Die Engelenburghuis

Die Engelenburghuis is op die hoek van Hamilton- en Edmundstraat, Arcadia

Teen die suidwestelike kant van Meintjeskop in Pretoria staan ’n monument vir ’n man wat met sy lewe en nalatenskap ’n groot bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur, die geskiedenis, wetenskap en tegniek, gelewer het – doktor Frans Vrederyk Engelenburg.

Die monument is die bekende “Witte Huis”, in lewe die woning van doktor FV Engelenburg en vandag die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Gebore as seun van ’n welgestelde Hollandse gesin op 17 Maart 1863, het Frans Vrederyk Engelenburg in 1889 na Suid-Afrika verhuis om hier as advokaat te praktiseer. Tot die teleurstelling van sy tante, Marie Koopmans-De Wet, het hy hom na Pretoria begewe waar hy in dieselfde jaar redakteur van De Volkstem teen vergoeding van £25 (R50) per maand geword het.

In die Anglo-Boereoorlog is sy huis deursoek en is ’n leë bandelier gevind. Hy is in arres geplaas, en nadat hy op parool uitgelaat is het hy na Nederland vertrek, waar hy onder meer doktor WJ Leyds behulpsaam was met ’n inligtingsdiens oor die oorlog in Suid-Afrika. In 1903 keer hy terug na Pretoria en hervat sy redakteurskap van De Volkstem. Hy was in 1904 ’n stigterslid van die Het Volkparty en in 1909 lid van die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die Volkskongres in Parys. Hy is ook stigterslid van die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, in 1909 – ’n organisasie wat hy baie jare lank as voorsitter gedien het.

Hierdie belese, ywerige kultuurleier en kunskenner het in 1900 die noordelike gedeelte van die plaas Elandspoort, wat geleë is in die distrik Pretoria aan die oostekant van die Apiesrivier, van die weduwee ACE Ziervogel gekoop. Op dié grond, teen Meintjeskop, word die Engelenburghuis in 1903 opgerig. Hier het hy gewoon en gewerk en word die bekende Engelenburg-kunsversameling gehuisves. Na sy dood op 21 Augustus 1938 laat hy die huis aan die volk na. In 1970 skenk die Staat die grond en huis aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die argitek van die huis is sir Herbert Baker en dit is volgens die bekende Baker-styl gebou. Dit het bestaan uit ses vertrekke, waarvan die agterste gedeelte deur ’n werknemer van die Suid-Afrikaanse Akademie bewoon word. Drie vertrekke is oop vir besigtiging en huisves die kunsversameling bestaande uit ongeveer 572 stukke. Dit is ’n spitsstaandakhuis met gepleisterde mure.

In die Engelenburg-slaapkamer is pragtige ingeboude kaste van eksklusiewe sierhoutwerk. Van die meubels, byvoorbeeld die eetkamerstel en sekere vertoonkaste, is deur Engelenburg gebruik, en van die meubels is uit die Ooste afkomstig.

Die uitnemende kunsversameling word beskou as ’n unieke weergawe van die rykmanslewe in Transvaal vroeg in die twintigste eeu. Die kunsversameling bevat kunswerke van laat in die agtiende eeu tot vroeg in die twintigste eeu. Benewens ’n aantal skilderye, bestaan die versameling uit onder meer beelde, Russiese ikone (prente gemaak van edelstene), keramiek, silwerwerk, porselein en tapyte. Engelenburg se vader het van die beelde uit die Ooste saamgebring.

Die versameling word in ‘n katalogus wat by die Engelenburghuis beskikbaar is, beskryf. Dit kan in gewone kantoorure besigtig word.

Manuskripte en persoonlike korrespondensie van Engelenburg word in die Akademie-argief bewaar.

Totdat die SA Akademie in 1988 sy nuwe gebou op dieselfde terrein betrek het, was die Engelenburghuis die stille getuie van die veelvuldige werksaamhede van hierdie mooi organisasie. Hier het die Akademieraad jare lank vergader, hier is die Hertzogprys toegeken, hier is oor die spelling van Afrikaans besluit en Afrikaanse handboeke geskryf. Die Wiskunde-olimpiade het hier sy oorsprong gehad. Hier is daar trouens oor baie gesaghebbende sake van wyduiteenlopende aard beraadslaag. Dit strek behoorlik van die geologie tot by die teologie.

Bron: Geldenhuys, D.J.C. 1989. Engelenburghuis. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 196–197.