cr de wet

Generaal Christiaan de Wet is die mees legendariese van alle Afrikanermilitariste. Hy het die kuns van guerilla-oorlogvoering, of soos hy dit liewer genoem het, die oorlogvoering van slaan-en-val, soos min mense voor of na hom bemeester. Daarvoor het hy geen militêre opleiding gehad nie, maar wel ’n leeftyd waarin hy naby aan die veld geleef het en die landskap besonder goed leer ken het. Sy lewensverhaal is werklik buitengewone leesstof.

Biografiese gegewens

Christiaan Rudolf de Wet is op 7 Oktober 1854 op ’n plaas tussen die latere Dewetsdorp en Smithfield gebore en in 1922 in dieselfde omgewing oorlede. Dit versteek die feit dat hy talle male in sy 67-jarige leeftyd getrek het. Dewetsdorp is na generaal De Wet se pa, Ignatius Jacobus de Wet, vernoem. Hy was veldkornet van die omgewing en het geglo dat ’n dorp die gevaarlike toestande, so naby aan die grens met Basoetoland (vandag Lesotho) sou verbeter. Die dorp is in 1880 gestig en na hom vernoem. Dit was in die voortdurende staat van vyandigheid tussen die Vrystaat en die Basotho’s (die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho is tot vandag toe nog ’n twispunt) dat De Wet as kind sy eerste militêre ondervinding gehad het.

Op 19 het Christiaan met Cornelia Margaretha Kruger getrou en hulle sou uiteindelik 16 kinders hê. Dat De Wet ’n rustelose siel gehad het, blyk uit die talle male wat hy met sy gesin na nuwe plase verhuis het. Hy het ook vir ’n tyd lank as transportryer gewerk. In die tyd van die Britse anneksasie van die ZAR (1877) het hy na die Heilbron-, en later Koppies-omgewing getrek. Party geskiedkundiges dink dat hy naby aan moontlike aksie in ’n bevrydingsoorlog wou wees.

In 1880 het De Wet die grens oorgesteek en in die Heidelberg-distrik gaan boer. As deel van die Heidelbergse kommando is hy na die grens met Natal en het aan die gevegte by Laingsnek, Ingogo (Schuinshoogte) en Majuba deelgeneem. Hy het hom as ’n dapper kryger onderskei. Hy het spoedig ’n veldkornet in die ZAR geword. In 1882 het hulle na Lydenburg verhuis, waar hy in 1885 tot die Volksraad verkies is.

Om lid van die Volksraad te wees, was blykbaar vir De Wet nie baie belangrik nie, want na net een sitting het hy weer Vrystaat toe verhuis. Daar is hy in 1889 tot die Volksraad verkies en het tot in 1898 ’n lid gebly.

Toe die Vrystaatse regering sy burgers opgeroep het vir ’n naderende oorlog, het De Wet en drie van sy seuns as deel van die kommando van Heilbron aangemeld. Nog in Oktober 1899 is hy as waarnemende kommandant aangestel. Op 9 Desember 1899 word hy tot veggeneraal bevorder en in Februarie 1900 tot bevelvoerder van al die Vrystaatse kommando’s, of, soos dit genoem is, hoofkommandant van die Vrystaatse magte. Dit is die amp waarin De Wet vir die res van die oorlog gedien het, behalwe vir twee dae (30 en 31 Mei 1902) toe president M.T. Steyn siek was en De Wet as waarnemende staatspresident van die Vrystaat die Vrede van Vereeniging geteken het.

De Wet is na die oorlog terug na sy afgebrande plaas. Terwyl sy vrou en kinders nog in ’n tent gebly het, is hy saam met ander Boeregeneraals na Europa om fondse vir die heropbou van die vernietigde oudrepublieke te werf. Met sy terugkeer was hy weer in die Vrystaatse politiek betrokke. Hy was die “Orange River Colony” se wetgewerlid vir Vredefort en ook minister van landbou. Toe Uniewording van die vier Suid-Afrikaanse kolonies bespreek is, was De Wet deel van die Vrystaatse afvaardiging.

Vir ’n vollediger bespreking van die Rebellie, wat die volgende groot gebeurtenis in De Wet se lewe was, kyk na die profiel van generaal Koos de la Rey. Hier is dit belangrik om te noem dat De Wet een van die rebelle was wat nie kans gesien het om in oorlog teen Duitsland betrokke te raak nie. Duitsland was een van die lande wat die Boere se saak altyd goedgesind was, en nou is van hulle verwag om teen Duitsland oorlog te maak.

