Op die gedenkplein in Bethal

Op die gedenkplein in Bethal

Daar bestaan in Suid-Afrika ’n aantal klein gedenktekens ter ere van Boerekrygers wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het. Die oudste hiervan is ’n klipstapel wat reeds in 1899 opgerig is, en die jongste die gedenkteken wat in 1974 op Bethal onthul is. Daarmee word die duisende onbekende burgers wat in dié ongelyke stryd gesterf het, in herinnering geroep. Dit vorm dus saam met die Vrouemonument, Konsentrasiekampgedenktekens en individuele standbeelde en monumente vir Boereleiers en veldslae ’n besondere eenheid. Volgens Britse skatting was daar 7000 sterfgevalle onder die burgers, wat buitelandse en koloniale vrywilligers insluit.

Die eerste gedenkteken is ’n klipstapel wat deur die burgers self op die terrein van die Stormbergslagveld (Saterdag 9 Desember 1899) naby Burgersdorp opgerig is. In dié veldslag het tussen 400 en 500 burgers die Britse mag van generaal Gatacre, wat met 3000 man en 14 kanonne van Oos-Londen na die Vrystaat onderweg was, aangeval. Van die Britse soldate het 26 gesneuwel, 70 gewond en 632 krygsgevangene geneem. Aan die burgers se kant is 6 gedood en 27 gewond. Ná die oorwinning is die gesneuwelde burgers in ’n graf begrawe en is ’n klipstapel daar opgerig. Die volgende dag, Sondag 10 Desember 1899, is ’n dankdiens gehou. ’n Eenvoudige grafskrif MET GOD VOOR VRYHEID en die name van die ses burgers is op die klipstapel aangebring.

In 1908 is die stoflike oorskot van dié burgers opgegrawe en in die plaaslike kerkhof herbegrawe. ’n Monumentgrafsteen is op 10 Januarie 1908 op ’n groot byeenkoms waar generaal CF Beyers die rede gevoer het deur generaal Koos de la Rey onthul.

Op die Burgerplein

Op die Burgerplein

In 1933 is ’n gedenknaald, uit Burgersdorpse sandsteen gekap, op die Burgerplein in Burgersdorp opgerig om ook die gebeurtenis in herinnering te roep. Die naald is deur LJ Nel van Aliwal-Noord opgerig en dra die volgende inskripsie:

Burger-Gedenknaald
opgerig
31 Mei 1933
deur die Munisipaliteit en Afrikaanse Kultuurvereniging
Burgersdorp K.P.

Vermoedelik het die naald deel van ’n vroeëre gedenkteken gevorm wat in Jubilee Park, waar die Nederduitse Gereformeerde Kerk vandag staan, opgerig is.

Voor die Stadhuis

Voor die Stadhuis

Op Ermelo is ’n Burgermonument opgerig ter nagedagtenis van die 72 burgers van dié distrik wat in die Anglo-Boereoorlog gesneuwel het. Die onthulling van die ruiterbeeld het op 31 Mei 1935 plaasgevind. Die besonderhede oor die beeldhouer en argitek en die koste van die monument is onbekend. Meneer S Alkema het dit op die terrein van die stadhuis op Ermelo opgerig. Die onthulling is deur generaal JC Smuts in sy hoedanigheid van Waarnemende Eerste Minister gedoen. Die plegtigheid is deur meer as 5000 mense bygewoon.

In die Deborah Retief-tuin regoor die Stadhuis

In die Deborah Retief-tuin regoor die Stadhuis

Die Burgermonument op Harrismith bestaan uit ’n burgerfiguur op brandwag en is op ’n granietvoetstuk geplaas. Groot Gert de Jager het vir die onbekende Italiaanse beeldhouer as model gedien. Kolonel Piet du Plessis, kommandant van Harrismith-kommando, het die inisiatief vir die oprigting van die monument geneem in samewerking met kommandant Jannie Jacobs en generaal Wessel Wessels. Die totale koste was R1800 (£900) en die boukontrakteur was die firma Gelraeders Crankshaw. Tydens die besoek van die Voortrekkerwaens aan Harrismith op Dinsdag 8 November 1938 is die onthulling deur generaal Wessel Wessels en die Administrateur van die Vrystaat, kolonel JFJ (Hans) van Rensburg, waargeneem. Die monument staan in die Deborah Retief-tuin regoor die stadhuis.

Soetwater, langs die pad tussen Nieuwoudtville en Calvinia

Soetwater, langs die pad tussen Nieuwoudtville en Calvinia

Op die plaas Toekoms, 35 kilometer van Nieuwoudtville, suid van die teerpad tussen Nieuwoudtville en Calvinia, in ’n omgewing wat algemeen bekend is as Soetwater, staan ’n gedenkteken wat streng gesproke nie ’n burgermonument is nie. Dit het egter ’n besondere verband met die gebeure van die  Anglo-Boereoorlog. Op ’n betonvoetstuk is ’n figuur van ’n burger, uit 10 mm ysterplaat gesny, gemonteer. In sy regterhand hou hy ’n pen en in sy linkerhand ’n geweer wat afwaarts gerig is. Voor die gedenkteken is ’n vertoonkas met ’n Mauser en ’n bandelier. Op ’n geelkoperplaat is die volgende inskripsie aangebring:

Die laaste wapenneerlegging van die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902 het in hierdie omgewing langs die Oorlogskloofrivier plaasgevind. Sedertdien het die geweer geswyg, maar met die pen is daar verder vir ons Republiek geveg. Hierdie gedenkteken is op Saterdag 30.3.1968 deur Sy Edele adv. B.J. Vorster, Eerste Minister van die Republiek van Suid-Afrika, onthul.

Die gedenkteken is deur ’n mejuffrou Kriegler, toe kunsonderwyseres aan die Hoërskool Calvinia, ontwerp. Die beeld is deur meneer André Vlok van Calvinia uitgesny en ook deur hom opgerig. Die totale koste het R350 beloop. ’n Groot aantal organisasies, onder andere die Rapportryerskorps van Calvinia-distrik en die Nasionale Party-takke, het ’n aandeel in die oprigting gehad.

Die omhoogreikende granietsuile van Bethal se Burgergrafgedenkteken is oor ’n grafkelder opgerig waarin nagenoeg 100 burgers wat in die Anglo-Boereoorlog en in die Rebellie van 1914 gesneuwel het, begrawe is. Die gedenkteken is deur die voormalige Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte teen ’n totale koste van R25 225 opgerig. Die argitekte was Bosman en Smal van Pretoria, die kontrakteur TC Lamb en die granietwerk is deur die firma Sinclair-Bolt van Pretoria onderneem.

Op 22 November 1974 het die Eerste Minister advokaat BJ Vorster die gedenkteken onthul. Die inskripsie op die gedenkplaat lui:

Ons gedenk en eer ons helde, heldinne en kinders wat gestry, gely, gesneuwel en gesterwe het op die slagvelde, in konsentrasiekampe, in ballingskap en elders vir ons vryheidsideaal.

Bron: Kapp, P.H. 1989. Burgergedenktekens. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 259–261.