Emily Hobhouse, Koppies

Emily Hobhouse, Koppies

Vir Emily Hobhouse, Suid-Afrika se “Engel van Liefde”, bestaan daar in ons land verskeie bakens.

Emily Hobhouse is op 9 April 1860 in Cornwallis, Engeland, gebore. As maatskaplike werkster en oortuigde pasifis was sy gekant teen die Anglo-Boereoorlog en die Konsentrasiekampbeleid van die Britse militêre owerheid in Suid-Afrika.

Sy het ’n noodlenigingsfonds gestig en is self na Suid-Afrika om toestande in die konsentrasiekampe te gaan ondersoek en terselfdertyd persoonlike hulp te verleen.

Terug in Engeland het sy die Britse owerheid meedoënloos in die pers aangeval en die konsentrasiekampe as “kampe van wreedheid” bestempel. Op hierdie wyse het sy soveel druk uitgeoefen dat grootskaalse verbeteringe in kampe teweeggebring is.

Na die oorlog het sy in 1903 na Suid-Afrika teruggekeer, ten einde hulp te verleen en opheffingswerk onder die hulpbehoewendes te doen, onder meer deur die aanmoediging van tuisnywerhede en die stig van weefskole.

Saam met Margaret Clark, stig sy in 1905 die eerste spin- en weefskool op Philippolis. Uiteindelik was daar ongeveer 25 van hierdie skole in die voormalige Boererepublieke, terwyl ’n kantwerkskool op Koppies in die Vrystaat opgerig is. In Oktober 1908 keer Emily Hobhouse weens swak gesondheid na Europa terug.

Die Emily Hobhouse-monument op Philippolis is ’n baie eenvoudige gedenkteken – ’n klipmuur met ’n soort ereboog van klip en bo-aan die woorde Emily Hobhouse 1860–1926 uitgegraveer. Op 9 November 1968 is ’n klein gedenknaald ter ere van Emily Hobhouse en Johanna Rood, een van haar helpsters, voor die Nederduitse Gereformeerde Kerk op Koppies onthul. Die monument bestaan uit ’n voetstuk met ’n gedenkplaat van brons daarop. Op die voetstuk is ’n aantal ysterklippe aangebring, wat deel uitgemaak het van die oorspronklike fondament van die Kantskool en op die ysterklippe is die gedenknaald opgerig. Die bewoording van die bronsplaat lui soos volg: Hierdie gedenkteken is ’n nagedagtenis aan die Kantskool van Koppies 1909-1938. Dit bring hulde aan Emily Hobhouse. Dit betuig dank aan Johanna Rood wat die skool begin het. Die liefde en moed van hierdie twee dapper vroue sal deur die nageslag onthou word. Opgerig deur die Oranje Vroue Vereniging, tak Koppies.

Die bekendste baken van Emily Hobhouse is egter haar graf aan die voet van die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein. Die Nasionale Vrouemonumentkomitee het ingestem dat die as van Emily Hobhouse ook by die Vrouemonument weggelê kan word. Hierdie voorstel het gekom van mevrou Rachel Steyn, wat Emily Hobhouse jare tevore al gevra het of hulle haar eendag hier kan begrawe.

Emily Hobhouse is op 8 Junie 1926 in Londen oorlede. Haar as is na Suid-Afrika oorgebring en op 27 Oktober 1926 is dit in ’n nis wat in die gedenksuil self gekap is, reg onder die sentrale beeldegroep van die twee Boerevroue en die kind weggelê. Langsaan was die blink granietsteen wat dit sou sluit. Al woorde wat op die granietsteen uitgebeitel is, is: Hier rus Emily Hobhouse.

Oor die hele land het mense gekom om die herbegrafnis by te woon, en van Suid-Afrika se grootste staatsmanne het by hierdie geleentheid oor Emily Hobhouse gepraat. Aangesien die Eerste Minister, generaal JBM Hertzog, in die buiteland was om ’n Rykskonferensie by te woon, kon hy die geleentheid nie bywoon nie.

Doktor DF Malan, toe die Unie se Minister van Buitelandse Sake en waarnemende Premier, het onder meer gesê: “Emily Hobhouse word begrawe in wat by uitnemendheid genoem kan word die heiligdom van die Afrikaanse volkslewe…” Verder: “… As iemand dit ooit vir ons volk was, dan was Emily Hobhouse dit – vir ’n Engel van Vertroosting …”

Die lewe en werk van Emily Hobhouse sal die Afrikanervolk bly besiel. Dit is dus gepas dat hierdie vrou, wat gesê het: “Julle God is my God,” haar laaste rusplekkie gevind het by die Vrouemonument, by die heiligdom van die swaar beproefde Afrikanervolk.

Bron: NALN. 1989. Emily Hobhouse. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 124–125.