CR de Wet

Christiaan de Wet-standbeeld, in die noordwestelike hoek van die ou Raadsaal-terrein op die hoek van President Brand- en Charlesstraat, Bloemfontein

Op 7 Oktober 1854 is hy in die distrik Smithfield gebore – Christiaan Rudolph de Wet: boer, volksraadslid, kabinetminister, waarnemende staatspresident, Boeregeneraal, rebellieleier, patriot en Afrikanervolksman! Hy was ’n volksleier met onwrikbare geloof in die almag van God, maar ook ’n weergalose geloof in die bestaansreg van sy volk. Na ’n vol lewe van volksdiens veral op militêre en staatsterrein het hy op 3 Februarie 1922 gesterf.

Uit ’n spontane drang om hulde te bring aan die groot krygsman en volksleier, is die gedagte gebore om ’n waardige standbeeld op te rig. Op 20 Desember 1929 is ’n vergadering in Bloemfontein belê, waar eenparig besluit is om ’n bronsstandbeeld te laat oprig van generaal De Wet in tipiese oorlogshouding, op sy perd Fleur, sambok in die hand. Die Generaal Christiaan de Wet-gedenkfonds is in die lewe geroep met die mikpunt om £12 000 (±R24 000) in te samel. By die geleentheid is Anton van Wouw, wat ’n vurige begeerte gekoester het om ’n ruiterbeeld van De Wet te maak, as die beeldhouer aangewys.

Die fondsinsameling het egter vanweë verskeie faktore nie na wens gevorder nie. Moeilike depressiejare, die groot droogte, wêreldoorlog en voorkeur aan die Voortrekkermonumentfonds het daartoe bygedra dat die jare 1950 aangebreek het met generaal De Wet se honderdste verjaardag in sig, sonder dat die beoogde mikpunt van die fonds bereik is. Die komitee het egter besluit dat die standbeeld op 7 Oktober 1954 onthul moet word. Anton van Wouw is intussen oorlede en die opdrag om die beeld te skep, is aan Coert Steynberg gegee.

Vanweë die beperkte tyd, het die hele onderneming ’n wedloop met die tyd geword. Van die beeldhouer het dit ’n bykans bomenslike poging vereis. Nader aan die sperdatum het die geesdrif vir die projek sodanig opgevlam dat daar na die voltooiing van die beeld ’n aansienlike restant beskikbaar was wat vir ander doeleindes aangewend kon word: onder meer die uitgee van die Christiaan de Wet-annale, onder beskerming van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Coert Steynberg se skepping word allerweë as een van die aangrypendste ruiterbeelde ter wêreld beskou.

Die bronsstandbeeld, wat deur Renzo Vignali gegiet is, is op 7 Oktober 1954 onthul. Die onthullingsprogram het oor ses dae gestrek met die hoogtepunt op 7 Oktober toe die eenmalige minister NC Havenga die huldigingsrede gehou het. Daarna het meneer Izak de Wet, enigste oorlewende seun van generaal De Wet, die sierlike ruiterbeeld onthul.

Die gedagte was om aan weerskante van die voetstuk van sandsteen reliëfpanele aan te bring wat generaal De Wet se briljante knypstrategie by Sannaspos en Rooiwal moes uitbeeld. Uiteindelik is wyslik geoordeel dat die beeld self en die inskripsie in sy eenvoud, Christiaan Rudolph de Wet 1854–1922, niks meer vra om die boodskap van “hierdie pure man” uit te dra aan diegene wat in wyding en bewondering daarby stilstaan nie.

Die rustelose perd met sy fiere, kalme ruiter, met sy waarskuwende sambok na die noorde gerig, staan daar as simbool van die vryheidsideaal wat in die hart van die Afrikanervolk voortleef.

Die borsbeeld in die Oorlogsmuseum

Die borsbeeld in die Oorlogsmuseum

Anton van Wouw het in die jare toe hy ongeduldig op ’n besliste opdrag om die ruiterbeeld te maak gewag het uiting gegee aan die hunkerende begeerte om van generaal De Wet ’n beeld te maak. Hy het die borsbeeld van drie maal lewensgrootte op eie koste in brons laat giet. Hierdie kop – amper wreed in sy uitdrukking van vasberadenheid – het as onderskrif, Onwrikbaar als een rots. Van Wouw  se kunsopvatting tree met die beeld sterk na vore: monumentaliteit, realisme, liefde en bewondering vir die voorwerp.

Na sy dood het die Nasionale Vrouemonumentkomitee die beeld en die gipsmodel teen £500 (R1000) uit die boedel gekoop. Die beeld pryk tans in die Oorlogsmuseum in Bloemfontein.

Ander borsbeelde van die beroemde Afrikanerleier is dié van Fanie Eloff wat in die Museum in Pretoria gehuisves word, en die beeld van Moses Kottler.

’n Studentemusiekgroep van die Universiteit van Stellenbosch het tydens ’n toer deur die land ook by generaal De Wet op sy plaas Klipfontein buite Dewetsdorp besoek afgelê. Hulle is so beïndruk deur die generaal se magtige persoonlikheid, stoere voorkoms, blitsende oë en vurige Afrikaner-idealisme dat hulle besluit het om generaal De Wet “vir Stellenbosch in brons te verewig”. Opdrag is aan Moses Kottler gegee waarvoor hy £300 (R600) gevra het. Die beeld is na generaal De Wet se dood voltooi en in Londen in brons gegiet. In Junie 1923 is die beeld aan die toenmalige rektor van die Universiteit van Stellenbosch oorhandig. Dit staan tans in die voorportaal van die Carnegie-Biblioteek van dié universiteit. Op versoek van dominee JD Kestell het Kottler ’n duplikaat vir die Universiteit van die Oranje-Vrystaat gemaak. Aanvanklik het dit in die Nasionale Museum in Bloemfontein gestaan, maar dit is op 7 Oktober 1954 aan dié Universiteit terugbesorg.

In Nederland, op ’n eensame heideveld in die ontsaglike wydte van die “Otterlose Zand” staan ’n De Wet-beeld geskep deur die bekende Nederlandse beeldhouer Joseph Mendes da Costa.

Bron: Van Schoor, M.C.E. 1989. C.R. de Wet. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 97–99.