HPN Pretorius klein

Voor die hoofkwartier van die SA Weermag, Potgieterstraat, Pretoria

Henning Petrus Nicolaas Pretorius, die oudste seun van Marthinus Wessel (Swart Martiens) Pretorius en Debora Jacoba Retief, is op 9 Februarie 1844 in Pietermaritzburg gebore.

Pretorius het sy militêre loopbaan in 1876  begin. In die Eerste Vryheidsoorlog was hy in bevel van die Boere by Elandsfontein, wes van Pretoria. In 1882 is Pretorius aangestel as kommandant van die “Transvaalsche Rijdende Artillerie” en in die volgende jaar neem hy in hierdie hoedanigheid aan die Nyabêla-veldtog deel. Tydens generaal PJ Joubert se reis na Europa in 1890 het Pretorius as waarnemende kommandant-generaal opgetree. In 1894 het hy ook ’n leidende rol in die Mmalobôhô (Malebosch)-oorlog gespeel.

In die militêre reorganisasie na die Jameson-inval (1896) word die “Staatsartillerie van de Zuid-Afrikaansche Republiek”, soos die voltydse artilleriekorps van die ZAR voortaan bekend sou staan, drasties uitgebrei.  Die korps se geboukompleks in Potgieterstraat is vergroot en ’n begin is gemaak met die oprigting van ’n reeks vestingwerke om Pretoria. Pretorius, wat ’n leeue-aandeel in hierdie ontwikkelinge gehad het, is in 1896 tot luitenant-kolonel bevorder.

Op ’n besoek aan die Kaapkolonie, vroeg in die volgende jaar, het Pretorius egter skielik siek geword, en hy is op 25 Januarie 1897 te Abrahamschoot, Bedford, oorlede. Hy is begrawe in die Ou Begraafplaas, Pretoria-Wes (Heldeakker).

De Volkstem van 26 Januarie 1897 het aangaande luitenant-kolonel Pretorius geskryf: “Als hoofd der Staatsartillerie genoot Pretorius niet alleen de achting doch ook de oprechte vriendschap van al zijn ondergeschikten.”

Op 4 Februarie 1897 het ’n komitee bestaande uit amptenare van die ZAR en offisiere van die Staatsartillerie onder voorsitterskap van die Spoorwegkommissaris, meneer JS Smit, vergader om die oprigting van ’n gedenkteken vir luitenant-kolonel Pretorius te bespreek. Daar is besluit dat die voorplein voor die hoofingang van die destydse Staatsartilleriekaserne, wat toe in aanbou was (die oudste deel van die huidige Verdedigingskwartier), die aangewese plek vir so ’n gedenkteken was. Nadat die nodige magtiging vir die projek op 10 Februarie 1897 van die Uitvoerende Raad verkry is, het die komitee met die insameling van die fondse begin. Bydraes is veral uit Pretoria ontvang, en inwoners van die plattelandse distrikte het ook heelwat bygedra. President SJP Kruger self het £3 (R6) tot die fonds bygedra, terwyl generaal PJ Joubert £15 (R30) geskenk het. In totaal is sowat £738 (R1476) ingesamel.

Die komitee het op 30 September 1897 ’n ooreenkoms met die firma JN Hekhuizen aangegaan waarvolgens laasgenoemde onderneem het om teen £650 (R1300) ’n monument van Belgiese graniet in Europa te laat vervaardig en op die aangewese plek op te rig met “… in het voetstuk te leveren de beeltenis van wijlen Kommandant H.P.N. Pretorius, in brons (rood koper) en op die beide sijvlakken, de noodige letters in te hakken in te vergulden”.

Hekhuizen het die monument ingevoer soos ooreengekom, dog kan nie sy verpligtinge ten volle nakom nie, en op 28 Julie 1898 het hy die boukontrakteurs Daanen en Dorlas versoek om die werk teen ’n bedrag van £250 (R500) af te handel. Die reliëfborsbeeld is deur J Fallochini vir £20 (R40) vervaardig.

Die werk aan die monument is op 5 Desember 1898 tot bevrediging van die stadsingenieur, E Lutz, voltooi, dog die afwerking van die materiaal wat van Europa afkomstig was, het, volgens ’n argitek van die Departement van Openbare Werke, K van Rijsse, veel te wense oorgelaat.

Die voetstuk van die 7 m hoë gedenkteken staan op ’n trapvormige basis van gekapte sandsteen. Op die vier hoeke van die soliede granietvoetstuk is pilare uitgebeitel waarop ’n versierde kapiteel rus. Tussen die pilare is bronsplate ingelaat, waarvan die westelike en suidelike onderskeidelik die name van die komiteelede en Pretorius se volle name en geboorte- en sterfdatums bevat. Die oostelike plaat toon die kop en skouers van luitenant-kolonel Pretorius met ’n volbaard en geklee in die seremoniële uniform van die Staatsartillerie. Op die noordelike bronsplaat verskyn die woorde:

Hij was een held. Geweld noch overmacht kon hem ooit doen versagen. Vertrouwend hield hij steeds het oog op God geslagen en elke daad door hem verricht was plicht.

Die boonste gedeelte van die monument is ’n skuinslopende gedenknaald, waarvan die vier sye ryklik versier is met uitgebeitelde krans- en blommotiewe.

Uit ou foto’s kan afgelei word dat die gedenkteken in ’n stadium na sy huidige ligging voor die Verdedigingshoofkwartier verskuif is. Wanneer dit egter plaasgevind het, kan nie met sekerheid vasgestel word nie, dog daar word vermoed dat dit in die jare 1924 tot 1927 was toe aanbouings op die terrein gedoen is.

Op 9 Februarie 1968 is ’n militêre parade en ’n kranslegging by die monument gehou. By die geleentheid was vier van luitenant-kolonel Pretorius se kinders en ook talle klein- en agterkleinkinders teenwoordig. Tans word daar jaarliks op die tweede Sondag in Februarie ’n Henning Pieterse-Gedenkdiens deur die Suid-Afrikaanse Weermag by die monument aangebied ter ere van diegene wat hul lewe in diens van die land geoffer het.

Bron: Kotzé, J.S. 1989. H.P.N. Pretorius. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 178–179.