Fort Schanskop, op die Voortrekkermonument-terrein

Fort Schanskop, op die Voortrekkermonument-terrein

Die direkte aanleiding toe die fortifikasie van Pretoria was die politieke agitasie van die Transvaal National Union en die Reformers oor politieke verteenwoordiging, beplan deur Cecil John Rhodes. Doktor Lyander Starr Jameson moes met sy mag van 600 lede van die Chartered Company in Botswana deurbreek na die 2600 gewapende en 2800 ongewapende Uitlander-goudmyners in Johannesburg, hulle militêr organiseer en daarna ’n staatsgreep op die ZAR-regering in Pretoria uitvoer. Sodoende sou Brittanje beheer oor die goudmyne kry.

Op 2 Januarie 1896 is doktor Jameson deur die kommando’s van kommandante PA Cronjé, FJ Potgieter en HP Malan, versterk deur die Middelburgers onder kommandant SPE Trichardt en ’n aantal Staatsartilleriste onder kaptein PE Erasmus, tot oorgawe gedwing. Die Uitvoerende Raad het dan ook in Januarie 1896 besluit om die bewapening van die burgers op te knap, om geskut en ammunisie aan te koop en om kanon- en waenhuise in die Pretoriase Artilleriekamp te laat oprig en op 24 Maart 1896 is ook besluit om met die bou van twee forte, te wete Schanskop en Wonderboom, te begin.

Die aanvanklike gedagte van fortifikasie was eintlik afkomstig van Leon Grünberg, voormalige Franse artillerie-offisier, siviele ingenieur en verteenwoordiger van die firma Schneider en Kie, wapenfabrikante van Le Creusot. Hy het gepantserde, roterende koepeltorings met kanonne op die volgende strategiese punte aanbeveel: op Schanskop, Kwaggaspoort, Daspoortrand, Magaliesberg-Wes, Wonderboompoort, Derdepoort en Strubenkop.

In April 1896 is die “Commissie door (de) H Ed Regeering genoemd tot uitvoeren van zeker speciaal Gouvermentswerk”, met ander woorde die boukommissie insake die forte, gestig. Die voorsitter was kommandant-generaal PJ Joubert. Grünberg se voorgestelde koepels is vervang deur eersteklas forte op dieselfde plekke.

Die ingenieurs Otto von Dewitz en Carl Werner se hulp is ingeroep en Fort Schanskop, Fort Wonderboompoort en Fort Klapperkop is ontwerp. Al drie hierdie forte behoort tot die vyfhoekige redoute- of versterkingstipe wat uit ’n soortgelyke vierhoekige verdedigingswerk gegroei het, om deur sy veelvuldige vlakke kragtiger frontvuur-moontlikhede te bied.

Die koste verbonde aan Fort Schanskop en Fort Klapperkop was onderskeidelik as volg: £47,500 (R95 000) en £50 000 (R100 000). Die werk is in 1896 begin met arbeiders uit Sekokoeniland en hulle geldelike vergoeding was £2,5s (R5,00) per maand. Alle werkkragte verbonde aan die forte, ongeag rang of kleur, moes die eed van geheimhouding aflê. In 1965/66 het die departementele restourasie en museumskepping van Klapperkop die staat R9 921 gekos en Fort Schanskop, vanaf 1973 tot 1978, R16 700.

Fort Schanskop is op 6 April 1897 en Fort Klapperkop op 15 Januarie 1898 amptelik deur die Staatspresident, Paul Kruger, namens die Regering in ontvangs geneem. Beide forte sou gebruik word as opleidingsbasisse vir die Transvaalse Staatsartillerie.

Generaal Joubert het in Oktober 1898 gedeeltelik ingestem tot die uitbreiding van die beveiliging van die forte en is hul bewapen met die volgende: twee Long Toms (155-mm Le Creusot-beleëringskanonne), twee 75-mm Le Creusot-veldkanonne en twee outomatiese 37-mm-(Pompom)-snelvuurkanonne. Nog voor die uitbreek van die oorlog was die ontwapening van die forte egter al aan die gang en op 6 Oktober 1899 is al die artilleriste, sowel as bewapening, reeds na die oorlogsfronte gestuur. Die totale konsep was dus oneffektief voordat die krisis waarvoor hulle ontwerp was, nog ontstaan het.

Op 5 Januarie 1900, toe Lord Roberts Pretoria beset het, is die Royal Scott Fusiliers in Klapperkop en die Royal Dublin Fusiliers in Schanskop geplaas, vir die duur van die oorlog.

Na die Anglo-Boereoorlog het die forte leeg en verwaarloos gelê. In die Eerste sowel as die Tweede Wêreldoorlog is Klapperkop en Schanskop as ammunisie-opslagplekke gebruik. In 1938 is hierdie twee forte tot nasionale gedenkwaardighede geproklameer en in 1956 het minister FC Erasmus gelas dat Klapperkop en Schanskop gerestoureer moet word. In 1963 is besluit dat Klapperkop met die eerste Republiekfees as militêre museum deur die SAW oopgestel sou word. Die restourasie is behartig deur kaptein, later brigadier LS Kruger, SM Direkteur Militêre Museums. In Mei 1963 het die restourasie- en herstelwerk aan Fort Klapperkop ’n aanvang geneem en op 23 Mei 1966 het staatspresident CR Swart die museum geopen. Op 16 Mei 1978 is Fort Schanskop amptelik geopen deur luitenant-generaal AJ van Deventer, Hoof van Staf Finansies.

Die museums ontvang ongeveer 90 000 besoekers per jaar, is ‘n permanente besoekpunt vir Weermag-kursusse en Skolereisdiens en word gereeld deur Voortrekkers gebruik vir inlywingseremonies en ander dienste. Die Gedenkdiens vir lede van die SAW wat gesneuwel het, vind ook jaarliks daar plaas.

Die forte is vir ons sigbare herinnerings aan die vaderlandsliefde en opofferingsgesindheid van ons voorouers, om as strydvaardige volk hul duurgekoopte vryheid te bewaar teen die imperialistiese aanslag van ’n supermoondheid wat ons minerale rykdom begeer het. Vandag is Suid-Afrika steeds ’n teiken van kommunistiese aggressie, wat weer ons minerale en vaderland tot elke prys wil verower in die naam van “Vryheid”. Die fisiese forte was “wit olifante” en maan ons om ons fisiek en moreel te fortifiseer vir die stryd wat voorlê.

Bron: Kotzé, J.S. 1989. Fort Schanskop/Fort Klapperkop. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 194–195.