Kweekskool

Aan die bopunt van Dorpstraat, regoor die Drosdy

Abraham Faure het al in 1824 die Kaaps-Hollandse Kerk deur middel van die Nederduitsch Zuid-Afrikaansche Tydschrift bewus gemaak van “die noodzakelijkheid van die oprichten van eener Theologische Kweekskoool aan de Kaap de Goede Hoop”. Later in dieselfde jaar het die eerste sinode ’n “Reglement voor het Seminarium of Athenaem” opgestel. In 1850, terwyl die kerk nog besig was om geld in te samel vir die beoogde kweekskool, het ’n aantal Stellenbossers – as verteenwoordigers van die hele gemeenskap – die gebouekompleks van die Ou Drosdy as tuiste vir die kweekskool aangebied, en op 1 November 1859 is die Teologiese Seminarium in die historiese Ou Drosdy geopen.

In voorkoms was dit Barok met hoogs versierde gewel en veelvuldige in- en uitswaaiende lyswerk. Aan weerskante was daar gebeeldhoude figure, met balustrade langs die voorste dakrande. Die gewel en festoene bo die vensters dateer uit die jare van 1790. ’n Plan van WB Rowan in 1826 dui daarop dat die parallelle rye kamers vermoedelik verbind was deur ’n tonnelgewelf. ’n “Feesgenoot” by die opening beskrywe die kompleks as “zeer hooge gebouwen … met een front van 180 voet (55 m), half schuilende achter prachtighe boomen, waaronder de welbekende vorst den eiken”. Een van die reuse-eikebome regs voor die ingang is nog deur goewerneur Simon van der Stel geplant.

Sedert dit ’n kweekskool geword het, sou daar aan die gebou ’n paar byvoegings en afwerkings kom. Met behoud van sy eie , is dit by behoeftes en die tye aangepas. Binne tien jaar moes dit vergroot word en is die hulp ingeroep van Carl Otto Hager, die argitek wat die Neo-Gotiese boukuns in ons land kom beoefen het.

In 1868 het hy die manjifieke Ou Drosdy vir die Kweekskool “onder doepeld verdieping” gebring – waardeur die gewel in die slag gebly het. In die dubbelverdieping-platdak is die fasade-indeling behou. ’n Driehoekige pediment, ’n gewilde motief toentertyd, verwelkom die student om die marmertrappies op te kom. En, die sierpleister-son met ’n anker van Hoop daarin, spreek hom aan: SOL JUSTITIAE ILLUSTRA NOS, “Son van Geregtigheid verlig ons”. Dan is hy in die voorportaal met sy teëls wat dateer uit die dae van die VOC. Aan die begin van die eeu is die gebou weer onder hande geneem, dié keer deur die argitek RM Robertson. Op 16 Mei 1905 kon professore en studente weer die gebou in gebruik neem. Die hoofgebou het heelwat bygekry. Die vensterrangskikking, die ingangsdeel met die groot deur en twee smal vensters, met daarnaas drie volledige vensters aan albei kante, hang saam met sy vroeëre rietdak- en gewelvoorkoms. Maar sy nuwe ontwerp, met rustiekwerk oor sy hele fasade, sy steil dakke met plat bokante en sy oeuils-de-boeuf-vensters – die sentrale een met dakbalustrade – het die voorkoms van ’n Paryse “tweede Empire”-woning van die jare 1860. Dit was in aansluiting by ’n groot deel van die Transvaalse Republiek-argitektuur van die eeuwisseling; die twee syvleuels is ook nou van ’n tweede vloer voorsien, met balkonne oor die stoepe van die grondvloer en afgewerk met Victoriaanse versiering, so tipies van ander geboue in Stellenbosch.

Toe die gebou andermaal in 1953 gerestoureer is, is die delikate traliewerk van die stoepe en balkonne vervang deur lomp en onooglike pilare en muurtjies.

In 1974 het die gebou sy huidige gestalte gekry toe na agter aangebou is. Die argitek Paul le Roux het gesorg dat dit argitektonies aansluit.

Die eerste twee professore was professor John Murray en professor NJ Hofmeyr. Albei se oortuiging was om die opleiding van predikante “onafhankelijk te maakte van Holland”.

Dat predikante nou op Suid-Afrikaanse bodem hul opleiding kon ontvang, het nie alleen godsdienstige betekenis gehad nie, maar kultureel was die stigting van die seminarium ’n belangrike gebeurtenis. Dit was een van die eerste tekens dat die Afrikaanse volk op kultuurgebied ’n keerpunt bereik het. Vroeg in die twintigste eeu het van die studente aan die Seminarium, onder meer Tobie Muller, NJ van der Merwe en BB Keet, hulle onderskei as taalstryders. Hulle was daarom oortuig dat die Afrikaner alleen onafhanklik sal wees as hy sy eie taal besit. In 1914 was Tobie Muller dan ook die predikant wat Afrikaans vir die eerste keer van die kansel gepreek het.

Met hierdie eerste inrigting vir hoër onderwys is die grondslag gelê vir die stigting van die ander toekomstige teologiese kweekskole, veral vir die drie Afrikaanse kerke. Opvallend is die feit dat slegs 10 jaar daarna, in 1869, die Gereformeerde kerk op Burgersdorp ’n teologiese skool opgerig het. In 1905 is dit oorgeplaas na die Universiteit van Potchefstroom, wat eweneens ’n universiteitstad sou word. Aan die Universiteit van Pretoria is vanaf 1917 ’n teologiese fakulteit vir die Ned. Hervormde Kerk van Afrika uitgebou, en in 1938 is ’n tweede afdeling (B) ingestel vir die Ned. Geref. Kerk. In 1980 is aan die Universiteit van Oranje-Vrystaat ’n derde fakulteit vir die Ned. Geref. Kerk begin.

Toe aan die bekende doktor AJ van der Merwe by die Drie-Eeufees gevra is wat hy as die belangrikste gebeurtenis van die vaderlandse geskiedenis beskou, het hy sonder meer geantwoord: “Die oprigting van die Teologiese Seminarium op Stellenbosch”.

Bron: Brown, E. 1989. Die Kweekskool. In Afrikanerbakens, FAK: Aucklandpark, pp. 38–39.