Krugerhuismuseum is in Kerkstraat, wes van Kerkplein

Krugerhuismuseum is in Kerkstraat, wes van Kerkplein

Die Krugerhuis in Pretoria is seker een van die bekendste geboue in Suid-Afrika. Sedert hierdie huis in 1934 as museum ingerig is, is dit al deur honderde duisende mense, onder wie baie oorsese reisigers, besoek.

Nadat president Kruger in 1863 tot Volksraadslid verkies is, het hy ’n aantal erwe in Kerkstraat gekoop. Aanvanklik het hy ’n huis oos, en later ’n huis wes van die huidige Krugerhuis laat bou. Die Kruger-gesin het in Julie 1884 in die huis ingetrek wat deur AH Nellmapius, ’n bekende sakeman, gebou is. Op 14 Augustus van dié jaar het die president sestig gaste, onder wie lede van die Volksraad, regters, hoofde van staatsdepartemente en predikante in sy “nuwe ampswoning” op ’n eetmaal onthaal.

Die Krugerhuis vertoon ’n mengsel van style. Die kroonlysgewels, die lys om die voordeur en die gepleisterde lyswerk kan as Laat-Renaissance en die voor- en agterstoepe as Oosters beskou word. Die huis is ’n langwerpige, eenvoudige en stewige gebou. Die vernaamste komponente daarvan is twee groot ontvangskamers aan die voorkant van die huis en vier slaapkamers. Die lang breë voorstoep het bekendheid verwerf vanweë die feit dat die president gereeld soggens op die stoep kom sit het. Hier het hy ook altyd besoekers ontvang.

Die president en mevrou Kruger het 15 jaar en 10 maande, dit wil sê, vanaf Julie 1884 tot Mei 1900 saam in die Krugerhuis gewoon. Hulle kinders – behalwe Tjaart, die jongste – was toe almal reeds getroud.

Op 29 Mei 1900, kort voor die inname van Pretoria deur Brittanje, het die President sy huis finaal verlaat. Sy eggenote het agtergebly tot haar dood in 1901. Familie, vriende en simpatiseerders het hom kom groet. Op dié dag was daar ook ’n seun, ene James F Smith, wat 29 000 handtekeninge van seuns uit Amerika saamgebring het.

Kort voor die President se dood in 1904 het meneer FC Eloff, skoonseun van die President, die Krugerhuis uit die boedel gekoop en dit op die naam van sy seuntjie, Dirk Postma Eloff, laat registreer. In sy afwesigheid is die huis sonder sy medewete as ’n losieshuis verhuur onder die naam “The Presidency”.

President Kruger is op 16 Desember 1904 in Pretoria begrawe. Die begrafnisdiens is op die op terrein, tussen die Krugerhuis en die Gereformeerde Kerk aan die oorkant van die straat, waargeneem. Vanaf April 1920 is die Krugerhuis aan die bond van Afrikaanse Moeders verhuur, sodat dit as kraaminrigting gebruik kon word. Enkele veranderinge is in die huis aangebring om dit as kraaminrigting te gebruik. Sedertdien kan talle Afrikaners spog dat hulle iewers tussen 1920 en 1932 in die Krugerhuis gebore is.

Intussen het stemme opgegaan dat die Krugerhuis as museum ingerig moet word. Momentum hiervoor is verkry met die verkryging van heelwat Kruger-aandenkings wat in 1922 uit die Dordrecht-versameling in Nederland in Pretoria aangekom het. ’n Deel daarvan is aanvanklik in die Ou Museum in Boomstraat uitgestal.

Die huis is op 10 Oktober 1934 luisterryk deur meneer Albert Kuit as museum geopen. Persone wat nou aan die President verbonde was, soos mevrou LJ Jacobz, kolonel HC Bredell, doktor A Heymans en mejuffrou J van Broekhuizen, het waardevolle skenkings van foto’s en persoonlike aandenkings gedoen. Op 6 April 1936 is die huis tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Enkele buitegebou is sedertdien in die agterplaas opgerig om voorsiening te maak vir die groot aantal Kruger-aandenkings, en ook vir ’n woonstel en ’n kantoor. In 1952 het die Suid-Afrikaanse Spoorweë die President se treinkoets aan die Krugerhuis geskenk en is dit agter in die tuin onder ’n afdak geplaas.

Die Krugerhuismuseum ressorteer onder die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum in Pretoria. Op 10 Oktober 1984 is die honderdjarige bestaan van die huis, en ook die vyftigjarige bestaan van die huis as museum, herdenk.

Die Krugerhuis bly ’n geliefde besoekplek van Afrikaners. Maar ook is dit ’n plek wat deur andertaliges, en veral buitelanders, besoek word om eer aan hierdie groot staatsman te betoon.

Bron: Cronjé, B. 1989. Die Krugerhuismuseum. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 190–191.