Generaal Koos de la Rey is een van die mees gevierde Boeregeneraals, wie se krygsvernuf hom as die Leeu van Wes-Transvaal bekend laat word het. Die buitengewone manier waarop hy dood is en sy verbintenis met “Siener” van Rensburg, het sy nagedagtenis amper ’n element van betowering gegee. Met Bok van Blerk se treffer, “De la Rey” het sy naam vir ’n nuwe geslag Afrikaners bekend geword. Die liedjie het min met die historiese De la Rey te doen en die indruk bestaan dat hy uit alle Boereleiers gekies is, omdat sy naam so goed rym met die frase “Sal jy die Boere kom lei?” Dit sê dus meer van die era waarin die liedjie ’n treffer geword het as van De la Rey self. Tog het dit hernude belangstelling in hierdie groot Boereleier gewek.

Biografiese gegewens

Jacobus Hercules de la Rey is in 1847 in die Winburg-distrik in die Vrystaat gebore. As jong man het hy nie dadelik gaan boer nie, maar eers ’n transportryer in en om die diamantvelde geword.

Tot diep in die 1870’s was ’n ossewa die enigste manier om vrag in Suider-Afrika te vervoer. Die eerste spoorlyn is in die 1860’s gebou, maar dit het net Kaapstad en Wellington aan mekaar verbind. Toe die ryk diamantvelde van Kimberley en omgewing in 1870 oopgestel is, was daar skielik ’n stormloop van mense en goedere na hierdie droë deel van die land, ongeveer ’n duisend kilometer van Kaapstad af. Die mense en alles wat hulle in Kimberley nodig gehad het, van myntoerusting tot meubels en luukse goedere, moes per ossewa van Kaapstad af vervoer word. Ook in die binneland is voedsel, hout en ander plaasprodukte per ossewa na Kimberley vervoer. Mense wat dié sakegeleentheid benut het, is transportryers genoem. In die Boererepublieke, waar boere hoofsaaklik selfversorgend was maar min kon verkoop, was transportry een van min maniere om geld te verdien.

Nadat die jong Koos de la Rey geld as transportryer verdien het, het hy sy hand ook aan delwery gewaag. Hy was nie een van die kitsmiljoenêrs wat die delwerye opgelewer het nie, maar het ook nie, soos baie ander, alles daar verloor nie. Later kon hy die plaas Elandskloof in die Lichtenburg-distrik koop, waar hy die res van sy lewe gebly het. Hy was nie net ’n suksesvolle boer nie, maar het ook aan die openbare lewe deelgeneem.

Die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR of Transvaal) het nie ’n staatsdiens gehad wat gesag oor die uitgestrekte republiek kon uitoefen nie. Veldkornette in elke wyk, en ander ampte soos Naturellekommissarisse en vrederegters, is uit die gewone burgers gekies. Daar is na hierdie mense opgesien en heelwat opoffering is ook van hulle verwag. De la Rey het in verskeie van hierdie posisies gedien, voordat hy in 1883 tot die ZAR se Volksraad verkies is. Hierdie posisie het hy beklee tot die republiek weens Britse anneksasie ontbind is.

Die Anglo-Boereoorlog was die periode waartydens De la Rey sy naam gemaak het. Vroeg in die oorlog het sy een seun naby Magersfontein gesneuwel. Sy bydrae tot die Boere se oorlogspoging word in die volgende afdeling bespreek. Hoewel sy plaas, soos ander regoor die republieke, tydens die oorlog vernietig is, was sy vrou, Nonnie, nooit in ’n konsentrasiekamp nie. Sy kon die volle duur van die oorlog die Britse magte ontwyk.

Na die oorlog was De la Rey een van die mees gerespekteerde Boereleiers. Hy het aktief aan die heropbou van sy volk deelgeneem en was ’n lid van die Verteenwoordigende Regering wat die nuwe kolonie in 1904 van Brittanje ontvang het.

Met Uniewording in 1910 was De la Rey een van die oprigters van die Suid-Afrikaanse Party, die party wat deur die meeste Afrikaners gesteun is. Hoewel verskille met partyleiers soos generaals Louis Botha en Jan Smuts al vroeër geblyk het, was hy een van hulle lojaalste ondersteuners. Hy is in die Senaat van die Unie van Suid-Afrika aangestel, waarvan hy tot sy dood ’n lid was.

