Die deftige Presidentswoning staan in President Brandstraat net suid van Bloemspruit.

In 1840 het ’n Trekker-veeboer Johan Nicolaas Brits sy hartbeeshuisie ongeveer 300 m van die fontein in die omgewing van die huidige Presidensie opgerig. Met die koms van die Britse verteenwoordiger, majoor HD Warden, het Brits hom gehelp om op hierdie terrein ’n kleihuis as Residensie te bou. In 1854 het die Republikeinse regering dié huis met sy rietdak en verdere uitbreidings oorgeneem om as Vrystaatse Presidentswoning te dien en die eerste drie presidente (Hoffman, Boshoff en Pretorius) het daarin gewoon.

In 1860 keur die Vrystaatse Volksraad planne vir ’n nuwe woonhuis vir die Staatspresident goed. Die gebou, wat ongeveer £2500 (R5000) gekos het, het aanvanklik 9 of 10 vertrekke gehad. Dit was ’n eenvoudige, maar elegante gebou wat ’n mens herinner het aan die vroeë Kaapse huise. Dit het ’n breë stoep gehad, met twee vleuels, breë hoë vensters en wye, ruim deure. Verskeie verbeterings en uitbreidings is later aan hierdie gebou aangebring.

Die instandhouding van die Presidensie uit die sestigerjare het baie onkoste meegebring en met verloop van tyd is die behoefte aan ’n waardiger gebou vir die President gevoel. ’n Prysvraag vir die opstel van planne vir ’n nuwe Presidentswoning is uitgeskryf en in 1884 was daar 27 planne om uit te kies. Die prys van £100 (R200) is toegeken aan Lennox Canning, van die Queenstownse firma Canning and Goad.

Die Volksraad het besluit om £10 000 (R20 000) vir ’n nuwe Presidensie te begroot. Toe dit blyk dat Canning se ontwerp baie meer sou kos, is hy versoek om die planne te vereenvoudig. Die nuwe Presidensie is op die plek van die ou gebou opgerig en die oprigtingskoste was ongeveer £12 000 (R24 000).

Op 22 Mei 1885 het president JH Brand in sy 22e ampsjaar die hoeksteenlegging waargeneem. Dit is onder meer gevier met ’n groot optog van die Goewermentsgebou af. In 1886 is die Presidensie voltooi en kon dit luisterryk ingewy word. Die eerste bewoner was president JH Brand en gedurende hierdie tyd was die Presidensie die middelpunt van die sosiale lewe in die dorp. President Brand het hier gewoon tot met sy dood op 14 Julie 1888.

Van 1888 tot 1895 het president FW Reitz en vanaf 1896 tot 1900 president MT Steyn die Presidensie bewoon. Tydens president Steyn se verblyf is sulke belangrike besoekers soos president Paul Kruger en sir Alfred Milner in die Presidensie ontvang.

Na die inname van Bloemfontein deur die Britse magte op 13 Maart 1900 het veldmaarskalk lord FS Roberts die woning gebruik en van 1901 tot 1910 was dit die Goewermentshuis, die woning van die goewerneur van die Oranjerivier-kolonie, sir HJ Goold-Adams.

Ná die Uniewording het die Presidensie kort-kort van inwoners verwissel. In 1910 is die gebou betrek deur die Euniceskool. In 1933 is die Presidensie deur die Staat aan die Vrystaatse Provinsiale Administrasie oorgedra. Hierna is dit gebruik as skool, as koshuis, as kantore vir die Verdedigingsmag, as kantore vir die Vrystaatse Onderwysdepartement, as Provinsiale Biblioteek, en uiteindelik as tuiste vir SUKOVS. Die Presidensie is reeds in 1938 tot ’n Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

Die verlede en hede ontmoet mekaar hier in die Presidensie – die statige opstal met sy buitegeboue, terrasse en klipmuur is soos ’n rustige oase in die gejaag van die stad.

Die Presidensie, ’n redelik indrukwekkende en groot dubbelverdieping in die “Scottisch Baronial”-styl, is grootliks van sandsteen gebou. Die vooraansig is asimmetries met ’n hoektoring op elke punt. Die hoektorings, links agtkantig met ’n weerhaan en regs vierkantig met ’n blommotiefspits, het spitspuntdakke. Die portaal met sy vloer van Devonshire-marmer, is groot en indrukwekkend en die groot ontvangskamer met sy geelhoutvloer, was geskik vir dans en onthale.

Die portaal en hoofingang is oorspan met ’n massiewe boog. Dit moes met twee steunpilare versterk word om veiligheid en stabiliteit te verseker. Die sentrale balkon op die eerste verdieping is ’n driekantige uitkykbalkon gekroon met netjiese pilaartjies tussen soliede betonbande.

Die toenmalige Administrateur, advokaat GF van L Froneman, het in die sewentigerjare tot die besef gekom dat hierdie historiese gebou bewaar moes word vir die nageslag. Op eie inisiatief het hy die Minister van Finansies, doktor N Diederichs, genader om geld beskikbaar te stel vir die restourasie van die Ou Presidensie. Professor Leon Roodt, van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, is deur die Departement van Openbare Werke aangestel as die argitek vir die beplanning van die restourasiewerk.

Daar is gepoog om die vrugteboord van die Presidensie weer te laat lyk soos in die tyd van die Vrystaatse presidente. ’n Outydse vrugteboord met perske- en peerbome is aangeplant, en ook ’n roostuin. in die gerestoureerde stalle is ’n restaurant, wat as Die Koets bekend staan, ingerig.

Die gerestoureerde Ou Presidensie is die naweek van 24 Februarie 1985 vir die publiek met ’n swierige funksie volgens sy oorspronklike struktuur en glorie oopgestel.

Bron: NALN. 1989. Die Ou Presidensie. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 88-89.

Die Ou Presidensie

Die Ou Presidensie