Jan Brand

“Alles sal regkom as elkeen sy deel doen,” was volgens oorlewering die woorde waarmee president Jan Brand van die Oranje-Vrystaat sy burgers besiel het. Dit klink dalk eenvoudig, maar as ’n mens na die tyd waarin hy regeer het kyk, besef ’n mens dat hierdie oproep sy manne gemotiveer het om hulle heel beste te doen. As ’n mens na die lewe van Jan Brand kyk, kom ’n mens tot die gevolgtrekking dat hy dalk een van die grootste Afrikaner-staatsmanne was.

Biografiese gegewens

Johannes Henricus Brand is in 1823 in Kaapstad gebore. Sy pa was Christoffel Brand, ’n prominente Kaapse Afrikaner wat wye erkenning vir sy werk ontvang het. Hy gaan skool aan die bekende South African College. Dit is in 1829 as ’n skool vir Kaapse seuns gestig, maar het spoedig ontwikkel om ook na-skoolse opleiding te bied. In 1918 het dit die Universiteit van Kaapstad geword. Van daar het hy na Nederland vertrek om regte aan die Universiteit van Leiden te studeer. In 1845 verwerf hy ’n doktorsgraad en vertrek die volgende jaar na Brittanje, waar hy sy studies voortsit.

In 1849 begin Brand se beroepslewe wanneer hy as advokaat tot die Engelse balie toegelaat word. Hy besluit egter kort daarna om na Kaapstad terug te keer. Daar praktiseer hy as advokaat in die Hooggeregshof van die Kaap die Goeie Hoop tot in 1863. In 1858 word hy ook as professor in die regte aan die South African College aangewys. Op hierdie jong ouderdom het hy verder lid van die Kaapse parlement geword, waarvan sy pa die speaker (voorsitter) was.

Die groot wending in Jan Brand se lewe kom in 1863 toe hy gevra word om hom as president vir die Republiek van die Oranje-Vrystaat beskikbaar te stel. Hy word met ’n groot meerderheid verkies en word in 1869, 1874, 1879 en 1884 herkies. Sy werk in dié amp word in die volgende afdeling in meer diepte bespreek. Hier is dit voldoende om te noem dat botsings met die Basotho onder Mosjesj en die ontdekking van diamante in die omgewing van Kimberley die grootste uitdagings was wat hy die hoof moes bied. Hy moes ook die Vrystaat se belange beskerm terwyl die noordelike buurman, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) in 1877 eers deur die Britse ryk geannekseer is en toe in oorlog met die wêreldryk gewikkel was.

In 1882 is Brand deur Brittanje as buitengewone staatsman vereer, deur as ridder geslaan te word. Hy sou dus die titel “sir” kon dra; iets wat nie in sy eie republiek baie gewild was nie.

Teen die einde van sy lewe was Brand nie meer baie gesond nie. Hy kon nogtans sy pligte nakom tot hy in 1888 oorlede is. Hoewel die Vrystaters baie hartseer was, was hulle gelukkig om na hom nog twee uiters bekwame presidente te kry: Eers FW Reitz en na hom MT Steyn.

’n Deegliker ondersoek na Brand se openbare lewe bring ’n mens diep onder die indruk van die uitdagings wat hy moes hanteer.

Openbare lewe

Jan Brand, soos sy opvolger as Vrystaatse president, FW Reitz, kom uit vooraanstaande Kaapse Afrikanerfamilies. Hierdie mense se toewyding aan hulle eie erfenis, ten spyte van ’n sterk lojaliteit aan Brittanje, lyk vandag teenstrydig. Tog was dit vir sekere mense die werklikheid.

’n Mens kyk altyd na die verre verlede deur die bril van die meer onlangse verlede. Afrikaners was van 1899 tot 1902 in ’n onafhanklikheidstryd teen Brittanje gewikkel, wat groot bitterheid veroorsaak het. Veral die taktiek van verskroeide aarde en aanhouding van vrouens en kinders in konsentrasiekampe met hoë sterftesyfers, het ’n wig tussen Afrikaners en Engelse ingedryf.

Voor die oorlog het sekere Engelse koerante (plaaslik en oorsee) propaganda versprei wat oorlog teen die Boererepublieke moes regverdig. Die jong Jan Smuts het daarop gereageer met ’n boek getiteld “Een eeuw van onrecht”. Daarin is die geskiedenis sedert die Britse besetting van die Kaap in 1806 as ’n opeenvolging van onreg teenoor Afrikaners voorgestel. Hierdie siening het veral na die oorlog talle Afrikaners se beeld van die verlede bepaal.

Dit is merkwaardig dat daar voor die Tweede Vryheidsoorlog ’n ander opvatting geheers het. President Paul Kruger het in die aanloop tot beide Vryheidsoorloë (1880 en 1899) hom op die regverdigheid van die Engelse volk beroep. Die meeste Afrikanerleiers het, soos Kruger, geglo dat swak verhoudings die gevolg van kwaadwillige indiwidue was, terwyl hulle eerbied vir die Engelse volk, regering en koningin gehad het.

