Langs die Boeresaal in Cherrylaan, hoofstraat van Makwassie

Langs die Boeresaal in Cherrylaan, hoofstraat van Makwassie

Christiaan Frederik Beyers is op 23 September 1869 in die distrik Stellenbosch gebore. In 1888 verhuis hy na Pretoria, waar hy hom as prokureur bekwaam. Tydens die Jameson-inval (1896) bied Beyers aan om kommandodiens te verrig en ontvang daarom in 1897 volle burgerskap van die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 vertrek Beyers na die Natalse front. Sy sterk persoonlikheid, onverskrokkenheid en sin vir dissipline het weldra die aandag van kommandant-generaal Louis Botha getrek en op 4 September 1900 word hy tot assistent-kommandant-generaal vir die distrikte Waterberg en Soutpansberg benoem – ’n aanstelling wat hy tot Mei 1902 behou het.

Na die toekenning van selfbestuur aan Transvaal in 1907 word generaal Beyers agtereenvolgens tot lid van die Wetgewende Vergadering en Speaker verkies. Met die Uniewording in 1910 word hy lid van die Volksraad vir Pretoria-Suid. Hy bedank egter uit sy setel in Julie 1912 om die kommandant-generaalskap van die pasgestigte Aktiewe Burgermag te aanvaar.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Augustus 1914 besluit die regering om aan Brittanje se versoek te voldoen en Duits-Suidwes-Afrika te verower. Generaal Beyers was nie ten gunste hiervan nie. Hy bedank gevolglik op 15 September 1914 as kommandant-generaal en hoewel hy nie in daardie stadium openlik gerebelleer het nie, word hy tog geleidelik in ’n leiersrol by die Rebellie betrek.

Na etlike mislukte aanvalle op sy klein kommando, slaag die regeringsmagte daarin om op 8 Desember 1914 vir Beyers met 23 man op die Vrystaatse oewer van die Vaalrivier, sowat 40 km suid van Makwassie, vas te keer. Hy probeer om die vol rivier te perd oor te steek, maar sterf aan hartversaking voordat hy die oorkantste oewer kon bereik.

Toestemming is deur die familie van die regering gevra dat generaal Beyers in Pretoria begrawe word maar generaal JC Smuts het gelas dat hy plaaslik begrawe word. Die dorpsbestuur van Makwassie wou egter nie toelaat dat ’n rebel in hul begraafplaas ter ruste gelê word nie. Meneer JC van Zyl, van die plaas Oersonskraal, digby Makwassie, is ten einde raad genader en hy het toegestem dat Beyers daar begrawe word. Later is die plaas se naam in Beyersrus verander.

Dit is gepas dat dit juis die Beyersrus-Geloftekomitee was wat, in oorleg met die Suid-Afrikaanse Jukskeiraad, in 1982 die inisiatief geneem het om ’n standbeeld ter herinnering aan generaal Beyers in Makwassie op te rig. Vir dié doel is die Beyers-monument-Aksiekomitee gevorm uit verteenwoordigers van die Beyersrus-Geloftefeeskomitee, die Rapportryerskorpse van Wolmaransstad en Leeudoringstad, die Junior Rapportryerkorps van Wolmaransstad en ook die Wes-Transvaalse Jukskeibond. Die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag, generaal CL Viljoen, het ingewillig om as beskermheer op te tree, terwyl menere BC Greyling en ISWB van Zyl, van Makwassie, onderskeidelik as voorsitter en sekretaris gedien het.

Die opdrag vir die ontwerp en vervaardiging van die standbeeld is aan ’n beeldhouer van Pretoria, Phil Minnaar, gegee. Die oprigtingskoste is op R20 000 beraam, waarvan die standbeeld self R13 000 bedra het. Aangesien dit die eerste standbeeld van generaal Beyers sou wees, het die komitee landwyd fondse ingesamel en probeer om alle kultuurorganisasies, opvoedkundige inrigtings en lede van die publiek wat die ideaal verwesenlik wou sien, te betrek. Die beeldhouer het verder vyftien genommerde bronsgietsels van die maket vervaardig, wat teen R500 elk verkoop is waarvan R200 in die fonds gestort is.

Die standbeeld is ’n lewensgrootte afbeelding van generaal Beyers in brons en is 1,78 m hoog. Die voetstuk is van sandsteen en is 1,05 m x 1, 05 m x 850 mm hoog. Dit staan op ’n sandsteenbasis van 3,04 m in die vierkant, met ’n plaveisel van gesnyde leiklipteëls daaromheen.

Die beeld maak ’n rustige indruk. Dit toon generaal Beyers in die gemaklike staande houding, sonder hoofdeksel en geklee in ferweelbroek en -baadjie met rystewels waarin hy dikwels gefotografeer is. Hy dra ’n mauserpistoolsak en ’n verkykertas wat aan die bande oorkruis om die nek hang en onder eie arms pas. Die regterhand rus op die heup en hou die hoed vas, terwyl die linkerhand lands die sy afhang.

Op die voetstuk aan die voorkant van die standbeeld is ’n bronsplaat aangebring met die woorde:

Generaal Christiaan Frederik Beyers
getrou tot die dood.
(23 September 1869 – 8 Desember 1914).

Die standbeeld is op 23 September 1983 deur generaal CL Viljoen onthul. In sy toespraak het generaal Viljoen gesê dat generaal Beyers altyd die volksaak bo sy persoonlike belang gestel het; dat hoewel dapperheid ’n persoonlike kenmerk van hom was, hy altyd om vrede gebid het en selfs nie sy vyande in die gebed vergeet het nie. Ten slotte het generaal Viljoen die wens uitgespreek dat die standbeeld die lewende boodskap aan Suid-Afrika sal uitdra: “… wees dapper, wees patrioties-lojaal en wees verantwoordelik gematig soos die Christen-kryger generaal Christiaan Frederik Beyers”.

Bron: Kotzé, JS. 1989. C.F. Beyers. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 156–157.