Die dorp Vryheid is in 1884 gestig om te dien as die hoofstad van die Nieuwe Republiek. In dié historiese dorp staan ’n aantal Afrikanerbakens wat die verhaal vertel van die kortstondige bestaan van ’n onafhanklike republiek wat deur die Zoeloekoning Dinuzulu aan die Boere geskenk is uit waardering dat hulle hom as koning van die Zoeloes herstel het.

Na die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 het die Natalse goewerneur Zoeloeland in 13 afsonderlike eenhede verdeel, elk met ’n eie opperhoof. Dit het onderlinge stryd aangehits en die posisie van die koningshuis in gevaar gestel. Dinuzulu, die aangewese koning van die Zoeloes, is nie deur die Britse owerheid erken nie en sy troon is deur die ondergeskikte kapteins bedreig. Uit sy skuilplek in die Nkandlabos het Dinuzulu by die burgers hulp gesoek en ’n uitnodiging aan Lukas Meyer en sy Transvaalse burgers gerig om die vrede in Zoeloeland te herstel. In April 1883 het Lukas Meyer en sy burgers Zoeloeland binnegegaan om Dinuzulu as Cetshwayo se opvolger aan te wys, Zibhebhu as die vernaamste bedreiger van die Zoeloetroon te verslaan en 9000 beeste wat van Dinuzulu gebuit is, terug te vind. Op 21 Mei 1884 is Dinuzulu as koning van die Zoeloevolk ingehuldig.

’n Geskrewe ooreenkoms is aangegaan waarvolgens hy grond aan die burgers geskend het vir die oprigting van ’n onafhanklike republiek. Die grondwet van die Nieuwe Republiek is reeds op 31 Julie 1884 goedgekeur en op 5 Augustus 1884 het die Volksraad die bestuursmagte oorgeneem.

’n Proklamasie waardeur 1,3 miljoen morg (ongeveer 1,1 miljoen ha) grond van Zoeloeland aan die Nieuwe Republiek afgestaan word, is op 16 Augustus 1884 uitgereik. ’n Tweede bepaling van die proklamasie het getoon dat die res van Zoeloeland onder susereiniteit van die Nieuwe Republiek sou staan.

Kommandant-generaal Piet Joubert is tot die eerste president van die Nieuwe Republiek verkies. Hy het die eer egter van die hand gewys, waarna generaal Lukas Meyer, medestigter en aangewese kommandant-generaal van die nuwe staat in die amp van president aangewys is. Hy is op 5 Augustus 1885 as Staatspresident van die Nieuwe Republiek beëdig.

Die Afrikaner se sterk republikeinse strewe spreek nie slegs uit die oprigting van nog ’n republiek nie, maar ook uit die staatsgeregtelike opset daarvan. Die grondwet van die Nieuwe Republiek het onder meer voorsiening gemaak vir ’n verkose Volksraad, ’n uitvoerende raad en ’n regstelsel bestaande uit ’n landdros, heemrade en jurielede.

Die aanvanklike pogings om die Nieuwe Republiek deur Brittanje, ZAR, Nederland erken te kry, het misluk. Die regering het egter voortgegaan om die grense van die nuwe staat op 26 Oktober 1885 te proklameer. Eers ’n jaar later het Brittanje besluit om die onafhanklikheid van die Nieuwe Republiek te erken, onderworpe daaraan dat die Republiek sy beleid van susereiniteit oor die res van Zoeloeland laat vaar. Die res van Zoeloeland is gevolglik in Mei 1887 deur Brittanje geannekseer.

Toenemende finansiële probleme het daartoe aanleiding gegee dat die regering van die Nieuwe Republiek met hul Transvaalse eweknie oor vereniging begin onderhandel het. Daarom is op 14 September 1887 ’n verdrag van vereniging deur die twee republieke onderteken. Op 20 Julie 1888 is die Nieuwe Republiek amptelik by Transvaal as die distrik Vryheid ingelyf.

