Foto 16 (2)

Gatsrand is ongeveer 43 km vanaf Potchefstroom op die hoofpad tussen Potchefstroom en Johannesburg geleë

’n Indrukwekkende gedenknaald op Theronskop aan die Gatsrand gedenk die onverskrokke dade van die baasverkenner van die Anglo-Boereoorlog, Danie Theron. Die monument staan ongeveer 50 m vanaf die plek waar hy op 5 Oktober 1900 gesneuwel het. Hy is op 9 Mei 1872 op Tulbagh gebore.

Die gedagte aan die oprigting van ’n monument vir Danie Theron het reeds in 1935 by doktor JJ van Tonder, destydse hoof van die Laerskool Danie Theron ontstaan.

Voortrekkeroffisiere van die Danie Theron-veldkornetskappe hete op 16 Augustus 1941 die Danie Theron-monumentkomitee, onder voorsitterskap van doktor Van Tonder, gestig. Die projek is op 16 Mei 1942 deur die Voortrekkerbeweging oorgeneem, hoewel die bestaande komitee behou is met toevoeging van offisiere van die Transvaalse Dagbestuur en die Uniale Uitvoerende Bestuur. Die landswye fondsinsamelingsveldtog het £1250 (R2500) opgelewer, terwyl die terrein van ongeveer een hektaar deur die broers Basjan en Manie Wolvaardt, van die plaas Elandsfontein, geskenk is.

Die komitee het die ontwerp van meneer Coenraad Hillebrands, argitek van Krugersdorp, vir die monument aanvaar. Die bouaannemers, L Fokkens (Edms) Beperk, van Krugersdorp, het op 7 Augustus 1950 met die bouwerk begin. Die werk is teen kosprys onderneem, sodat die totale koste slegs £1232 (R2464) beloop het.

Mevrou M Knightley, suster, en mevrou L Murray, ’n nasaat, het die monument op 9 September 1950, presies 50 jaar en vier dae na Danie Theron se dood, onthul.

Op 5 September 1900 het Danie Theron alleen met ’n groep verkenners van generaal-majoor F Hart se aanrukkende kolonne gebots. Om die indruk te wek dat die hele Boerekommando die rant beset het, het Theron met sy vuur volgehou. Nadat hy drie Britte gedood en vier gewond het, is hy noodlottig deur ’n liddiet-granaat getref.

Die onthulling het op Saterdag 9 September 1950 plaasgevind. Bykans 1000 Voortrekkers en honderde belangstellendes, onder wie oud-strydmakkers van Danie Theron, het die plegtigheid bygewoon. Die herontmoeting van Theron se Verkennerskorps (TVK) het vir onvergeetlike oomblikke gesorg.

In die feesrede het doktor TE Dönges, minister van Binnelandse Sake, gesê sowel Engels- as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners kan hulde bring aan Danie Theron, wat in sy kort, avontuurlike lewe die eienskappe geopenbaar het wat nodig is vir die bou van ’n nasie. “Vandag nog het ons Danie Theron nodig. Die aard van die stryd kan anders wees, maar die eenvoudige fundamentele deugde – trou, moed, diens en beslistheid – het nie hul krag of waarde verloor nie,” het hy verklaar.

Die monument bestaan uit ’n 19,96 m hoë reghoekige betonsuil met ’n omtrek van 1,37 x 0,76 m. Vas daarteen staan ’n betonkolom, vier-blaar-klawervormig bo-aan, is ingedeel in 50 betonsegmente, elk bykans 360 mm hoog. ’n Sierlike kopervlam wat aan die bopunt van die betonkolom begin, tot bo-op die suil krul en dan 4,88 m verder die lug introon, rond die gedenknaald af. Dit bring die totale hoogte van die struktuur op 24,84 m te staan.

Simbolies is die bouwerk ’n getroue weergawe van die eenvoud, krag, idealisme en vryheidsin van Danie Theron. Die suil is stewig in Afrikaanse bodem veranker en stel sy beginsels en standvastige karakter voor. Die kolom met 50 segmente stel 50 jaarringe voor – simbolies van die 50 jaar wat verloop het tussen sy dood en die onthulling van die monument. Die derde element – die vlam – is simbolies van die vryheidsvlam wat in die siel van Danie Theron gebrand het. Op die onthullingsdag het die kopervlam rooi in die helder sonlig geskitter.

Die sierhekke wat toegang tot die pad na die monument verleen, is deur meneer D Hunter, van Boksburg, vervaardig. Die ingebruikneming daarvan op 4 September 1954 het saamgeval met die onthulling van ’n brons-gedenkplaat op die plek waar Danie Theron gesneuwel het. Sedertdien het vandale die gedenkplaat verniel en die laaste oorblywende lootjie van die boom waaronder Theron gesterf het, onherstelbaar beskadig. ’n Heronthulling van die nou verchroomde gedenkplaat het op 11 Augustus 1984 op inisiatief van meneer Piet Venter, Voortrekker-streekleier van Vanderbijlpark, plaasgevind.

Aan die voet van die gedenknaald is ’n gedenksteen met die woorde Ons gedenk – Regiment Danie Theron – 17.7.1955 deur erekolonel Izak Meyer en kommandant N Badenhorst van dié nuutgestigte eenheid onthul. Op 17 September 1966 het die Voortrekkers ‘n gedenkplaat met besonderhede oor die Danie Theron-monument op die terrein aangebring. (Die spelfout “vreiheid” daarop is opvallend!).

Gereelde byeenkomste, soos die tweejaarlikse saamtrekke van die Voortrekkerkommando’s van Suid-, Sentraal- en Wes-Transvaal, vind by die monument plaas. Ingevolge ‘n ooreenkoms met die Hoofbestuur in 1981 is die besit van en verantwoordelikheid vir die terrein aan die Transvaalse Voortrekkers oorgedra.

Danie Theron-krygskool, Kimberley

Danie Theron-krygskool, Kimberley

Op Kimberley, naby die hoofkwartier van die Danie Theron-krygskool, tussen gras, klippe en aalwyne, op Die Koppie, staan die twee keer lewensgrootte bronsbeeld van Danie Theron. Dit stel Danie Theron in die tipiese verkennershouding voor – hurkend met die regterknie op die grond, die oë stip voor hom uit, en die geweer voor die lyf soos vir ’n regse skut, en die loop met ’n hoek van meer as 45° na bo. Hy dra hoë rystewels, ’n broek, baadjie en hemp, ’n bandelier oor die linkerskouer, ’n verkykertas op die regterheup en ’n hoed waarvan die rant na regs opslaan.

Simbolies doen die standbeeld ’n beroep op die duisende van die krygskool wat nog daar sal verbygaan, dat die heldemoed, leiersvermoë en offervaardigheid van Danie Theron ’n blywende besieling sal wees ter wille van die vryheid.

Met die tweejarige herdenking van die bestaan van die Danie Theron-krygskool op 1 November 1969, het die toenmalige minister van Verdediging, meneer PW Botha, die standbeeld onthul. Die beeldhouer was Charl Engela, van Pretoria. Die beeld is in brons gegiet en vyf en twintig kleiner replikas is vervaardig, wat as eretoekennings deur die krygskool uitgereik word.

Bron: Pretorius, F. 1989. Danie Theron. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 146–149.