat die eerste drie mekaar ondersteun in ’n opwaartse strewende beweging, van klein en skuins tot groot en meer regop – die Ierse Brigade of Kommando’s. Aan die einde van hierdie “strewe” en in dieselfde vloeiende sirkellyn staan die 4e steen fier en regop – Vryheid.

Die besoeker se oog volg hierdie opwaartse lyn en rus finaal op die hoofelement. Die staanstene is 900 mm in deursnee en die hoogste is 3,5 m. Die boukoste was R25 000 en die bou-aannemer was Stocks Construction (Rand).

Die onthulling is op 1 November 1975 waargeneem deur mevrou Betsie Verwoerd, met onder meer die volgende woorde: “Met die oprigting van hierdie monument is ’n lang-uitstaande ereskuld teenoor die Iere deur die Afrikaners en hul vriende van Ierse afkoms, vereffen …”

By die ingang na die binneruim is die volgende inskripsie aangebring, in Iers en Afrikaans; dié plaat is teenoor ’n afbeelding van die Ierse harp geplaas:

Opgerig ter nagedagtenis van die Iere wat vir die Boerenasie geveg het in sy stryd van nood 1899–1902. Mag hulle offers vir vryheid en reg ’n ewige band smee tussen die Ierse volk en die Boerenasie, en mag hierdie monument ’n simbool daarvan wees.

Bron: Van Wijk, J. 1989. Ierse Monument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 138–139.