Een van die eerste besluite wat die Volksraad na sy samestelling in 1884 geneem het, was oor die oprigting van ’n staatsgebou, naamlik die Raadsaal.

Bouwerk aan die gebou is in November 1884 op ’n standplaas wat vandag as Landdrosstraat 119 bekend is, begin, en is in Julie 1885 voltooi. Die bouers, Church, Cheetham en Layard van Kimberley, het rooi bakstene, houtvloere en ’n sinkdak opgerig, wat enersyds as raadsaal en andersyds as staatskantore diens gedoen het. Die gebou is in 1936 tot Nasionale monument verklaar en in 1984, met die eeufeesvierings van die dorp, deur die Munisipaliteit gerestoureer. Die gebou dien sedert 1939 as die Nieuwe Republiek-museum.

Die Nieuwe Republiek-museum

Die Nieuwe Republiek-museum

By die opening van die museum op 6 Mei 1939 het meneer JH Wiggett, een van die oorspronklike inwoners van die Nieuwe Republiek, hom soos volg oor die gebou uitgelaat: “Die gebou is gebruikt vir verskillende doele. As ons die gebou aan die voorkant sien, is dit in die oorspronklike vorm. Die deur aan die linkerkant het toegang verleen tot die Uitvoerendraadsaal van die Nieuwe Republiek onder Lukas Meyer. In die kantoor is bespreek en besluit oor ernstige vraagstukke. Die deur na die kantoor van ons Staats Sekretaris had hier na net agter waar ons nou is, gestaan. Die ander deur (aan die voorkant) was die ingang na die grootste vertrek in die gebou, en het gedien as Landdrost-kantoor. Ook het dit gedien als Volksraadsaal, ook als Hof van Heemrade was die vertrek gebruikt. Ook als hooggeregshof, alwaar advokaat De Korte als regter gedien het vir die verhoor van die eerste moord gepleeg in Vryheid. Vanuit die vertrek had ’n deur gelei na die Westehoek na die kantoor van die Registrateur van Akte. Ook die poskantoor was hier aan die agterkant.

Hierdie ou geboutjie, kan van merkwaardige dinge getuig …”

Nieuwe Republiek 2 klein

Fort en gevangenis

’n Deel van die museum is die fort en gevangenis wat die Volksraad in 1887 net agter die Raadsaal laat oprig het. Dit is gebou van ysterklip en het ’n sinkdak. Hoofsaaklik vanweë die hardheid van die klip kon dit nie afgewerk word nie. Daarom het dit ’n somber en onverbiddelike voorkoms. ’n Plaaslike boukontrakteur, Durand en Lange, het dit teen ’n boukoste van £310 (R620) opgerig. Dit is eweneens in die eeufeesjaar 1984 gerestoureer. Vandag dien dit ook as museum, maar die rye selle aan die eenkant van die gebou herinner steeds sterk daaraan dat die gebou aanvanklik as gevangenis gedien het.

Nieuwe Republiek 1

Die huis van generaal Lukas Meyer

Die huis van die eertydse Staatspresident, generaal Lukas Meyer is nie ver van die raadsaal geleë nie. Die straatadres is Landdrosstraat 114. Dit is ’n opvallende gebou wat van bakstene gebou is, met ’n rooi teëldak. Die oorspronklike oprigtingsdatum is onbekend, maar in 1923 het Lukas Meyer se tweede vrou, mevrou RG Foord, sekere restourasie en aanbouings aan die gebou laat doen deur die Durbanse argitekte Ing & Jackson. Ook hierdie gebou is tot ’n nasionale historiese gedenkteken verklaar.

In die dorp Vryheid, waar tradisies met waardigheid bewaar word, geld die leuse van die Nieuwe Republiek steeds: Eendracht, Regtverdigheid en Liefde.

Bron: Du Plessis, J.G. 1989. Die Nieuwe Republiek-bakens. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 228–230.