Transvaalse Driemanskap_klein

In HF Verwoerdstraat voor die Stadhuis, Heidelberg

Met die viering van Krugerdag in Heidelberg op 10 Oktober 1952 het dominee TFJ Dreyer aangekondig dat die bestuur van die Heidelbergse Afrikaanse Kultuurvereniging besluit het om ’n monument ter ere van die Driemanskap – SJP Kruger, PJ Joubert en MW Pretorius – op  te rig.

Die Driemanskap-monument, ontwerp deur die beeldhouer Hennie Potgieter, is voor die Heidelbergse stadhuis opgerig. Die monument van 4,5 m bestaan uit drie dele. Dit het ’n driehoekige voetstuk wat 1,5 m hoog is, met gebeiteld trappies, ’n driehoekige naald en drie borsbeelde van brons wat op die skouers van die voetstuk rus. Teen elk van die drie sye van die naald is daar ’n fakkel en teen elk van die drie sye van die voetstuk ’n paneel wat elk ’n besondere gebeurtenis uitbeeld, naamlik die vlaghysing voor die landdroskantoor van Heidelberg in 1880, die Simboliese Ossewatrek van 1938 en die Rapportryers van 1949.

Transvaalse Driemanskap Kruger_klein

SJP Kruger

Die voetstuk van rooi graniet versinnebeeld die stewige basis waarop die Afrikanervolk gebou is, en ook die onverganklikheid van die Afrikaner-ideale. Op hierdie stewige fondament rus die borsbeelde van die Driemanskap, wat op vaste geloof gebou en hulle leiding aan die volk daaruit geput het. Die gepoleerde rooi granietnaald met die drie fakkels simboliseer die lig van die beskawing wat die Afrikaner die land ingedra het.

Die monument is binne twee jaar voltooi. Op 9 Oktober 1954 het minister FC Erasmus die monument onthul. Joubert was vir hom die vurige patriot, die man van die daad, die kommandant-generaal van twee Vryheidsoorloë – die man wat sy vertroue op God en sy liefde

Transvaalse Driemanskap Joubert_klein

PJ Joubert

vir vryheid die rots gemaak het waarop hy gebou het. Pretorius was die eenheidsheld, die man met die visie, die vegter vir vereniging en toegang tot die see, die enigste man wat tegelyk president van twee republieke was. En dan Kruger, die leeu van Transvaal, maar ook die grootste seun wat Suid-Afrika opgelewer het, die sentrale figuur in die wordingsgeskiedenis van Suid-Afrika.

Transvaasle Driemanskap Pretorius_klein

MW Pretorius

Die Driemanskap-monument roep in herinnering die Britse anneksasie van die ZAR op 12 April 1877 en die stryd wat die Transvaalse Afrikaners daarna gevoer het om hulle onafhanklikheid te herwin. Nadat alle vreedsame pogings misluk het, het ’n groot volksvergadering op 13 Desember 1880 op Paardekraal besluit om hulle eie regering in ere te herstel. Daar was toe geen staatspresident meer nie, want TF Burgers het na die anneksasie na die Kaap verhuis. Die bestuur is dus voorlopig opgedra aan die Driemanskap, bestaande uit SJP Kruger, die vise-president, PJ Joubert, die kommandant-generaal, en MW Pretorius, voormalige staatspresident en voorsitter van die Volkskomitee.

Op 16 Desember 1880 het die Driemanskap aan die spits van ’n sterk kommando Heidelberg binnegery, die Vierkleur voor die ou landdroskantoor gehys. Vandaar het die Regering die Eerste Vryheidsoorlog gevoer. In die Drakensberge by Laingsnek het Joubert met die Britse troepe kragte gemeet en op Amajuba ’n beslissende oorwinning behaal. Met die Pretoriase Konvensie van 3 Augustus 1881 het die Transvalers hulle onafhanklikheid onder beperkende voorwaardes herwin. Die Driemanskap het die bestuur van die nuwe Transvaalse staat onder Britse soewereiniteit voortgesit. Hulle regering is beëindig toe Paul Kruger op 9 Mei 1883 Staatspresident geword het.

Die regering van die Driemanskap en die stryd wat onder hulle leiding teen die magtige Brittanje gevoer is, is ’n belangrike baken vir die Afrikaner. Dit was hierdie stryd wat meer as enigiets anders ’n politieke ontwaking en ’n nasionale eenheidsgevoel onder die Afrikaners in Suid-Afrika bewerkstellig het.

Die Driemanskapregering is in 1980 herdenk met ’n spesiale 5c-posseël. In dieselfde jaar het die FAK ook honderdjarige herdenkingsfeeste gereël van die uitbreek van die Transvalers se vryheidstryd en wat daaromheen gebeur het. ’n Perdekommando het gereis van Potchefstroom oor wonderfontein, Paardekraal en Kleinfontein na Heidelberg, waar hulle rit op 16 Desember 1980 geëindig het; honderd jaar nadat die Driemanskap die Vierkleur aldaar gehys het.

Bron: Van Zyl, M.C. 1989. Die Transvaalse Driemanskap. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 136–137.