Op dieselfde terrein waarop die indrukwekkende Vrouemonument staan, is ’n beeldegroep opgerig om die nageslag te herinner aan die ontberings van die burgers wat tydens die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Drie besondere beelde is beplan, waarvan twee reeds voltooi en onthul is.

Die terrein waarop die beeldegroep opgerig is, is ’n gelyke landskap met koppies, dig begroei met olienhout- en kareebome. Dit leen hom daartoe dat die beelde so geplaas kan word dat die een nie die aandag van die ander aftrek nie.

Die Banneling

Die Banneling_klein

Die Banneling

Gedurende sy Staatspresidentskap het advokaat CR Swart die gedagte uitgespreek dat die gestorwe krygsgevangene in oorsese kampe, wie se begraafplase op talle plekke in verwaarlosing geraak of ontoeganklik geword het, op die een of ander wyse op die terrein van die Nasionale Vrouemonument herdenk moet word. Die Suid-Afrikaanse Raad vir Oorlogsgrafte, waarvan advokaat Swart beskermheer was en wat intussen by die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede ingeskakel is, het hom bereid verklaar om ’n aansienlike finansiële bydrae te lewer om so ’n gedenkteken te laat oprig.

Genoemde raad was egter van oordeel dat dit ’n veel groter projek as ’n blote gedenkgraf moet wees. ’n Ambisieuse gedenkteken is toe ontwerp. Omdat dit gevaar geloop het om die Vrouemonument te oorskadu en die koste daarvan bo die vermoë van die Oorlogsgrafteraad was, is daarvan afgesien. Toe advokaat Swart na sy uittrede as Staatspresident weer soos voorheen as lid van die Nasionale Vrouemonumentkommissie opgeneem is, het hy nog eens gepleit dat die bannelinge wat in die vreemde gesterf het, sigbaar vereer moet word. Met ’n bedrag geld wat die Oorlogsgrafteraad beskikbaar gestel het, is die beeldhouer Danie de Jager toe genader om ’n gedenkteken te ontwerp wat aan so ’n ideaal sou voldoen.

Na omvangryke studie en langdurige bepeinsing het Danie de Jager uit die diepte van sy Afrikanerhart die beeldegroep, bekend as Die Banneling, geskep. Oor sy beeld het hy hom soos volg uitgelaat: “Toe die versoek gekom het om die geskiedenis op hierdie terrein in brons te probeer skryf (verwysende na die ander beelde, Die Afskeid, 11 Oktober 1899, en die Bittereinder, 31 Mei 1902, wat nog opgerig gaan word), was dit ’n uiters moeilike taak en ’n groot verantwoordelikheid wat my diep geraak het. Ek het tot die besef gekom dat wat ek moet weergee, ou manne is wat nie meer weerbaar was en nie langer die wapen kon hanteer nie, en kinders wat te jonk was daarvoor, en wat weggevoer is om dalk nie weer terug te keer nie. Ek wou ’n omstandigheid skep wat vir hierdie mense totaal vreemd was – die see en ’n skip waarmee baie van hulle waarskynlik vir die eerste keer kennis gemaak het. Die ou man en seun staan op die dek van ’n skip, terwyl ’n sterk seebries van agter waai. Op die ou man se gesig les ons die besef dat hy sy vaderland verlaat en dit moontlik nooit weer sal sien nie. Sy lippe prewel: My vaderland, my vaderland. Die kind is in vertwyfeling; hy is bevrees en wil in trane uitbars …”

Met hierdie beeld het Danie de Jager met begrypende en gevoelige piëteit voldoen aan die versoek dat dit só moet geskied dat dit die Vrouemonument in gees of voorkoms op geen wyse aantas nie, maar eerder moet bydra tot die verinniging van die gewyde atmosfeer daarvan en die huldebetuiging op die terrein moet versterk.

In noue samewerking met die argitek Hennie van der Walt, is die voetstuk van sandsteen deur Danie de Jager op so ’n wyse ontwerp dat die skuins gekantelde vlak van die dek van die skip wel geaksentueer word, maar waarop die beeldegroep regop staan.

Aan die versoek van die Oorlogsgrafteraad is voldoen deur op bronsplate die name van al die gestorwe krysgevangenes oorsee en ter see rondom die voetstuk aan te bring. Onder leiding van die Direkteur van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en die vakkundige personeel, is in medewerking met die sekretariaat van die Oorlogsgrafteraad daarin geslaag om ’n noukeurige naamlys saam te stel.