De Wet het met ’n groep volgelinge tot rebellie oorgegaan. Nog in die Vrystaat is hulle deur ’n mag onder generaal Louis Botha verslaan. Die meeste rebelle het gevlug. Na nog ’n nederlaag het De Wet sy ondersteuners aangeraai om hulle oor te gee, terwyl hy en sy naaste medewerkers sou poog om by generaal Manie Maritz in Duitswes-Afrika (Namibië) aan te sluit. In die Kalahari, noord van Vryburg, is sy perdekommando deur die regeringsmagte in motors ingehaal.

De Wet is van hoogverraad aangekla, omdat hy teen sy eie land se weermag die wapen opgeneem het. Hy is ’n boete van 6000 pond en twee jaar tronkstraf opgelê. Hy was self verbaas dat die vonnis so lig was, maar het nog steeds nie die geld gehad om so ’n boete te betaal nie. Die geld is binne ’n kort tyd onder volksgenote ingesamel en binne een jaar was De Wet weer ’n vry man. Hy moes nietemin onderneem om nie weer by politiek betrokke te raak nie.

Na die tronkstraf was De Wet se gesondheid geknak. Hy het nietemin kans gesien om weer te trek, die keer na ’n plaas buite Edenburg in die suidoos-Vrystaat. Later het hy weer verhuis, die keer na ’n plaas buite Dewetsdorp. ’n Groot siklus is voltooi toe De Wet in dieselfde omgewing waarin hy in 1854 gebore is, in 1922 gesterf het. Hy is aan die voet van die Vrouemonument, saam met president M.T. Steyn en Emily Hobhouse begrawe.

Openbare lewe

Ons het gesien dat Christiaan de Wet reeds van ’n jong ouderdom sy slag as militaris gewys het. In ’n staat (of state) wat voortdurend voor die een of ander militêre krisis beland het, soos die Boererepublieke, was dit ’n groot aanbeveling. Waarskynlik kan ’n mens die feit dat hy telkens weer tot die Volksraad verkies is, hieraan toeskryf. Die feit dat hy so maklik getrek het, laat ’n mens vermoed dat sy politieke sukses aan militêre vermoëns toe te skryf is, eerder as ’n sterk en stabiele figuur.

Tydens die Anglo-Boereoorlog was De Wet een van die jonger geslag militêre leiers wat deur die loop van die oorlog oorgeneem het. Hy het besef dat die selfstandigheid van Boerekrygers ’n voordeel was, maar in ’n ramp kon ontaard as hulle nie bereid was om gesag te aanvaar nie. In sy kommando’s was hy dus op dissipline gesteld en het glad nie omgegee om dit af te dwing nie. ’n Mens kan sê dat hy meer gerespekteerd as geliefd was, want sy humeur was kort en straf op swak dissipline genadeloos.

De Wet is in die hoogste militêre pos van die Vrystaat aangestel, nadat die Britse oorlogsmasjien die Boere reeds platgerol het. Hy het dus nie kans gehad om sy talente ten volle tydens die vroeë stellingfase van groot veldslae te bewys nie. Toe die hoofstede ingeneem was en die Boere moeilik meer groot veldslae sou wen, het hy die grondslae vir die sogenaamde guerilla-fase van die oorlog gelê.

“Guerilla” is die verkleiningsvorm van die Spaanse woord “guerre”, wat oorlog beteken. Die kans bestaan dat De Wet nooit hierdie betekenis van die woord geken het nie, want hy het aanstoot geneem as mense na hom as guerilla-vegter verwys het. Hy het dalk gedink dit verwys na ’n gorilla.

Op hierdie stadium het die feit dat De Wet voor die oorlog so baie rondgetrek het, ’n groot voordeel geword. Hy het die landskap van albei republieke goed geken. Hy het ook geweet wat vir sy manne belangrik was. Daarom het hy al die Vrystaatse burgers, na die val van die hoofstede (Bloemfontein en Pretoria) vir ’n tyd lank huis toe gestuur. Hy het besef dat hulle moeg en moedeloos was. Van die Transvaalse generaals was ontsteld oor hierdie waagstuk. De Wet het volgehou dat hy beter sou vaar met minder soldate wat gewillig was om oorlog te maak, as ’n groot groep wat onder dwang daar was.

De Wet het ook verstaan dat Boerekrygers selfstandig was en hulle eie besluite wou neem. Hy het dit benut deur sy burgers in klein, selfstandige eenhede uit te stuur en algemene opdragte te gee. Die besluite wat op ’n spesifieke oomblik geneem moes word, moes die burgers self kon neem. Tog het De Wet nie swak dissipline geduld nie. Sy algemene opdragte moes uitgevoer word en in ’n gevegsituasie is lafhartigheid nie geduld nie. Hy het dikwels met ’n sambok tussen die burgers deurgejaag en die wat vlug, teruggejaag. Terwyl die Boere se aanvoerders strategie openlik bespreek het, het De Wet dit glad nie gedoen nie. Sy gelykes en ondergeskiktes het hom soms verwyt dat hy hulle in die duister laat, maar hy het geglo dat dit noodsaaklik was. Dit is om hierdie redes dat hy hoogs gerespekteer was, maar nie altyd gewild nie.

