Gereformeerde Kerk_klein

In Kerkstraat, tussen Retiefstraat en Maurylaan, Potchefstroom

Half verskuil agter die bome, langs die  Gereformeerde Kerk in Kerkstraat, Potchefstroom, staan ’n eenvoudige waenhuiskerkie. Dit is die oudste kerkgebou van die Gereformeerde Kerk in Transvaal, opgerig in die jare 1865 tot 1867.

Hierdie kerkie is ’n tipiese voorbeeld van die kerkgeboue van die Transvaalse pioniers. Die vroegste dorpsgeboue, huise, skole en kerke is almal volgens dieselfde metode van konstruksie opgerig; hulle was langwerpige, gepleisterde geboutjies, met staandakke van riet of gras. Hierdie vroeë geboue is deur die pioniers self van grondstowwe uit die omgewing gebou. Geld was skaars en bankrekenings feitlik onbekend op die platteland, sodat die bydraes vir die bou van ’n kerk dikwels die vorm aangeneem het van beeste of skape, boumateriaal soos klip, sand of planke, of arbeiders vir die bou van die kerk. Gemeentelede het ywerig met die bou van die kerk gehelp, en die hoeksteenlegging of ingebruikneming was ’n groot sosiale gebeurtenis.

Die Gereformeerde gemeente in Potchefstroom is in April 1863 gestig, ’n paar jaar dus na die totstandkoming van die Gereformeerde kerk van Suid-Afrika op Rustenburg in 1859. Daar is onmiddellik aandag aan die bou van ’n kerk gegee, en na land onderhandelings is die ou markplein in Junie 1864 aan die Gereformeerde Gemeente vir die bou van ’n kerk toegeken. ’n Boukommissie is op 1 Mei 1865 benoem en ’n onderwyser uit Rustenburg, J Swart, is genader om te help met die opstel van ’n plan. Die bouwerk het goed gevorder, sodat die ingebruikneming op 12 Januarie 1867 kon plaasvind. ’n Mens kan jou die vreugde van die lidmate op daardie heuglike dag voorstel toe hulle uiteindelik ’n eie vergaderplek vir die bediening van Woord en Sakramente kon betrek.

Die klein kerkie, wat £371 (R742) gekos het, het tot laat in die negentiende eeu as vergaderplek van die gemeente diens gedoen. Na die voltooiing van die huidige  Gereformeerde Kerk-gebou in 1959 is die ou en die nuwe kerk deur ’n afdak met mekaar verbind. Die kerkie word tans as aanvullende ruimte vir kerklike aktiwiteite gebruik.

In die kerkraadsnotules word die afmetings van die kerkie aangegee as 15 m en die hoogte van die mure tot onder die balke 4,5 m. Die mure, van gebrande steen gebou, staan op ’n stewige klipfondament. Volgens oorlewering is die hout uit die saagkuile van die Drakensberge en die bousand uit die Vaalrivier aangery. Die kerk het ’n staandak en onversierde gewels; die voordeur en syvensters is spitsboomvormig terwyl steunbere teen die buitemure aangebring is – tipiese kenmerke van die Neo-Gotiek wat tot in die verste uithoeke van die land deurgedring het. Aanvanklik was daar gee rame en glas in die vensters nie, maar op 14 Januarie 1870 het die Kerkraad besluit om rame met vensterruite in die ligopeninge te plaas. Die oorspronklike grasdak was na die Anglo-Boereoorlog vol gate en is teen 1914 deur ’n sinkdak vervang. Die grondvloer moes baie jare lank diens doen voordat ’n plankvloer ingesit is.

Aanvanklik was daar geen banke in die kerk nie, sodat lidmate hulle eie stoele moes saambring. Dit was in die negentiende eeu gebruiklik dat mans en vrouens apart gesit het; vandaar die voorkeur vir ’n middelpaadjie wat na die kansel lei. Aanvanklik was die enigste meubelstuk ’n eenvoudige preekstoel, oop aan die kante en voorsien van ’n aantal trappies, houtpanele en ’n kateder vir die Bybel.

Dit is opvallend dat daar in hierdie vroeë kerkies geen torings aangetref word nie. Dit moet deels aan die gebrek van geld en opgeleide bouers toegeskryf word, maar ook aan die afkeer van alle uiterlike vertoon en pronksug wat veral kenmerkend vir die Gereformeerde Kerk was. Weens die sobere eenvoud, is daar in hierdie kerkies ’n egtheid en waardigheid wat dikwels by latere kerkgeboue ontbreek. Totius noem hulle “monumente van eenvoud en deeglikheid en sedelike moed”.

Bron: Pretorius, J.C. 1989. Gereformeerde Kerk. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 150–151.