GRA

Op die terrein van die Laerskool Kuswag, langs die hoofweg na die lughawe

Om die honderdjarige stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners te herdenk, het die ATKB ’n landwye fakkelloop georganiseer wat sy hoogtepunt by die onthulling van die Taalmonument in die Paarl op 10 Oktober 1975 bereik het.

Om saam te val met die aankoms van die fakkeldraers in Oos-Londen is een van die grootste Afrikanerfeeste wat die stad ooit beleef het, vanaf 18 tot 20 September 1975 gevier.

Die gedagte om ook ’n monument by hierdie geleentheid te onthul, is deur meneer AJP Opperman (toentertyd skoolhoof by die Laerskool Kuswag) aan die sentrale feeskomitee en die Afrikaanse Kultuurraad, waarvan hy voorsitter was, voorgelê, en met die hulp van die Munisipaliteit van Oos-Londen is ’n terrein langs die hoofweg na die lughawe vir die oprigting van die monument aangebied. Die komitee was egter van mening dat die bewaring en versorging van die monument beter gedoen kan word as dit op die skoolterrein van die Laerskool Kuswag opgerig sou word.

Die Kaapse Provinsiale Administrasie het sy goedkeuring verleen en die komitee het aan die skoolhoof volmag gegee om met die ontwerp en fondsinsameling vir die monument voort te gaan.

Die monument is in sy geheel deur die skoolhoof ontwerp en die finale planne is deur die skoolkomitee goedgekeur.

Die voetstuk bestaan uit ’n wit en swart mosaïekplaveisel waarop twee granietsuile en ’n vlagpaal aangebring is. Die suile is met twee vlekvrye staalpype verbind.

Die punte van die suile dui op die groei van die taal, en die heenwys na die vlag dat die taal aan hierdie land verbonde is. Die staalpype simboliseer die voedingsare waardeur die taal vanuit die GRA tot volle wasdom gegroei het.

Op die kleiner GRA-suil is die jaartal 1875 aangebring en op die groter suil die jaartal 1975 en die volgende aanhaling van CF Visser:

O, Moedertaal
O, soetste taal,
Jou het ek lief
bo alles.

Op die keersy van die groter suil is die volgende inskripsie:

Onthul op
19 Sept. 1975
deur
Prof. dr. M.J. Swart
by die geleentheid van
die
Afrikaanse Taalfees.

Die oprigting van die monument is aan die firma EE Bolt (Edms) Bpk opgedra, teen ’n koste van ongeveer R2000. Hierdie bedrag is spoedig by goedgesinde Afrikaners, Afrikaanse sakeondernemings en Afrikaanse skoliere ingesamel. Oos-Londen se Amateur-toneelvereniging het ’n bydrae van R350 gedoen uit fondse verkry uit toneelopvoerings.

Onder leiding van mevrou Annatjie Opperman het die feesverrigtinge op Donderdag 18 September met ’n taalfeesprogram begin waar dankbare hulde aan die grondleggers van ons taal gebring is.

Die onthulling sou op Vrydag 19 September om 09h30 by die monument plaasvind. Weens aanhoudende stortreën kon dit nie by die monument gehou word nie. Munisipale en skoolbusse is inderhaas verkry om die talle gaste en belangstellendes na die nabygeleë Ned Geref Kerksaal te vervoer waar die verrigtinge om 10h30 ’n aanvang geneem het. Dit is bygewoon deur leerlinge van al die Afrikaanse skole in die stad, alle skoolinspekteurs en Afrikaanse skoolhoofde en belangstellende Afrikaners van Oos-Londen.

Die hoogtepunt van die verrigtinge was ’n besielende boodskap van professor doktor Marius Swart van UPE, wat onder meer gesê het:

“Op hierdie dag gaan dit om my Moedertaal, om Afrikaans. Op hierdie dag kom en gaan die fakkel as simbool van lig, as simbool van kennis, van beskawing, as dié lig, as simbool van hitte, as simbool van die smeltkroes en dus van suiwering. Uit ons aarde juis ons tot Hom.

“Dit is nooit ontydig om Afrikaans te bevorder nie. Midde in die geldstryd, tussen détente en terrorisme, moet ons juis die taal stoot, ten einde die Afrikaanssprekende mens te begrondslag en paraat na die gees te kry.

“Mag hierdie gedenkteken u blywend besiel, u gemoed aangryp, u pen begelei, u woordeskat slyp, u arbeid afrond, u geloof versterk. Op hierdie dag jubel ons in Afrikaans, ons Moedertaal! Want hoekom: Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge – ook Afrikaans, my Moedertaal, my trots, my toekomswapen!”

Bron: Opperman, A.J.P. Genootskap van Regte Afrikaners. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 70–71.