In Kaapstad self was daar ’n klein groepie Afrikaners wat nog voor die Britse besetting van die Kaap welvarende en geëerde burgers was. Hulle het ’n goeie verhouding met die doeltreffende en regverdige Britse bewind gehad. Die Nederlandse bewind was in werklikheid nie die Nederlandse regering nie, maar die Vereenighde Oost-Indische Compagnie (VOC), ’n groot handelsmaatskappy.

Vir die VOC was die Kaap ’n noodsaaklike, maar uiters lastige skakel in die handelsketting tussen Nederland en Java, die huidige Indonesië. Die Kaapse grense het wyd uitgebrei, juis omdat die VOC die minimum aan die kolonie wou bestee en burgers hulle eie planne gemaak het om ekonomies te oorleef. Die Britse bewind was ’n verbetering hierop, hoewel welvarende burgers emosionele en opvoedkundige bande met Nederland behou het. Die gevolg was ’n dubbelsinnige identiteit: Ontwikkelende Afrikanerskap gewortel in die Nederlandse agtergrond aan die eenkant, maar sterk beïnvloed deur en positief teenoor die Engelse kultuur.

Uit hierdie Kaapse Afrikaners (dikwels Cape Dutch genoem) het twee Vrystaatse presidente gekom: Jan Brand en FW Reitz. Hierdie agtergrond help ’n mens om die oënskynlike teenstrydigheid in president Jan Brand se bewind te verklaar.

Brand het met die openbare lewe grootgeword, aangesien sy pa ’n leier in die burgers se aandrang op deelname aan die Kaapse regering was. Hy was ook ’n invloedryke politikus toe dit wel toegestaan is. Hy het hom lewenslank vir die uitbou van die Nederlandse taal soos aan-aan die Kaap gebruik is, beywer. Hy het later die Britse eerbewys van ridderskap ontvang en het voortaan as Sir Christoffel Brand bekend gestaan.

Die dubbele identiteit is voortgesit tot Jan Brand in Nederland gaan studeer het en selfs ’n doktorsgraad daar verwerf het, maar hom tog as advokaat in Engeland gaan bekwaam het. Dit was noodsaaklik as hy ooit aan die Kaap, as Britse kolonie, sou wou praktiseer.

’n Loopbaan as regsgeleerde in Engeland moes vir Brand ’n lonende vooruitsig gewees het, maar hy het verkies om na die Kaap terug te keer. As advokaat en professor in die regte moes die Kaap ook vir hom ’n versekerde loopbaan gebied het. Die kolonie was vinnig aan die uitbrei en die behoefte aan goed gekwalifiseerde mense was groot. Hy is trouens tot lid van die Wetgewende Vergadering vir die kiesafdeling Clanwilliam verkies. Jan het nogtans na die onbekende, onstabiele Republiek van die Oranje-Vrystaat vertrek, om homself as president verkiesbaar te stel. As politieke denker was die republiek as staatsvorm vir hom veel aantrekliker as ’n monargie. ’n Jong republiek waar baie grondslae nog gelê moes word, was waarskynlik vir die jong idealis met avontuurlus in sy bloed, ’n aantreklike bestemming. Of Brand dit besef het, is nie duidelik nie, maar sy verkiesing tot president van die Vrystaat het sy lewenstaak ingelei.

Hoewel die Vrystaat in 1863 nie so onstabiel as sy noordelike buurman, die Zuid-Afrikaansche Republiek was nie, was dit nog ver van ’n welvarende staat. Die republiek het in die ooste aanspraak op grond gemaak, wat die Basotho onder Koning Mosjesj as hulle eiendom beskou het. Daar was dus voortdurende spanning tussen die groepe, wat meer as een maal tot onbesliste oorloë gelei het. Die onvermoë om hierdie probleem bevredigend op te los het direk tot die bedanking van presidente Josias Hofman en JN Boshof gelei en tot die einde van MW Pretorius se presidentskap bygedra. Die feit dat die staatskas feitlik leeg en sonder inkomstebronne was, het sake verder bemoeilik.

Brand het besef dat vrede en ’n doeltreffende grens tussen die Vrystaat en die Basotho voorrang moes kry. Dit is in hierdie moeilike tyd dat sy spreuk van “Alles sal regkom…” ontstaan het. Hy het die stryd met groot wysheid gelei, deur die front gereeld te besoek, maar nie die alledaagse regering te verwaarloos nie. Die uiteinde, waarvolgens Mosjesj Britse beskerming gevra het, was vir die Vrystaters onbevredigend. Tog het hulle onder Brand se leiding daarin berus en die voordele van ’n veilige republiek geniet.

Na die vrede in 1869 het die moeilike taak van ekonomiese opbou, op so ’n manier dat die staatskas ook gevul kon word, voorgelê. In hierdie tyd het dit gelyk of ’n onverwagse meevaller die taak veel makliker sou maak: Diamante is eers in die omgewing van Hopetown in die Kaapkolonie ontdek, maar sedert 1870 het dit geblyk dat die grootste neerslae in die verre westelike deel van die Vrystaat was.

