Die Staatsmodelschool is op die hoek van Van der Walt- en Skinnerstraat, Pretoria

Die Staatsmodelschool is op die hoek van Van der Walt- en Skinnerstraat, Pretoria

In die laaste dekade van die vorige eeu is daar ’n hele aantal indrukwekkende geboue in die ZAR opgerig. Hierdie geboue wat in die hoofstad, Pretoria, en ook op die platteland verrys het, het onder meer die Raadsaal en Paleis van Justisie op Kerkplein, talle stasiegeboue van die NZASM, Pos- en Telegraafkantore verspreid oor die Republiek, landdroskantore en skole ingesluit – duidelike bewyse dat die Zuid-Afrikaansche staat sy eerste weifelende treë agter die rug gehad het en voortaan op ’n vaste koers was en doelgerig na ’n behoorlike staatshuishouding gestreef het.

Een van die terreine waaraan die Republikeinse Regering voorrang gegee het, was die onderwys en het daar mettertyd ’n hele aantal skole in Transvaal tot stand gekom. Van al hierdie skole was die Staatsmodelschool wat in Pretoria opgerig is, waarskynlik een van die bekendstes.

Een van die doelstellings wat die toenmalige Superintendent van Onderwys, dominee SJ du Toit, nagestreef het met sy Onderwyswet van 1882, was om voorsiening te maak vir opgeleide onderwysers in Transvaal. Die eerste stap in hierdie rigting was die stigting in 1886 van ’n voorbereidende skool. Uit hierdie inrigting het die Staatsmodelschool in 1893 ontwikkel. Die skool was onder die regstreekse toesig van ’n Kuratorium wat teen 1896 uit nege lede bestaan het. Die Superintendent van Onderwys was ampshalwe lid en voorsitter, terwyl die Regering en die Volksraad elk vier lede afsonderlik benoem het. Dit het beteken dat die skool onder die beheer was van die Regering, Volksraad en die Superintendent van Onderwys.

Die eerste skoolhoof was FW Wagner. Hierdie skool het ook ’n sogenaamde normaalafdeling gehad, dit wil sê ’n afdeling waar onderwysers opgelei kon word. Teen 1895 was daar reeds 264 leerlinge in die normaal- en die laerafdeling.

Aanvanklik het die skool gebruik gemaak van die geriewe van meneer Wessel Louis se skol in Prinsloostraat, geleë tussen Kerk- en Pretoriusstraat. Intussen is ook opdrag gegee aan die Departement van Publieke Werke, waarvan Sytze Wierda die hoof was, om ’n nuwe skoolgebou te ontwerp. Die gebou is opgerig in die laat negentiende eeuse Neo-Renaissance styl. In Oktober 1895 is die tenders vir die gebou ontvang en spoedig daarna is die firma Te Groen opdrag gegee om met die uitvoering van die werk voort te gaan. Die tenderprys was £14 263 (R28 526) en binne die bestek van ’n jaar – teen November 1896 – het die bouer die skoolgebou aan die Departement van Publieke Werke oorgedra. Die suksesvolle aanwending van baksteen, afgewissel met sandsteen, het argitektonies ’n besonder gebalanseerde en aangename gebou tot gevolg gehad.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog is die gebou gebruik vir die aanhouding van Britse offisiere. Na die Britse inname van Pretoria in Junie 1900, het die Staatsmodelschool weer ’n nuwe funksie gekry. Dit is toe aangewend as ’n Britse militêre hospitaal. Van 1902 tot 1909 is dit weer vir ’n opvoedkundige inrigting, naamlik die Pretoria College, gebruik en daarna het dit tot 1950 verskeie skole huisvesting gebied. In 1951 het dit die hoofkwartier geword van die Afdeling Biblioteekdienste van die Transvaalse Onderwysdepartement en op 20 Mei 1963 is die gebou tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Dit het ’n besondere bydrae gelewer om die Hollands-Afrikaanse karakter van die leerlinge te bestendig, en deur hulle ook die meerderheid van die republikeinse burgers. Hoewel die skool verengelsing teengegaan het, het dit  nie die Hollandse sterk kultuur bevorder nie, maar eerder die Afrikaanse. Toe die hoof van die Staatsmodelschool in 1898 versoek dat slegs Nederlands op die speelterrein gepraat moet word, het ’n sekere leerling ’n veelseggende opmerking in hierdie verband gemaak: “My ouers sê al sit julle my bo in ’n stampblok en stamp my onder uit, Hollands praat ek nie!”

Gepaard met sy verhewe doelstellings, het die inrigting goeie kontak gehad met die gemeenskap wat hy moes dien, en sy kultuurbehoeftes. Die onderwys was nie stagnant nie en het hom voortdurend aangepas om tred te hou met die eietydse kultuurbehoeftes en nuutste ontwikkelings op onderwysgebied.

Bron: Jooste, G.J. 1989. Die Staatsmodelschool. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 192–193.