Met die onthulling van die beeldegroep op 10 Oktober 1983, deur die honderdjarige oud-Banneling, JJA Lombaard, was die oprigtingskoste van R72 000 ten volle vereffen. Naas die gulle bydrae van die Suid-Afrikaanse Oorlogsgrafteraad, het die Nasionale Vrouemonumentkommissie vir ’n aansienlike bedrag gesorg, en is ook ruim geldelike steun van die Afrikaanse Weermag-kultuurvereniging en Afrikaanse Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisie ontvang. Dit is die beeldhouer se wens dat sy toegewing ten opsigte van die skep en giet van die beeld anoniem moet bly.

Dit was almal se hartewens dat advokaat CR Swart, die aanvoorder van die beeldegroep en self ’n seun van ’n banneling, die onthulling uiteindelik moes waarneem. In antwoord op die versoek ’n paar maande voor sy dood, was die woorde van hierdie gevierde Afrikaner: “Dit sal vir my ’n wonderlike afsluiting van my lang openbare loopbaan wees.” Die Here het anders beskik, maar die dag met die onthulling sou tant Nellie Swart, met haar teenwoordigheid en ten spyte van haar brose gesondheid, die skare daaraan herinner dat hy in die gees wel teenwoordig is.

Die eer het toe professor HB Thom, ook ’n seun van ’n banneling, te beurt geval om ’n aangrypende boodskap van wyding en besieling te lewer wat intussen deur die Oorlogsmuseum in ’n brosjure oor die Banneling-beeld volledig afgedruk is.

Die Banneling-beeld wat met soveel kennis, wyse insig en begrypende deernis geskep is, gryp die hart aan, want voor ’n mens staan nie net ’n kunswerk uit eie reg nie, maar dit dra ook die boodskap uit van ’n vaderlandsliefde wat in die hart van die jong seuns tot gryse ou vaders gebrand het, wat bereid was om alles vir hul volk op te offer. Dit spreek ook van die waardigheid waarmee hulle hul bannelingskap gedra het wat selfs die vyand verstom het.

Afskeid – 11 Oktober 1899

Afskeid_klein

Afskeid

Die stelling is gemaak dat, in die lang linie van Suid-Afrikaanse vegters, een man wat verering verdien, vergete gebly het, te wete die burger van die eertydse Boererepublieke met sy mauser op sy perd. Onder leiding en aansporing van generaal NN Webster, het die Raad van Organisasies vir Militêre Veterane van die Republiek van Suid-Afrika in 1980 besluit om hierdie versuim reg te stel deur landwyd fondse in te samel om ’n nasionale gedenkteken ter ere van die gewone gekommandeerde burgers van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaanse Republiek, sowel as ander medestryders, op te rig.

Die spontane gevoel was dat die mees gepaste terrein vir so ’n gedenkteken dié van die Oorlogsmuseum en Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein sou wees. Toe die versoek aan die Beheerraad en die Vrouemonumentkommissie gerig is, is dit met dieselfde geesdrif toegestaan – veral omdat dit volkome aansluiting gevind het by staatspresident CR Swart se hartewens om op die terrein die bannelinge wat in die vreemde gesterf het, te herdenk; en die gedagte van die skrywer hiervan dat die volgehoue heroïese stryd van die bittereinder ook vereer moet word.

Die versoek om die gedenkteken ter ere van die burger wat aan die stryd van 1899-1902 deelgeneem het, op die terrein op te rig, het egter die onverbiddelike voorwaarde ingehou dat die gees en gewyde atmosfeer van die Vrouemonument op generlei wyse aangetas mag word nie. Daarmee het almal saamgestem dat die beeld wat opgerig sou word, geen verheerliking van oorlog as sodanig mag wees nie.

In dieselfde jaar is toe besluit om uit die geledere van gemelde Organisasies vir Militêre Veterane, die SA Weermag, die Beheerraad van die Oorlogsmuseum en die Nasionale Vrouemonumentkommissie ’n komitee saam te stel, te wete die Burger-Gedenktekenkomitee, wat die verantwoordelikheid vir die oprigting van die gedenkteken daarna aanvaar het.

Aangesien die beeldhouer, Danie de Jager, reeds in hierdie stadium die makette vir die Banneling-beeld sowel as die Bittereinder-beeld voltooi het, is besluit dat hy ook die gedenkteken vir die burger wat van sy gesin afskeid neem om na die oorlogsfront te vertrek, moet skep. Die beeld is op 11 Oktober 1986 onthul.