Die Vrystaatse regering het geen twyfel gehad dat die Kimberleyse diamantvelde – soos dit spoedig bekend sou word – in sy grondgebied gelê het nie. Dié deel is vroeër as Griekwa-gebied erken, maar is jare tevore deur president MW Pretorius vir die Vrystaat gekoop. Die grond was effektief onder hulle beheer, sonder dat enigiemand dit betwis het.

Die Britse regering kon nie sien dat die rykste diamantgebied op aarde in een van die Boererepublieke val nie. Die Kaapkolonie het Britse steun as hulle daarop sou aanspraak maak, van die hand gewys. Uiteindelik het Brittanje sy steun aan uiters twyfelagtige Griekwa-aansprake gegee. ’n Voorstel dat die hele kwessie aan arbitrasie onderwerp word, was vir Brand heeltemal onaanvaarbaar. Hy het besef dat die voorgestelde arbiter, luitenant-goewerneur Keate van Natal, nie onpartydig sou wees nie. As die Vrystaat aan arbitrasie sou deelneem en verloor, sou daar nie ander maniere wees om op hulle regte aan te dring nie.

Brand se aanvoeling was korrek en Keate het bevind dat die diamantdraende gebied eintlik aan die een Griekwa-groep behoort het. Brand het dit betwis en vas geglo dat die Britse regering hulle nie aan so ’n onreg sou skuldig maak nie. Hy het selfs na Engeland gereis om die toekenning te laat omkeer, maar sonder sukses. Al waarvoor die Britse regering te vinde was, was ’n kontantbedrag van 90 000 Britse pond as vergoeding.

Die onregverdige toekenning en weiering om ten volle daarvoor te vergoed, was ’n hewige skok vir Brand se geloof in Britse geregtigheid. Tog het hy besef dat die Vrystaat nie sterk genoeg was om sy regte af te dwing nie en het daarby berus. Hy het die geld gebruik om ’n nasionale bank vir die republiek op te rig en die staatsdiens op vaste voet te plaas. Boonop het die Vrystaat indirek voordeel uit die diamantvelde getrek. Daar was skielik ’n mark vir Vrystaatse landbouprodukte en transportryers kon heelwat geld verdien. Sonder die probleem van ’n vreemde bevolking binne sy landsgrense, kon die Vrystaat tog die staatskas vul.

’n Derde kwessie wat Brand se presidentskap gekenmerk het, was die vraag of die Vrystaat nader aan die Kaapkolonie of die ZAR moes beweeg. Die meeste burgers en die volksraad het geglo dat die ZAR ’n natuurlike bondgenoot was, maar Brand was tot die Kaapkolonie geneig. Hy was ten gunste van ’n uiteindelike federasie tussen Suid-Afrikaanse gebiede, onder Britse leiding. Teenoor aandrang om aansluiting by die ZAR, het hy Vrystaatse onafhanklikheid bepleit.

In Brand se aanvaarding van die Britse finansiële skikking in die diamantgeskil, het sommige burgers ’n bedreiging gesien dat hy te sterk Britsgesind was. Hierdie agterdog is sedert 1877 versterk toe Brittanje die ZAR geannekseer het. Brand het gevrees dat hy sy eie republiek in gevaar sou stel as hy hom by die ZAR skaar, en streng neutraal gebly. Selfs toe oorlog in 1880 ophande was, het hy Vrystaatse burgers verbied om daaraan deel te neem. Na afloop van die oorlog is hy deur die Britse owerheid so hooggeag dat hy gevra is om vredesonderhandelinge te bemiddel. Vir die bekwame wyse waarop hy dit hanteer het, is hy kort daarna met ’n ridderskap beloon. Hy sou voortaan ook as “Sir John Henry Brand” bekend staan.

Brand se aanvaarding van ’n Britse ridderskap was nie in sy republiek gewild nie. Tog het die burgers soveel eerbied vir sy leierskap gehad, dat hy weereens tot president herkies is. Hy is in 1888 in die amp van president oorlede

Die feit dat die Vrystaat deur die negentiende-eeuse politieke wetenskaplike, lord Bryce, as ’n modelrepubliek bestempel is, het baie met Brand se leierskap te doen gehad. Hy het die vermoë gehad om konflik te vermy solank dit moontlik was, maar met kompromieë in sy guns te beklink as dit onvermydelik geword het. Verder was hy buitengewoon kundig en bekwaam. Daarmee het hy ’n standaard gestel waaraan sy opvolgers, FW Reitz en MT Steyn, ook voldoen het.

Slot

Die Republiek van die Oranje-Vrystaat was ’n voorbeeld van hoe doeltreffend ’n land regeer kon word, selfs al was daar nie ’n sterk stedelike kultuur en bronne waaruit die staatskas tot oorlopens gevul kon word nie. Hierdie prestasies was grootliks die prestasie van Johannes Henricus Brand.