Platrand klein

Op die plaas Fourieskraal 5 km suidwes van Ladysmith

Op die Platrand van waar die oog neerkyk op Ladysmith en omstreke, staan die imposantste Burgermonument in Natal. Dis opgerig ter nagedagtenis van die 781 burgers van die ZAR en OVS wat hulle lewe in Natal in die Vryheidstryd (1899-1902) verloor het. Die Platrand is deel van die plaas Fourieskraal, toneel van die bloedige slag op 6 Januarie 1900. Die bergrug van sowat 5 km lank en ongeveer 200 m hoog is deur meneer MJW (Oom Thys) en mevrou Jacobsz vir die oprigting van hierdie besondere monument geskenk.

Die Burgermonument beslaan ’n geplaveide gebied van ongeveer 600 vierkante meter en huisves ’n grafkelder met die beendere van 310 burgers, afkomstig van die verskillende Natalse slagvelde, wat daar herbegrawe is. Waar grafstene die burgergrafte versier het, is die grafstene teen die muur van die grafkelder vasgemessel. Op die plaveisel staan sewe betonsuile in die vorm van oop opgehewe hande. Elke hand is gerig op ’n slagveld wat die besoeker aan die gedenkteken vanaf die Platrand in die verskiet kan sien. In die suile, beklee met terrazzo-afwerking, is op rooi graniet die name van die Boere gegraveer wat in die betrokke veldslae soos deur die hande gesimboliseer, gesneuwel het. Tussen die twee langste suile is ’n kaart van die omgewing, met ’n deursnee van 1220 cm. Die langste van hierdie suile is 9 m hoog. Die hande verbeeld die gestorwenes se stoerheid en onverskrokkenheid, en ook angs, lyding en smart. Die hande omsluit die dooies beskermend soos in ’n laer en reik vol geloof na Bo.

Op ’n tablet by die parkeerplek het die digter Ernst van Heerden die simboliek soos volg vasgevat:

Deur hierdie hande het ’n groter Hand
gestorte bloed so mildelik gesproei
dat vingertoppe oor die heuwelland
na akkers wys waaruit die vryheid groei.

Hierdie gedenkteken is in opdrag van die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte teen ’n koste van R120 000opgerig deur die argitekte Samuel Pauw en Peter Semra’d. Die werk is uitgevoer deur die bouheer Frans Kaiser, van Austra-konstruksie, en as bourekenaars het die here Ross en Kat opgetree. Al hierdie ondernemings is van Pretoria.

In die kluis van die Burgergedenkteken is ’n ererol, in boekvorm en op Skotse perkament, spesiaal behandel om 500 jaar te hou, met die name van die dooies weggelê. Dis geskenk deur die Junior Rapportryerbeweging van Natal.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 het kommandant-generaal Piet Joubert die strategiese offensief geneem en die Britse magte onder generaal-majoor sir George White in Ladysmith ingesluit. Die beleg van vier maande het van 30 Oktober 1899 tot 28 Februarie 1900 geduur. Generaal sir Redvers Buller, met die Eerste Britse Leërkorps, het dit op hom geneem om die beleërde Britse mag in Noord-Natal te ontset.

In die loop van die Natalse veldtog in 1899–1900 en generaal Louis Botha se tweede inval in Natal in 1901 is van die bekendste veldslae van die Driejarige Oorlog gelewer. Hieronder was Talana, Elandslaagte, Rietfontein, Modderspruit, Nicholsonsnek, Willow Grange en Colenso (1899); Platrand, Spioenkop, Vaalkrans, Pietershoogte (1900) en Scheepersnek en Itala (1901).

Die gedagte om ’n gepaste monument vir die Republikeinse gesneuweldes in Natal op te rig, het baie lank bestaan. Aanvanklik is daaraan gedink om dit naby Colenso op te rig. Dit was egter in 1975 dat doktor A Kieser, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte, ’n voorstel aan die Raad voorgelê het en daar besluit is om die monument op die Platrand op te rig. Onderhandelinge is in die daaropvolgende jaar met die argitekte aangeknoop en die oprigtingsopdrag is op 30 Julie 1976 oorgedra deur meneer SCJ Joubert, die sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte.

Etlike besoeke aan die terrein deur verteenwoordigers van die opdraggewer en die oprigters en hul kontrakteurs het gevolg en drie jaar later, in 1979, is die werk voltooi.

Die inwyding van die monument het op 10 Oktober 1979 te midde van groot openbare belangstelling plaasgevind en is waargeneem deur die pas ingehuldigde Staatspresident, Marais Viljoen. Dit was juis presies 80 jaar nadat die vyandelikhede tussen Boer en Brit in Natal ontbrand het. Die Staatspresident is deur ’n ruiterwag van die Junior Rapportryers, met die vlae van die ZAR en die OVS tussen ’n erewag, gevorm deur lede van die Voortrekkerbeweging, na die monument geleide gedoen. Die Suid-Afrikaanse Leërorkes het gewyde musiek gespeel, terwyl trompetblasers die aankoms aangekondig het.

Voordat die Staatspresident die indrukwekkende monument onthul het, het meneer Thys Jacobsz die terrein aan die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte oorhandig. Staatspresident Marais Viljoen het die feesgangers toegespreek, waarna hy die onthulling waargeneem en die ererol in die kluis weggebêre het. Verteenwoordigers van kommando’s wat 80 jaar gelede aan die Natalse veldtog deelgeneem het, het hierop hul kranse gelê – ’n onthullingsplegtigheid om die nagedagtenis te eer van 781 burgers wat die lewe in die Natalse veldslae van die Vryheidstryd opgeoffer het.

Diegene wat deur hierdie byderwetse monumentkompleks gedenk word, is Boere wat sowel op Natalse slagvelde as in Natalse kampe omgekom het. Dit eer ook die nagedagtenis van die burgers wat by die Holkransmoord onder Zoeloe-assegaaie in Junie 1902 gesterf het.

Bron: Bakkes, C.M. 1989. Burgergedenkteken op die Platrand. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 231–233.