Koos de la Rey-standbeeld

Op die plein reg voor die Lichtenburgse Stadhuis in Gerrit Maritzstraat

Voor die stadhuis op Lichtenburg in Wes-Transvaal, op ’n kleurryke blombegroeide plein staan die standbeeld van een van die grootste krygsmanne en veldhere wat Suid-Afrika nog opgelewer het – wie se naam in die krygsgeskiedenis van Suid-Afrika en die wêreld hoog aangeskrewe staan, die leeu van Wes-Transvaal: generaal Jacobus Hercules de la Rey!

Die Generaal De la Rey-standbeeldkomitee is op 25 Mei 1957 in Potchefstroom gestig. Die komitee het op ’n ruiterbeeld twee maal lewensgrootte besluit. Sodoende sou generaal De la Rey voorgestel word as die beroemde ruitergeneraal wat hy was, op sy getroue ryperd Bokkie. In die guerillafase van die Anglo-Boereoorlog het hy in Wes-Transvaal met sy stormjaagtaktiek die Britse magte groot verliese toegedien. In plaas daarvan dat die burgers van hulle perde afgeklim en posisies ingeneem het om te skiet, het hy die kuns verfyn dat hulle te perd storm en uit die saal skiet.

Die beeldhouer was Hennie Potgieter, ’n oudleerling van die Lichtenburgse Hoërskool. Die voltooide bronsbeeld het ’n massa van ongeveer 3 ton (sowat 3,3 metrieke ton), staan 4, 88 m hoog en is op die plein reg voor die stadhuis by ’n dammetjie op ’n voetstuk van groot, ruwe klippe opgerig. Hennie Potgieter verduidelik: “Ek wou dat ruiter en perd een wees in hul waaksaamheid teen gevare; vandaar dat die perd wegsteier voor die afgrond. Hoewel beeldhouers dikwels groot beelde groter na bo maak, glo ek nie daarin nie. Ek hou op konstante groottes van so ’n beeld van perd se hoef tot man se hoed. Dit maak dat my beeld groter as sy twee maal lewensgrootte lyk.”

Die Generaal dra ’n rybroek wat onder die knieë in hoë rygstewels ingesteek is, spore, ’n hemp, baadjie en onderbaadjie en ’n breërandhoed. In ’n X-vorm oor sy bors hang sy rewolwergordel met rewolwer op die linkerheup en verkykertas op die regterheup. In sy regterhand hou hy sy sambok, terwyl ’n kombers voor sy saal opgerol is. Dit stem ooreen met die Generaal se kleredrag gedurende die oorlog.

Die tweedaagse feesprogram van 26 en 27 Februarie 1965 het op die 27e ’n hoogtepunt bereik met die onthullingsplegtigheid om saam te val met die herdenking van die Slag by Majuba op 27Februarie 1881 in die Eerste Vryheidsoorlog. Meer as 6000 mense was teenwoordig. Onder hulle was die vier oorlewende kinders van generaal De la Rey, naamlik mevrou Pollie de la Rey-Morkel, mevrou JE Meintjes en mevrou WC Bouwer, en meneer Jan de la Rey.

In sy huldigingsrede het staatspresident, CR Swart, wat beskermheer van die Komitee was, ’n wekroep om eensgesindheid, met onverdeelde trou aan die Republiek van Suid-Afrika laat opklink. Hy het gesê die name en prestasies van die helde sal bly voortleef, maar baie waardevoller en dieper is die ideaal wat hulle nagestreef het, naamlik vryheid en Republikeinse onafhanklikheid.

Daarna het die Staatspresident die landsvlae weggeskuif en die ruiterstandbeeld onthul. Aandoenlike tonele het hulle afgespeel toe grysaards wat onder generaal De la Rey geveg het, openlik gehuil het. Baie van hulle het mekaar 63 jaar tevore laas as jong mans gesien. “Die beeld lyk presies soos ons ou generaal” het van hulle gesê.

Jacobus Hercules de la Rey is op 22 Oktober 1847 in die distrik Winburg gebore. Na die Slag by Boomplaats in 1848 verhuis die gesin De la Rey na Wes-Transvaal. Vroeg in sy lewe openbaar De la Rey militêre leierseienskappe, wat in die Anglo-Boereoorlog tot volle ontplooiing kom. Van 1893 af het hy Lichtenburg in die Volksraad gedien.

Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, sien De la Rey nie kans om hom met sy leier, generaal Louis Botha, se sienswyse te vereenselwig nie. Op 15 September 1914, die dag toe generaal CF Beyers uit die Unie-Verdedigingsmag bedank het, het hy en De la Rey per motor na Potchefstroom gereis om generaal Kemp te ontmoet. Generaal De la Rey bereik egter nooit sy bestemming nie, want by Langlaagte word hy deur polisie, wat op soek was na die bendeleier William Foster, per abuis doodgeskiet.

By sy begrafnis het generaal CR de Wet na hom verwys as “een van die dapperstes van dapperes, een van die getroustes onder die getroues”.

Bron: Pretorius, F. 1989. J.H. de la Rey. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 158–159.