Sedert Brittanje in 1877, onder die indruk dat meeste burgers dit sou verwelkom, die ZAR geannekseer het, het ’n moeisame stryd onder Paul Kruger begin om Transvalers vir vryheid te mobiliseer. Gelukkig het sukses veel wyer gestrek, met Afrikaners in die Vrystaat, Kaapkolonie en Natal wat hulle met die Transvalers geassosieer het. Toe die ZAR sy onafhanklikheid in 1880 eensydig herstel het, het Brittanje opgemars om die “opstand” te onderdruk. Hulle is egter by Majuba, op die grens tussen Transvaal en Natal, ’n vernietigende slag toegedien. Die belangrikste daarvan was nie die militêre oorwinning nie (dit het selfs Kruger se diplomasie bemoeilik) maar die samesnoering van Afrikaners oor alle grense. Wat hier volg, is die gelukwensing van Paul Kruger, die staatsman, aan die dapper burgers wat die oorwinning moontlik gemaak het.
Paul-Kruger-bedank-Majuba-vegters

Kort na die Slag van Majuba is die Pretoria-konvensie gesluit, wat die ZAR se selfregering herstel het, maar nie volle onafhanklikheid nie. Bepalings oor die republiek se wesgrens was ook onbevredigend. Daarop het in 1884, as gevolg van Kruger se vernuftige diplomasie, die Londen-konvensie gevolg. Die ZAR is onafhanklik verklaar, met die beperking dat buitelandse verdrae (behalwe met die OVS) nie sonder Britse goedkeuring gesluit kon word nie. Dit is soewereiniteit genoem. As die krag van Brittanje met die ZAR (voor die ontdekking van goud) vergelyk word, was dit ’n diplomatieke kragtoer van Kruger. Hier volg die teks van dié verdrag.
Londenkonvensie-1884

In Afrikaanse geskiedskrywing was daar lank ’n neiging om, vanaf die Groot Trek, die Kaapkolonie grootliks te ignoreer, of Kaapse Afrikaners as blote Britse onderdane te bestempel. In werklikheid het ’n nasionale bewuswording plaasgevind, waarsonder die prestasies van latere geslagte Afrikaners ondenkbaar sou wees. Een voorbeeld daarvan was die Afrikanerbond, ’n politieke party en kulturele beweging wat groot invloed sou uitoefen. Onder leiding van ‘Onze’ Jan Hofmeyr is Afrikaners van hulle identiteit en bande met die Boererepublieke bewus gemaak.
Afrikanerbond-Grondwet

Nadat goud in die ZAR in 1886 ontdek is, het Britse imperialiste al meer daarin belang gestel. Die ZAR het byna oornag ’n streeksmag geword en moes noodgedwonge die instroming van derduisende “Uitlanders” – grootliks Engelssprekend – toelaat. President Kruger wou nie burgerregte aan dié mense toestaan voor 15 jaar se inwoning nie, wat tot heelwat ontevredenheid gelei het. Ten spyte van doelgerigte pogings het dit egter nooit tot ’n opstand gelei nie, en imperialiste in Londen het besef dat hulle self die inisiatief sou moes neem om die Transvaalse goudvelde in te palm. Troepe is op die Transvaalse grense saamgetrek in getalle wat net op naderende oorlog kon dui. Kruger en die Volksraad wou nie wag tot die mag oorweldig en is nie en het op 9 Oktober 1899 ’n ultimatum aan Brittanje gestuur om hulle troepe binne twee dae te onttrek. Dit het nie gebeur nie, en die grootste oorlog in die Suid-Afrikaanse geskiedenis (die Anglo-Boereoorlog of Tweede Vryheidsoorlog) het uitgebreek.
Ultimatum-aan-Brittanje-1899

Die Republiek van die Oranje-Vrystaat is nie direk deur Engeland bedreig nie. Tog was hulle eensgesind met hulle noordelike bure en het besef dat hulle in ’n oorlog tussen Brittanje en die ZAR moeilik neutraal sou kon bly. Met groot eensgesindheid het hulle die oorlog betree en van die grootste helde opgelewer – manne soos generaals Christiaan de Wet en JBM Hertzog. Later, toe baie Transvalers wou oorgee, was dit die Vrystaatse vegters wat nuwe lewe in die stryd geblaas het. In die volgende dokument roep president MT Steyn sy burgers op om aan die oorlog deel te neem.
Steyn-roep-Vrystaters-op-tot-oorlog

Die Anglo-Boereoorlog was die mees omvattende oorlog wat Suid-Afrika ooit gesien het. Al was die stryd tussen twee Boererepublieke en die Britse Ryk, het dit die hele land se bevolking betrek. Van Kapenaars is verwag om trou aan die Britse Kroon te wees en talle rebelle, wat liewer met hulle volksgenote saamgeveg het, is tereg gestel. Ander het ’n bloeiende handel beleef met die Britse weermag se oneindige behoefte aan perde, voer en voedsel. Swart- en bruinmense is aan beide kante as nie-vegtende deelnemers aangewend. Baie seuns het as penkopsoldate aan die oorlog deelgeneem, terwyl vrouens, kinders en ou mans die boerderye onderhou het – die ekonomiese basis van die republikeinse volksleër. As gevolg daarvan is konsentrasiekampe ingerig, waar bykans 27 000 vroue en kinders omgekom het. Die dodetal in kampe vir nie-vegtende swartmense was omtrent ewe hoog.

Aan die einde van die oorlog was daar Bittereinders in die veld, krygsgevangenes in oorsese kampe, “hendsoppers” wat die stryd opgegee het en “joiners” wat na die Engelse oorgeloop het. In die Kaap en Natal was daar “lojale” Afrikaners (lojaal aan Brittanje) en Rebelle. Na twee en ’n half jaar het Boereleiers die knie voor Britse oormag gebuig. Merkwaardig is dat skadevergoeding aan hulle gegee is en dat hulle binne enkele jare weer politieke beheer geneem het. Wat volg, is die teks van die Vredesverdrag van Vereeniging (plek van beraadslaging) wat op 31 Mei 1902 in Pretoria onderteken is.
Vredesverdrag-van-Vereeniging