Toe De la Rey in 1914 dood is, kon sy politieke loopbaan nog vele hoogtepunte opgelewer het. Hy is deur die polisie doodgeskiet, toe sy motor deur ’n padblokkade gejaag het. Die polisie het die fout gemaak om te dink dat dit die motor van ’n berugte rowerbende was. In die volgende afdeling word ook hierop teruggekom.

Openbare lewe

Koos de la Rey is in 1893tot die ZAR se Eerste Volksraad verkies. Dit was die Volksraad waarin slegs burgers van die republiek stemreg gehad het en wat die meeste mag gehad het. Die Tweede Volksraad het ook Uitlanders ingesluit, maar minder mag gehad.

In die ZAR was daar nie politieke partye nie. Die president is direk deur die burgers verkies. Hulle het ook in elke kiesafdeling ’n volksraadslid uit ’n lys van kandidate verkies. Nogtans was daar politieke verskille. Die Kruger-faksie was konserwatief en wou veral geen toegewings aan die Uitlanders, veral in terme van stemreg, maak nie. Die sogenaamde Progressiewes, met generaal Piet Joubert as leier, was ten gunste van ’n meer gematigde beleid. Hulle het geglo dat die onbuigsame beleid van Kruger tot regmatige politieke en ekonomiese griewe onder Uitlanders gelei het. Verder het hulle geglo dat ’n oorlogsugtige party in Engeland hierdie griewe gebruik het om ’n klimaat van oorlog teen die ZAR te stook. Koos de la Rey en Louis Botha was albei deel van hierdie groep.

Toe die moontlikheid van oorlog in 1899 in die Volksraad bespreek is, het De la Rey hom sterk daarteen uitgespreek. Dit het tot spot en belediging van meer oorlogsugtige lede gelei, waarop hy een van sy mees beroemde toesprake gehou het. Hy het verklaar dat hy hom by die besluit van die meerderheid sou berus en tot aan die bitter einde in die veld sou bly. Hy het egter gevrees dat van dié lede wat so maklik oor oorlog praat, voor daardie tyd reeds die wapen sou neerlê. Dit sou uiteindelik profetiese woorde wees.

Die hoogste leiding van die ZAR-regering en – verdedigingsmag was manne wat hulle merk in die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881 gemaak het. Generaal Piet Joubert was die kommandant-generaal en generaal Piet Cronjé in bevel van die Wes-Transvaalse magte. Joubert was ’n knap strateeg, maar sy jare het teen hom getel. Verskeie swak besluite aan die begin van die oorlog kan aan sy huiwerigheid toegeskryf word. Cronjé was nooit werklik ’n bekwame aanvoerder nie. Die meeste Volksraadslede is as veggeneraals in hulle eie omgewings aangewys. Dit was nie in alle gevalle suksesvol nie, maar met Louis Botha en Koos de la Rey is van die mees bekwame aanvoerders aangestel. Hulle was deel van ’n jonger geslag wat tydens en na die oorlog leiding sou neem.

Die soort oorlog waaraan die Boererepublieke gewoond was, was om die vyand te beleër. As hulle die vyand lank genoeg van lewensnoodsaaklikhede kon afsny, moes hulle later oorgee. Die mees dinamiese deel van dié soort oorlog, was om te keer dat versterkings die vyand bereik. Op die manier het hulle teen verskeie swart stamme sukses behaal, asook teen Engeland in 1880 tot 1881. Die Boeremagte het, na oorlogsverklaring op 11 Oktober 1899, vinnig beweeg om Britse magte en burgerlikes in Mafeking (vandag Mahikeng) en Kimberley te beleër. Britse versterkings was in aantog en Boeremagte se belangrikste taak was om dit te stuit.

Cronjé en sy ondergeskikte, De la Rey, het ernstig gebots oor watter strategieë gevolg moes word. De la Rey wou ’n meer dinamiese en aanvallende strategie volg, terwyl Cronjé geglo het dat hulle op verdediging moes konsentreer.

