Die tuin voor die Ou Goewermentsgebou, wat tans die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) se Beeldetuin is, is uit eie reg ’n historiese gedenkwaardigheid. Hierdie unieke boomtuin oorspan ’n tydperk van honderd jaar en is ryk aan kultuurhistoriese inhoud.

Met die kwarteeu-feesviering van die Vrystaatse Republiek in 1879 het president JH Brand twee sipresbome voor die pasvoltooide regeringsgebou geplant, een namens homself en die tweede namens meneer Max Leviseur, ’n gesiene inwoner van Bloemfontein. Hiermee is hierdie geskiedkundige tuin begin.

Op 17 Desember 1890 het die eerste amptelike trein Bloemfontein binnegestoom en by hierdie geleentheid het die verteenwoordigers van die vier Suid-Afrikaanse state elk ’n boom in die tuin geplant. Hulle was president FW Reitz, lord Henry B Loch, sir Charles Mitchell en doktor WJ Leyds namens president Paul Kruger.

In Maart 1905 het ook lord Alfred Milner ’n boom in die tuin geplant. Ander belangrike persone het by verskillende geleenthede elk ook ’n boom geplant.

Die Beeldetuin is die droomkind van professor PJ Nienaber, gewese direkteur van die NALN. Die idee van so ’n beeldetuin het by hom ontstaan nadat hy soortgelyke tuine in die buiteland besoek het, onder meer Middelheim by Antwerpen.

Om hierdie droom te verwesenlik, moes die terrein waarop die Ou Goewermentsgebou staan, herbeplan word. Daar is grasperke en blombeddings tussen die ou historiese bome aangelê, sodat die atmosfeer van ’n rustige tuin hier, aan die bopunt van die besige Maitlandstraat agter die standbeeld van president Brand, geskep is.

CJ Langenhoven

CJ Langenhoven

Voordat daar met die beplanning van die tuin begin is, was die NALN reeds in besit van ’n hele aantal beelde van skrywers, digters, komponiste en toneelkunstenaars. Nadat die tuin in 1978 voltooi is, is die beelde op voetstukke onder die bome opgerig. Metaalnaamplaatjies met die naam van die beeld, die beeldhouer en skenker daarop, is op die beelde aangebring.

Die idee van die Beeldetuin is dat die museumbesoeker op pad na die Museum reeds in die tuin by sommige van die kunstenaars se beelde kan stilstaan en nader kennis maak. Op hierdie wyse word die historiese boomtuin by die Museum ingeskakel.

Op 1 Maart 1978 is ’n borsbeeld van AG Visser deur beeldhouer Daniella Geldenhuys op die ereplek voor die hoofingang in die middel van die tuin onthul ter herdenking van Visser se honderdste verjaardag. Hierdie ereposisie is mettertyd aan ander beelde afgestaan.

AG Visser_klein

AG Visser

Op 23 Februarie 1979 het die Administrateur, meneer AC van Wyk, die Beeldetuin amptelik geopen. Die Beeldetuin is met spreiligte in ’n sprokieswêreld omskep en ’n uitvoering van volksang en volkspele op die grasperk voor die Ou Goewermentsgebou het ’n feestelike karakter aan die inwyding verleen.

Met die inwydingsplegtigheid het meneer Van Wyk ’n olienhoutboom by die ingang van die Beeldetuin geplant, presies honderd jaar nadat president Brand die eerste boom geplant het. In sy inwydingsrede het meneer Van Wyk onder meer gesê dat die Beeldetuin uniek is, en dat dit ’n plek is wat deur die hele volk gewaardeer sal word.

Aanvanklik het die Beeldetuin net twaalf beelde gehad. Al die beelde is van brons en die meeste is borsbeelde. Net dié van CJ Langenhoven deur R Meyerowitz en dié van generaal JBM Hertzog deur Daniella Geldenhuys in die nisse by die ingang van die gebou is miniatuur-vollengte-beelde.

C Louis Leipoldt

C Louis Leipoldt

In 1980, met die NALN se groot Leipoldt-fees ter herdenking van C Louis Leipoldt se honderdste verjaardag, is ’n borsbeeld van Leipoldt op die ereplek voor die Museum onthul. Die Leipoldt-beeld, gemaak deur Daniella Geldenhuys, is deur Volkskas-bank aan die NALN geskenk. In 1981 is die Leipoldt-beeld na ’n ander staanplek in die tuin verskuif en het die beeld van DF Malherbe die ereplek ingeneem.

JBM Hertzog klein

JBM Hertzog

Die beelde vorm net so ’n deel van die tuin as die bome, die struike en die blomme. In die vrye natuur kom die beelde tot lewe, in die opelug kry hulle ryper betekenis: Generaal Hertzog, skepper van die Hertzogprys, staan ferm en beslis. DF Malherbe kyk fier na vore – tot daar ver in Maitlandstraat. Om Langenhoven se mond speel daar ’n ondeunde glimlag, en Uys Krige is aan die gesels.

In Augustus 1979 is die beeld van doktor JD Kestell, wat deur die komponis Stephen Eyssen aan die NALN geskenk is, van sy voetstuk afgebreek en verwyder. Die beeld is op Saterdagoggend, 6 Oktober 1979, in ’n beskadigde toestand teruggevind waar dit, vermoedelik gedurende die nag, op die grasperk naby aan die  Beeldetuin teruggeplaas is.

Uys Krige

Uys Krige

Ander beelde in die tuin is dié van PJ Schoeman, SJ du Toit, Mikro, SH Pellissier en Anna Neethling-Pohl. Sommige van die beelde is deur verskillende instansies en persone aan die NALN geskenk, terwyl ander deur die Vrystaatse Provinsiale Administrasie vir die NALN aangekoop is.

Die Beeldetuin verleen luister aan die NALN en dien om besoekers te lok, want die tuin is die inleiding tot die NALN, die bekendstelling van daardie kultuurskatte van die Afrikaner wat in die Ou Goewermentsgebou bewaar en uitgestal is.

Bron: NALN. 1989. Die beeldetuin van die NALN. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 114–116.