Boekenhouftontein

Die plaas Boekenhoutfontein is langs die Boshoekpad, wes van Rustenburg, geleë

Kort nadat die later bekende staatspresident Paul Kruger in 1841 die ouderdom van sestien jaar bereik het, ontvang hy die plaas Waterkloof naby die huidige Rustenburg. In 1842 trou hy met Maria du Plessis, en die egpaar bly op die plaas tot vroeg in 1845.

Feitlik drie dekades het die Kruger-gesin op Waterkloof gewoon. Intussen het Kruger ook ander plase in die omgewing bekom, soos Baviaanskrans, Waterval, Rietvlei en Boekenhoutfontein.

Kruger was egter nie die eerste eienaar van Boekenhoutfontein nie. Die plaas is geleë ten weste van Rustenburg en is reeds sedert die veertigerjare deur die Voortrekker, Rudolf T Bronkhorst, bewoon.

Vroeg in die sestigerjare het Paul Kruger in hierdie plaas begin belangstel, en op 19 Januarie 1862 het dit sy eiendom geword. Hy het hom egter nie dadelik op die nuwe plaas gaan vestig nie, maar voortgegaan om op Waterkloof te woon. Dit was eers vanaf 1866 dat die Kruger-gesin die wintermaande op Boekenhoutfontein deurgebring het. Daar word ook gemeen dat Kruger in hierdie tyd die woning opgerig het wat tans as restaurant aangewend word.

Dit wil voorkom of tant Gezina, soos Kruger se tweede vrou bekend was, se gesondheid die oorsaak was dat die Kruger-gesin hulle teen 1873/1874 permanent op Boekenhoutfontein gaan vestig het. Die plaas was hoër geleë as Waterkloof – die koors was dus nie so ’n bedreiging nie.

Teen ongeveer 1873/1874 het Kruger ook vir hom ’n deftige woonhuis gebou, tipies van die klassistiese geboue wat gedurende die neëntiende eeu in Noord- en Noordoos-Kaapland voorgekom het. Die gebou is met eenvoudige boumateriaal en boumetodes opgerig. Die boekenhoutlateie is ru afgewerk, die dakbalke is met penne en rieme vasgemaak terwyl die verskillende vertrekke van mis-en-bloedvloere voorsien is. Die drie slaapkamers, voorhuis, portaal en kombuis het saam met die kelder en solder meer as voldoende woon- en bergruimte gebied. Voorts is die smaakvolle afwerking van die muurpapier in die voorhuis en die versierde trappe getuie van ’n geestelik volwasse egpaar.

Die belangrikste karaktertrek van Kruger was sy matelose geloof in sy Skepper. Ook hiervan is daar tot vandag nog op Boekenhoutfontein onvernietigbare getuienis. Op ’n klipkoppie, net agter die woning tussen ’n aantal rotse, is die “bidplek” waar Kruger hom daagliks voor sy Skepper verootmoedig het.

Nadat Kruger in 1883 Staatspresident van die ZAR geword het, het hy hoofsaaklik in Pretoria gewoon. Die boerdery op Boekenhoutfontein het gevolglik mettertyd oorgegaan in die hande van Pieter Kruger, een van die President se seuns.

Laat in die tagtigerjare is nog ’n gebou op die werf opgerig, naamlik die skoolgebou. Dit is waarskynlik deur Pieter Kruger gebou en het tot 1915 diens gedoen as skool vir die Kruger-kinders en ander kinders van die omgewing.

Gedurende die negentigerjare het Pieter Kruger ’n tipies Victoriaanse woning vir homself gebou. Die huis word veral gekenmerk deur pragtige traliewerk en ’n aangename stoep. Dit het die totale geval geboue op die werf, uitsluitende die stalle, op vyf te staan gebring. In die Anglo-Boereoorlog het Boekenhoutfontein ook lord Kitchener se “verskroeide aarde-beleid” ervaar. Van die geboue is deur die Britte afgebrand of verniel, terwyl die hoofwoning die teiken van sommige kanonniers was.

Boekenhoutfontein het tot 1971 die eiendom van die Kruger-familie gebly. In daardie jaar is dit aangekoop deur die Stigting Simon van der Stel en is die plaas gerestoureer met fondse waarvan die grootste gedeelte afkomstig was van die volk van Suid-Afrika. Vandag is die plaaswerf ten volle gerestoureer en is dit ’n unieke bate. Die woning is as museum ingerig en huisves talle oorspronklike of tydgenootlike artikels. Die Federasie van Rappportryerskorpse het in 1976 ses stoele na die voorbeeld van die oorspronklikes laat maak en in die eetkamer uitgestal.

Die plaas bied nie net ’n beeld van ’n boereplaas van die vorige eeu nie – vir die besoeker wat op die stoep staan en oor die uitgestrekte Wes-Transvaalse vlaktes tuur, is dit ’n bron van inspirasie. Hier leer elke Afrikaner die ware betekenis van die eretitel “Boer”.

Bron: Jooste, G.J. 1989. Boekenhoutfontein. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 162–163.