De la Rey het skouspelagtige sukses behaal toe hy die Britse opmars by Magersfontein gestuit het. Hy het loopgrawe uitmuntend gebruik. Dit is voor die heuwels gegrawe, terwyl die Engelse gedink het die Boere agter klippe en bosse teen die heuwelhange skuil. Die Britse kanonne het skadeloos oor die Boere se koppe gegaan, terwyl die Britse magte onder ’n genadelose en akkurate Mauservuur deurgeloop het.

Die Britse opmars is vir etlike weke gestuit. Terwyl De la Rey dit wou opvolg deur die spoorlyn na Kaapstad sover moontlik te beset, het Cronjé aangedring dat die Boere hulle nog sterker rondom Kimberley moes ingrawe. Teen die hernude Britse opmars was die Boere eenvoudig nie opgewasse nie en hulle moes Kimberley prysgee. Van daar het die Britte na Bloemfontein opgeruk en Cronjé het hom met ’n mag van ongeveer vierduisend burgers in die bedding van die Modderrivier naby Paardeberg (halfpad tussen die twee stede) ingegrawe. Daar is hulle vasgekeer en moes aan die Britse magte oorgee.

Hoewel die oorgawe van so ’n groot mag (nogal op 27 Februarie 1900, Majubadag) ’n groot knou was, het dit ook positiewe gevolge gehad. Die belangrikste was dat veggeneraal Koos de la Rey tot Assistent Kommandant-Generaal, Bevelvoerder van die Westelike magte, bevorder is. Saam met Louis Botha, Kommandant-Generaal en Bevelvoerder van die Oostelike magte en nog ’n jong man, Christiaan Frederik Beyers, Assistent Kommandant-Generaal en Bevelvoerder van die Noordelike magte, was die top bevelstruktuur voortaan ’n gedugte span.

De la Rey het tydens die Guerilla-fase uiters suksesvol in die Wes-Transvaal opgetree en was teen April 1902 nog gewillig om die stryd voort te sit. Nadat hy die geheelbeeld gekry het, het hy tog ook ingestem dat “die bitter einde” aangebreek het. Hy het dus vir die Britse aanbod vir vrede gestem.

Na die oorlog was die oud-generaals ’n gedugte krag om hulle volk weer op te bou. Hulle het krygsgevangenes wat nie kon terugkeer nie, omdat hulle geweier het om ’n eed van getrouheid aan die Britse Kroon te sweer, besoek en aangemoedig om hulle met die onvermydelike te versoen. Hulle ook het geld vir die heropbou van die oud-republieke in Europa ingesamel. Toe die Britse owerheid hulle in ’n aangestelde regering wou betrek, het hulle geweier, omdat hulle slegs in ’n verkose owerheid sou dien. Met die doel het hulle in die “Transvaal Colony” die Het Volk party gestig en die eerste verkiesing onder verteenwoordigende bestuur gewen. Hulle het ook konstruktief aan samesprekings vir die vorming van die Unie van Suid-Afrika deelgeneem.

Onder al die hartlike en lojale samewerking, het ’n diepliggende verskil tussen die generaals ontstaan. Botha en Smuts (die ZAR se staatsprokureur wat tydens die oorlog tot generaal bevorder is) het hulle met Britse oorheersing versoen en wou sien dat Afrikaners ’n trotse deel van die roemryke Britse Ryk word. De la Rey, Beyers en die Vrystaters, De Wet en Hertzog, het hulle nie daarmee versoen nie. Hulle het geglo dat ’n vrye Afrikaner republiek so gou moontlik oor die hele Suid-Afrika uitgeroep moes word.

Die verskil tussen die groepe Boeregeneraals was ernstig, maar persoonlike verhoudings het nog veel swaarder geweeg, veral in die geval van De la Rey. Botha en Smuts het hom gereeld persoonlik geraadpleeg, in Kaapstad waar hy senator was, maar ook op sy plaas buite Lichtenburg. Hy het nie kans gesien om by Hertzog aan te sluit toe dié met Botha en Smuts gebreek het nie, omdat die persoonlike band net te sterk was.

Toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, het dit die leierskorps voor ’n keuse geplaas: Moes hulle aan die Engelse versoek (opdrag) voldoen om Duitsland se kolonie, Duitswes-Afrika (vandag Namibië) te verower, of moes hulle Brittanje se krisis aangryp om onafhanklik te word. Botha en Smuts het op die eerste moontlikheid aangedring en omdat hulle die regeringsmag gehad het, kon hulle dit afdwing.

‘n Koorsagtige gees van agterdog het onder Afrikaners posgevat. De la Rey, Beyers, De Wet en ander Boereleiers soos generaals Kemp en Manie Maritz was teen die oorlogsverklaring gekant, maar moes nog op geskikte optrede besluit. Gesprekke tussen die genoemde generaals en oud-president MT Steyn het voortdurend plaasgevind. Vir albei kante was dit belangrik wat “Oom Koos” de la Rey sou besluit. Sy invloed onder Transvaalse Afrikaners was baie groot en daar is geglo dat hy die deurslag kon gee.

Daar was goeie rede om soveel ag op De la Rey se mening te slaan. Hy was ’n vryheidliewende Afrikaner oor wie se opregtheid niemand getwyfel het nie. Tog was hy ook ’n gematigde man, wat nie ligtelik tot geweld sou oorgaan nie. As rebellie die verkeerde weg was, was hy die enigste wat van die heethoofdiges daarteen kon oortuig. Sy besondere sterk band met Botha en Smuts het hom die enigste persoon gemaak wat hulle tot ander insigte kon bring. Afrikaners van alle oortuigings het na De la Rey vir leiding opgesien.

Onder dié gespanne omstandighede het Beyers en De la Rey na Potchefstroom vertrek. Beyers het uit protes as hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag bedank en dit was duidelik dat hy dopgehou is. In Potchefstroom was Kemp in bevel van ’n deel van die burgermag. Daar sou hulle oor die regte optrede besin.

In die tussentyd het die polisie se net stywer om berugte rowers, die sogenaamde Foster-bende, gespan. ’n Padblokkade is opgerig om hulle vas te trek, juis op die pad wat Beyers, De la Rey en hulle bestuurder gevolg het. Toe hulle die blokkade sien, het hulle besluit om deur te jaag. ’n Polisielid het ’n waarskuwingskoot na die voertuig geskiet, wat die bakwerk binnegedring het. Dit het opgeslaan en De la Rey dodelik getref.

Die rebellie het uiteindelik plaasgevind, maar dit was ’n ramp. Daar was nie ’n duidelike doel of strategie nie en die weermag, met al sy hulpbronne, was vir die rebelle te veel. Beyers het in die Vaalrivier verdrink toe hy deur die vloedwater probeer swem het om te ontsnap en De Wet is in die Kalahari, op pad Duitswes toe, gevang. Rebelle kommando’s is een na die ander aangekeer en hulle aanvoerders in die tronk gegooi. Almal is vrygelaat voor hulle hul vonnisse uitgedien het, behalwe Jopie Fourie. Hy was ’n weermagoffisier wat gerebelleer het sonder om uit sy amp te bedank. Daarom is hy van hoogverraad aangekla en deur ’n vuurpeloton doodgeskiet.

As De la Rey nie dood was nie, kon hierdie sake heel anders verloop het.

Besondere bydrae

Generaal Koos de la Rey het regdeur sy lewe ’n groot bydrae gelewer. Voor die oorlog het hy ’n belangrike minderheidstandpunt verteenwoordig. Tydens die oorlog was hy een van die mees onverskrokke en bekwame aanvoerders. Na die oorlog het hy ’n belangrike bydrae gelewer om die vryheidstrewe by Afrikaners lewend te hou, teenoor die aanloklikheid van inskakeling by die groot Britse Ryk. Selfs na sy dood was hy ’n simbool van Afrikanerskap en die strewe na ’n herstelde republiek.

Slot

Miskien is dit nie net toevallig of aan rym toe te skryf dat De la Rey se naam deur ’n nuwe geslag Afrikaners aangegryp is nie. Miskien is sy bydrae so diep in die kollektiewe geheue ingegrif dat ’n herlewing van Afrikanerskap aan sy naam gekoppel is.