As die besoeker deur die ingangspoort stap; met sy drie-kolomme-replikas van die kolomme wat toegang tot die ringmuur van die Vrouemonument en die Driejarige Oorlog versinnebeeld – sien hy van ver af reeds die eerste beeldegroep – Afskeid – 11 Oktober 1899.

Op sy vurige perd wat reeds besig is om weg te spring, sit ’n burger met sy Mauser wat die hoogste punt van die beeldegroep vorm. Dit is oorlog. Die goedgeklede burger is toegerus met sy opslaanhoed, sy bandelier vol patrone, ’n saalsak vol beskuit en biltong, ’n opgerolde kombers en ’n waterbottel. Hy voldoen aan die oproep van sy veldkornet om hom met saal, perd en toom, geweer en agt dae se proviand aan te meld. Hy het van sy vrou afskeid geneem en groet haar vir laas met ’n wuif van die hand. In hom woel ’n drang na avontuur. Hy is vol moed, maar tog bekommerd oor haar en sy kind wat alleen op die plaas moet agterbly. Terselfdertyd is daar by hom die gevoel dat die oorlog nie lank sal duur nie. Die vrou wat aansluiting vind by die vrouefigure van die Vrouemonument en simbool is van die jong vrou voor die bittere stryd, staan met haar baba beskermend in haar arms. Die kindjie is bang en voel intuïtief aan wat die moeder ervaar. Op die moeder se gelaat is ’n uitdrukking van trots, maar ook van bekommernis oor haar man. Haar karaktervolle gelaat verraai die onsekerheid of sy hom ooit weer sal sien. Dit is ’n toneel wat hom in daardie donker dae op soveel plase sou afspeel – die dag van afskeid.

Nie as ’n oorlogsugtige nie, maar as ’n gewone burger wat sy dure plig nakom om sy land se vryheid te verdedig, word hy in gesinsverband uitgebeeld wat universeel en telkens in enige geregverdigde stryd voorkom.

Die Bittereinder_klein

Die Bittereinder

Die Bittereinder
In die verte pryk die herinneringsnaald van die Vrouemonument wat na die hemel reik, en bokant waar die Banneling-beeld verrys het, in die nekkie half tussen die olien- en kareebome versteek, sal die beeld van die Bittereinder opgerig word.

Tussen die twee koppies sal hy staan, starende die verte in, die patriot by uitnemendheid. Hy wat aan die einde van die oorlog nog met geweer in die hand op sy perd sit, dra die erenaam: Bittereinder.

’n Uiters ondervoede, maer veldperd – eens ’n pronk-stalperd – met sy ruiter is die simbool van wat in die laaste wintermaande van die oorlog verduur moes word. Hy pas by sy troue dier aan. Sy klere is verslete; hy is sonder sokkies; oor sy skouers hang ’n sak om hom teen die winterkoue te beskerm, en in sy bandelier is nog net twee sakkies met patrone gevul. In hom is ’n onbeskryflike krag as hy sy geweer vasklem en teuels vashou. Ten spyte van sy verwaarloosde voorkoms straal uit sy gesigsuitdrukking ’n gees van: “Ek sal nie ingee nie. Ek sal aanhou tot die bittereinde. Selfs al sou die onvermydelike my dwing om die wapen neer te lê, sal ek in my gees nog volhou om te veg vir wat ek as reg beskou.”

Die beeld se trefkrag lê nie net in die voorkoms van die ruiter op sy perd nie. Die brandpunt is die houding en gesigsuitdrukking van hierdie bittereinder. Hy leun met sy geklemde geweer effens vorentoe om die moeë dier wat aan sy stang kou, nog aan te por. Van alles gestroop – sy woning, sy vee, sy gesaaides en selfs sy vrou en kinders – is dit nog net hyself, sy perd en sy geweer om die stryd voort te sit.

Uit eie reg staan die gewere en bandeliere rondom die voetstuk. Daaruit kan ’n mens lees hoe die stryd verloop het: met vol patroonbande en Mausers aan die begin; wapens wat in die loop van die oorlog deur troueloses neergelê is, om uiteindelik op 31 Mei 1902 te sien hoe met leë bandeliere en gewere wat van die vyand afgeneem is, die stryd met al sy heroïek en smart beëindig is.

Bron: Van Schoor, M.E.C. 1989. Beeldegroep by Vrouemonument. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 104–107.