Die aandrang op sterk dissipline en gehoorsaamheid aan offisiere se opdragte het De Wet met generaals Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan Beyers gedeel. Hierdie vier aanvoerders was grootliks verantwoordelik vir die voortsetting van die oorlog nadat die Engelse gedink het dat hulle die laaste Boere net moes “opruim”.

Daar is veldslae waarin De Wet suksesvol was. Van die bekendste is Sannaspos naby Bloemfontein en Rooiwal (Roodewal) naby Koppies in die Vrystaat. Dit is egter nie waarvoor hy beroemd geraak het nie. De Wet het besef dat die Engelse ’n geweldige oormag was en dat die Boere in direkte konfrontasies geen kans gestaan het nie. Selfs as hulle tydelike oorwinnings behaal het, het die Britse magte ’n byna onuitputlike bron van nuwe troepe gehad. Sy strategie was een van klein, gevoelige aanvalle. Soos dit soms genoem is, moes die Boere soos ’n perdeby wees wat aanval en wegkom voor hy doodgeslaan kon word.

Na die hoofstede in die helfte van 1900 ingeneem is, wou die Britte met hulle groot mag die oorblywende kommando’s vaskeer en so die weerstand beëindig. Die Boere, veral De Wet, het geweet hoe om hulle in onsigbare posisies in te grawe en die vyand dop te hou. Sodra daar êrens ’n geïsoleerde groepie was, is hulle aangeval. Vir die Britte was die spoorlyne hulle lewensaar. De Wet se taktiek was om treine voor te lê en die treinspore met dinamiet op te blaas. Gewoonlik het ’n kort, intense slag gevolg, waarna die bemanning van die trein oorgegee het. Aangesien die Boere hulle nie kon gevange neem nie, is al die voorrade oorgeneem en die soldate na hulle basis teruggestuur. Later in die oorlog, toe klere vir die Boere ’n skaars item geword het, het hulle hulle eie flenter klere met Britse uniforms omgeruil.

Uit Britse oogpunt was De Wet se magte uiters gevrees. Hulle was so beweeglik, dat die Engelse (wat boonop nie die landskap geken het nie), nooit geweet het waar om hulle te verwag nie. Om hulle te agtervolg, kon ook noodlottig wees. Daarom moes die Britse magte ’n taktiek ontwikkel wat De Wet (en ander aanvoerders se guerilla-vegters) sou neutraliseer. Dit het die volgende punte ingehou:

  • Boerekrygers kon by enige plaashuis kos, water en slaapplek kry. Die vrouens en kinders is daarom na konsentrasiekampe gestuur en die plase vernietig.

  • Die Boere se kennis van die landskap is geëwenaar deur al meer swart mense en Boere in diens te neem. Die Boere het na hierdie mense as “verraaiers” of “joiners” verwys. Dié beleid het nog vir geslagte tot bitterheid gelei. Een van die mees bekende joiners was De Wet se eie broer, generaal Piet de Wet.

  • Dryfjagte is teen De Wet gevoer. Heinings is al langs die spoorlyne gespan en binne skietafstand van mekaar is miniforte (blokhuise) gebou. Britse soldate is daarin geplaas en moes enige aanslag op die spoorlyne probeer afslaan en dadelik rapporteer. Britse magte het in ’n wye kordon op Boerekommando’s inbeweeg en teen hierdie versperrings probeer vaskeer. Dit het die Boere se beweeglikheid aansienlik ingekort, maar tot aan die einde van die oorlog het dit nie vir groot deurbrake gesorg nie. Klein getalle Boere op ’n keer is wel so gevang en was vir die Boere ’n toenemende probleem.

De Wet se genialiteit het daarin gelê dat hy hierdie dryfjagte keer op keer kon ontduik. Eenkeer is hy oor die Vaalrivier gedryf tot hy teen die Magaliesberge vasgekeer was. Toe die saak onredbaar gelyk het, het hy tog ’n voetpad gevind waarlangs hy en sy volle perdekommando kon ontvlug.

Tydens die samesprekings oor vrede wat Boere-offisiere gedurende Mei 1902 in Vereeniging gehou het, was De Wet sterk teen oorgawe gekant. Hy het geglo dat die Boere nog lank teen die Britse magte kon uithou. Uiteindelik was hy een van slegs enkele offisiere wat teen die Britse voorwaardes gestem het. Die ander leiers het onder die invloed van generaals Botha en Smuts geglo dat die bitter einde inderdaad aangebreek het. Op daardie stadium kon hulle nog sekere voorwaardes afdwing, maar ’n groot ramp, byvoorbeeld die gevangeneming van De Wet, kon hulle dwing om onvoorwaardelik oor te gee.

