Nagnoeg 5 km verby die Belfast-afrit op die hoofweg tussen Pretoria en Nelspruit

Nagenoeg 5 km verby die Belfast-afrit op die hoofweg tussen Pretoria en Nelspruit

Die Belfastse Raad vir Oorlogsgrafte, onder voorsitterskap van doktor A Kieser, het laat in die sestigerjare aandag begin gee aan die verstrooide grafte van burgers wat in die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 in Oos-Transvaal gesneuwel het. Uiteindelik is besluit om die burgergrafte op te grawe en by een sentrale plek te herbegrawe. Voorts is ook besluit om ’n gepaste monument by die gesentraliseerde begraafplaas op te rig. As middelpunt is besluit tot die plaas Berg-en-Dal waar een van die heldebakens van die Afrikanervolk reeds gestalte gehad het in die kliprantjie waar die Zuid-Afrikaansche Republiek’s Politie (ZARP) byna tot die laaste man geveg het, en die nabygeleë kerkhof waar sommige van hulle herbegrawe is.

Die eienaar van die plaas, meneer NA Potgieter, het vir dié doel ’n terrein van 9 hektaar aan die SA Raad vir Oorlogsgrafte geskenk.

Die trotse monument is formeel op 27 Augustus 1980 onthul deur senator JP van der Spuy, minister van Nasionale Opvoeding, nadat die nodige inskripsies reeds aangebring was dat die onthulling deur meneer BJ Vorster as eerste minister waargeneem sou word. Laasgenoemde is egter deur die siekte verhinder om dié taak te verrig.

Die monument bring afsonderlik en gesamentlik hulde aan eerstens die ZARP wat tydens die slag by Berg-en-Dal en tweedens al die burgers wat in die omgewing en in Oos-Transvaal in die Anglo-Boereoorlog die hoogste offer gebring het.

Die ontwerp behels ’n granietsarkofaag waaroor ’n majestueuse, spitsvormige betonsuil, gevestig op vier skuinslopende bene, troon. Onder die sarkofaag rus die beendere van die ZARP. Dié deel van die monument word afgerond ingewerk by ’n funksionele sirkelvormige amfiteater waar gedenkdienste en huldigingsfeeste gehou kan word, en waarvan ’n spesiale gedeelte afgesonder is as massabegraafplaas vir al die ander burgers wat hier herbegrawe is. Hulle name verskyn op ’n ererol van graniet wat as ’n paneel in ’n muur ingebou is, net soos dié van die ZARP. Die amfiteater is simbolies van die Boerelaer en omsluit die monument as geheel. Die vier suile simboliseer die vier provinsies wat gevestig is in gewyde grond, en wat ineenloop en kulmineer in ’n triomfantelike spits. Hiermee word gestalte gegee aan die erkentlikheid van ’n dankbare en trotse nageslag aan die Opperwese.

Die konsep van die sarkofaag en suil met die gepaardgaande simboliek, was afkomstig van majoor JM de Wet, Suid-Afrikaanse Polisie en terselfdertyd ook hoofsekretaris van die Afrikaanse Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisie (AKPOL). Die amfiteater en die laergedagte was die werk van die argitek van die projek, meneer JI Bosman. Die oprigtingskoste was R95 483, waarvan die Suid-Afrikaanse Polisie (AKPOL) R10 000 en die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte die res bygedra het. Die hoofkontrakteur was Giant-Konstruksiemaatskappy (Edms) Bpk, terwyl die graniet- en terrassowerk deur Boltstone (Edms) Bpk onderneem is.

Op 27 Augustus 1900 het die Slag by Berg-en-Dal plaasgevind – ’n slag wat in baie opsigte belangrike gevolge sou hê vir beide kante.

Op die aand van 26 Augustus was die Britse mag en die Boeremag teenoor mekaar opgestel, elke kanon op sy aangewese plek en elke soldaat ingelig oor sy rol die volgende dag. Teenoor ’n oormag van 8000 man en 40 kanonne, het die Boeremag uit 70 man (ZARP) bestaan, met twee pom-poms (Vickers-Maxim) ter ondersteuning. Die inferno, waarskynlik die kwaaiste artillerievuur in die ganse oorlog, het om 11:00 op 27 Augustus 1900 losgebars.

Die oormag was te groot en om 15:45, na byna vyf uur van genadelose bombardering, laat weet kommandant-generaal Louis Botha aan die staatspresident die eenvoudige boodskap: Die “Bosch-kopje” is ingeneem.

Van die sewentig ZARP het veertien gesneuwel, en hulle lyke is daar gekry. Ses is vermis en nooit gevind nie. Een en dertig het die slag oorleef en het betyds ontsnap, terwyl negentien – van wie agt gewond is – deur die vyand gevange geneem is. En só het die beroemde ZARP opgehou om as ’n eenheid te bestaan.

’n Nietige aantal vegsmanne, ingehok tussen die rotse op ’n ewe nietige koppie, was die sleutel tot die hele Boerestelling, wat oor ’n afstand van 80 km gestrek het. Toe hulle swig, het die hele Boerefront verkrummel, met verreikende gevolge vir albei kante. Die oosterlyn as enigste lewensaar van die Boererepubliek met die buiteland, was verlore. Minder as ’n maand na Berg-en-Dal was sit onder algehele Engelse beheer. Op 11 September 1900 verlaat die staatspresident, Paul Kruger, die land om in ballingskap te gaan. Onmiddellik na Berg-en-Dal gee Louis Botha opdrag dat in navolging van generaals De Wet en De la Rey, alle kommando’s tot guerrilla-oorlogvoering moet oorgaan “en overal waar mogenlijk den vyand zal aanvallen en zoo lastig als mogenlijk maken”.

Bron: Lombard, W.A. 1989. Berg-en-Dalmonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 222–223.