Ds JH Neethling

Aan die linkerkant van die hoofingang van die Moederkerk

Die “Oude Dominee” van Stellenbosch was maar die derde predikant van die Ned Geref Kerk in Suid-Afrika wat met ’n standbeeld vereer is vir die uitnemende werk wat hulle gedoen het. Die ander twee was doktor Andrew Murray (Wellington) en dominee JH Hofmeyr (Somerset-Oos). Al drie was swaers en het hulle onderskei in die kerk en gehelp om rigting aan ons volkslewe te gee.

Johannes Henoch Neethling is op 4 Desember 1826 in die distrik Prins Albert gebore, en danksy ’n nalatenskap van ’n grootoom van hom, advokaat JH Neethling, kon hy sy teologiese studie in die buiteland (Utrecht en Leiden) voltooi. Terug in Suid-Afrika, het dominee Neethling eers ’n beroep na Prins Albert aanvaar voordat hy in Maart 1858 na Stellenbosch beroep is, waar hy die gemeente en gemeenskap 40 jaar lank bedien het. Hy is op 26 Februarie 1904 in Stellenbosch oorlede.

Dominee DS Botha, wat dominee Neethling opgevolg het, het in 1917 voorgestel dat ’n gedenkteken ter herinnering van sy voorganger opgerig word. Volgens die Kerkraadnotules, het hy sonder meer samewerking gekry. Die enigste vraag was waar die beeld opgerig moet word, want dominee Neethling het hom op soveel terreine onderskei. Hy was byvoorbeeld van die begin  af tot met sy dood skriba van die Kuratorium vir die Kweekskool. Daarom was daar regverdiging in die sterk gevoel dat die beeld by die Kweekskool opgerig moet word. Hy was ’n openbare figuur op Stellenbosch – Vader van Stellenbosch – daarom wou party gehad het dat die beeld op die sypaadjie voor die Moederkerk opgerig word. Uiteindelik is besluit dat die standbeeld aan die linkerkant van die kerk se hoofingang moet staan.

Die standbeeld van dominee JH Neethling, wat meer as lewensgrootte is, is in Italië met marmer geskep en gelewer deur R Cane & Seuns van Kaapstad. Die ou dominee staan daar in ampsdrag, rysig en waardig. Hy tuur die vertes in, hier in die dorp wat hy help ontwikkel het. Sy linkerhand wys na die Bybel op ’n tafeltjie langs hom en in sy regterhand hou hy ’n akte vas. Sy bediening en visie was onderleg deur die Skrif en die standbeeld beeld hom tereg uit as aanvoorder en stigter, grondlêer en opvoedkundige.

Die standbeeld staan op ’n voetstuk van marmer en op elk van die sye word ’n faset van die volryk lewe van dominee JH Neethling meegedeel. Aan die voorkant van die standbeeld lui die opskrif:

Johannes Henoch Neethling H-zn, 4 Dec 1826 – 26 Feb 1904. 40 Jaren lang Predikant te Stellenbosch opgericht door zijn dankbaar gemeente.

Op die ander sye word van sy rol as kerkman en Afrikanervolksman vertel. Hy was allereers evangeliedienaar. Standvastig onbewegelijk altijd overvloedig in het werk des Heeren, 1 Kor 15:58. Met ’n diep geestelike erns het hy sy gemeentelike werk gedoen en in die kerkverband voortgegaan. ’n Derde inskripsie op ’n sykant stel dit so: Beproefde kerkman. Trouwe herder der gemeente, wijze raadsman der kerk, wakkere curator van die kweekskool, ijverige sekretaris van de sending.

Opvallend was die feit dat hy altyd die skriba-sekretaris van die aksies was. Hy was die planmaker, die fondsinsamelaar. So kry hy dan ook die erenaam “Stellenbosch-se-bedelaar”. Daarom is die opskrif op die vierde sy so verwoord: Oprechte volksman. Krachtige ondersteuner van de zaak der opvoeding. Medestichter van ’t Stellenbosche gymnasium, ’t Victoria College en de Bloemhof-Meisiesschool.

Deur die toedoen van die “Driemanskap” is op 1 Maart 1866 die Stellenbosch-Gimnasium (die huidige Paul Roos-Gimnasium) opgerig. Uit hierdie skool het hulle ’n kollege vanaf 1881 laat ontwikkel en in 1887 die Victoria Kollege tot stand gebring (die huidige Universiteit van Stellenbosch vanaf 1918). Tot 1904 was Neethling lid van die eerste raad van die Stellenbosch-Kollege en het hy hom, benewens die akademie, ook vir die sportbevordering beywer.

Dominee Neethling se lang verbintenis met Stellenbosch, waar hy op talle terreine die leiding geneem het, het hom laat sê:

“Wij weten dat er geen liefderijker hemel, geen schoonere bloemen en geen plaats waar men gezonder en met God stiller en veiliger wonen en studeeren kan, dan Stellenbosch.”

By sy dood het die openbare pers hom gehuldig met ’n banieropskrif: “Een vorst en vader is ontvallen.”

Bron: Brown, E. 1989. Ds. J.H. Neethling. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 40–41.