Na die oorlog was De Wet ’n belangrike deel van die herlewing van Afrikaners se trots. Terwyl hy saam met ander Boeregeneraals na Europa op pad was om finansiële steun te soek, het hy sy herinneringe aan die oorlog te boek gestel. Sy Stryd tussen Boer en Brit is ook in Engels as Three year’s war uitgegee. Dit was ’n blitsverkoper en het lesers wêreldwyd onder indruk van die Boere se moed, vernuf en deursettingsvermoë gebring. Deur politieke deelname aan die “Orangia Unie” en as minister in die koloniale regering, het hy sy volk ook help opstaan.

Met Uniewording was De Wet een van die Boereleiers wat toenemend bekommerd was oor Botha en Smuts se Britsgesinde neigings. Dié twee leiers het geglo dat Afrikaners hulle daarmee moes versoen dat hulle deel van die Britse Ryk geword het en die geleenthede aangryp wat dit aan hulle gebied het. Generaal Hertzog, ook ’n Vrystater, was die sterkste politieke opponent hiervan. Hy het in 1914 die Nasionale Party gestig met ’n “tweestrome-beleid” teenoor Botha en Smuts se “konsiliasie”. De Wet het Hertzog ondersteun.

In 1914 het nog iets plaasgevind wat De Wet se lewe onherroeplik sou verander. Die gespanne situasie in Europa het tot oorlog gelei. Brittanje was die leier van die Geallieerdes wat teen die Spilmoondhede, onder leiding van Duitsland te staan gekom het. Baie Afrikaners het geglo dat dit die regte geleentheid was om Suid-Afrika weer van Brittanje te bevry. Botha en Smuts, daarenteen, het besluit om Brittanje aktief te steun, deur Duitswes-Afrika (vandag Namibië) te verower. Verskeie leiers was baie sterk daarteen gekant. Hulle kon nie sien dat Afrikaners die wapens teen ’n vriendskaplike moondheid soos Duitsland opneem nie. Ten spyte van pogings deur onder andere oudpresident M.T. Steyn om die groepe te versoen, is die Suid-Afrikaanse Weermag opgeroep om vir die oorlog te mobiliseer.

In die opvolgende onrus is die veel geroemde generaal Koos de la Rey per ongeluk doodgeskiet, nog voor daar vyandelikhede was. Die hoof van die weermag, generaal Christiaan Beyers, het bedank en tot gewapende protes oorgegaan. Hy het later in die Vaalrivier verdrink. Generaal de Wet het tot openlike rebellie oorgegaan. Sy mag is egter twee maal deur goed toegeruste eenhede van die weermag verslaan. Hy het sy manskappe aangemoedig om die gunstige voorwaardes vir oorgawe aan te neem, en self ontvlug.

Nog ’n rebelleleier, generaal Manie Maritz, het met ’n deel van die weermag na die Duitsers in Duitswes oorgeloop. De Wet se plan was om by hulle aan te sluit. Die weermag het snuf in die neus gekry oor waar hy was. Op die plaas Waterbury, noord van Vryburg, het ’n motorbrigade hom ingehaal en in hegtenis geneem.

De Wet is aan hoogverraad skuldig bevind, maar het ’n ligte vonnis gekry. Hy is tot ses jaar gevangenisstraf en 2 000 pond gevonnis. Die geld is deur ondersteuners ingesamel en die vonnis is versag, sodat hy na ses maande vrygelaat is. De Wet moes onderneem om nie weer aan politiek deel te neem nie. Hy het hom daaraan gehou, maar tot met sy dood het mense hom graag besoek om inspirasie en advies van hom te ontvang.

Besondere bydrae

Christiaan Rudolf de Wet se bydrae kan op verskillende maniere beskou word. Voor die Tweede Vryheidsoorlog het hy reeds ’n bydrae as leier op plaaslike vlak gelewer. Die verloop van die oorlog het hom wêreldwye roem besorg. Belangriker as dit, was dat hy mede-Boere besiel het met ’n bereidheid om die vryheidstryd voort te sit. Selfs na die oorlog was die herinnering aan sy prestasies, genoeg om volgende geslagte tot die vryheid van hulle volk te verbind. Hoewel sy deelname aan die Rebellie meer omstrede as sy deelname aan die oorlog was, het sy bereidheid om sy eie belange ondergeskik aan die vryheidstryd te stel, bewondering afgedwing.

Slot

Generaal Christiaan de Wet is deel van ’n geslag Afrikanerleiers wat volgende geslagte steeds besiel. In ’n tyd wat gewildheid en erkenning vir mense swaar weeg, is dit goed om te lees van iemand vir wie plig eerste was, en erkenning iets wat hy gekry het sonder om daarna te soek.