deur Dawie du Plessis

Piet de Wet

Piet de Wet

Pieter Daniël de Wet, sekerlik die mees berugte Boereverraaier van die Tweede Vryheidsoorlog, is op 18 Augustus 1861 op die plaas Nuwejaarsfontein in die distrik Dewetsdorp gebore, sewe jaar na sy meer beroemde en alomgevierde broer, Christiaan. Piet was ’n intelligente seun, en ’n goeie spreker. Toe hy agtien was vertrek hy en laasgenoemde na die distrik Heidelberg in die Transvaal, om daar te gaan boer. Die twee broers was baie geheg aan mekaar. Derhalwe was beide in die Suid-Afrikaanse Republiek woonagtig toe spanning laat 1880 tussen die Boere en die Britse okkupeerders in alle erns begin opbou. Piet en Christiaan de Wet woon ook die groot volksvergadering op 8 Desember 1880 te Paardekraal by. Beide is onder die voorstes tydens die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 toe generaal Niklaas Smit uitroep: “Dié wat nie lafaards is nie, volg my!” Die volgende jaar het Piet weer op kommando gegaan tydens die Mapôg-oorlog, waar hy in die veldtog teen die opperhoof Nyabêla deelneem.

Na díe oorlog vestig hy hom opnuut in die Vrystaat, waar hy in die distrik Lindley op die plaas Vinkfontein begin boer. Hy tree dieselfde jaar in die huwelik met Susanna Margaretha (ook De Wet), ’n huwelik waaruit 11 kinders gebore is. As besonder gewilde en vertroude individu word hy op die jong ouderdom van 32 as Volksraadslid vir die wyk Middel-Liebenbergsvlei in die distrik Bethlehem verkies. Hy was bekend as ’n beminde en diepgelowige mens. Anders as sy broer Christiaan, wat nooit ’n suksesvolle boer geword het nie, was Piet vooruitstrewend. In 1898 verhuis hy om onbekende redes na Pretoria, waar hy ’n vertroueling van president Paul Kruger word. Reeds die volgende jaar keer hy egter na die Vrystaat terug, waar hy ook weer woonagtig is toe die Tweede Vryheidsoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek. Kort voor aanvang van die stryd word hy as veldkornet van die kommando op Lindley verkies.

Soos meeste Vrystaters vertrek De Wet na die Natalse grens, waar sy bevelvoering tydens die Slag van Nicholsonsnek aandag trek (dit was ook die geval met sy broer Christiaan). Dit noop president Theunis Steyn om Piet de Wet tot generaal te bevorder, en hy word in bevel van die suidelike Vrystaatse magte geplaas. Hóm val die eer te beurt dat hy die eerste onder die jonger geslag Boere is om generaal te word. Onder invloed van generaal Koos de la Rey word hy ook voorstander van ’n bewegingsoorlog, in teenstelling met die stellingoorlog wat deur vorige geslagte gevoer is. Hy neem vir ’n wyle aan die beleg van Ladysmith deel, tot hy in Februarie 1900 herroep word na die wesfront om generaal Piet Cronjé te gaan bystaan. Nog onderweg kry hy die rapport dat generaal Cronjé aan lord Roberts by Paardeberg oorgegee het. Hierna veg hy onder sy broer Christiaan by die Slae van Sannaspos, Abrahamskraal, Tabakberg en Dewetsdorp, waar sy krygsvernuf weer eens opgemerk is.

Met die Britse opmars na die Republikeinse hoofstede rondom April 1900 was Piet de Wet van die oortuiging dat die volledige Boeremagte die Britte van voor moet aanvat en stuit. Christiaan de Wet het daarenteen ’n aanval van agter voorgestaan – baie meer verrassend en onkonvensioneel. Dit was tydens hierdie periode dat die eerste teken van spanning tussen die twee broers ingetree het. Nietemin kon Piet de Wet tog op meer konvensionele wyse amper 500 Kakies tydens ’n slag naby Lindley vang. Hy het egter al voor hierdie suksesse ontmoedig begin raak, en die idee van vrywillige oorgawe gekoester. Dit het aanleiding gegee tot ’n briewewisseling met generaal Hamilton en die aanbod van ’n skietstilstand aan lord Methuen. Sy traagheid het gemaak dat die Boere eerder stilsit en die dorp Lindley beleer, terwyl hy elke aand in sy eie huis gaan slaap het.

In Junie 1900 vind ’n verkiesing onder die Vrystaatse kommando’s plaas ten einde ’n opperbevelvoerder aan te wys. Die kandidate was generaal Marthinus Prinsloo, kommandant J.H. Olivier, en die twee broers De Wet. President Steyn het generaal Christiaan de Wet as hoofkommandant (die ekwivalent van die Transvaalse Kommandant-Generaal) aangewys, maar laasgenoemde het egter self ook gevoel dat daar gestem moet word. Christiaan de Wet het 26 uit die 32 stemme gekry. Klaarblyklik was Piet mismoedig hieroor. Tydens ’n besoek aan Piet se plaas hierna (waar hy nie teenwoordig was nie) het generaal Hertzog en die vrywilliger Oscar Hintrager moes aanhoor hoe negatief ook mevrou De Wet was, wat bly praat het oor die moontlike afbrand van plase. Volgens hulle het sy ’n bepalende invloed op haar man se gedrag uitgeoefen. Toe Piet aan Christiaan in laat Julie vra of hy nog kans sien om die stryd voort te sit, snou sy ouer broer hom toe: “Is jy gek?” Die spanning tussen hulle is op die spits gedryf, en toe Piet en sy manskappe ’n week later oorgee, was dit die finale breuk tussen die twee. Toe generaal Christiaan de Wet die nuus van Piet se oorgawe hoor, mompel hy: “Pleks het ek hom maar liewer geskiet.”

Piet de Wet kon nou as “protected burgher” ongestoord op sy plaas woon. Tog was hy ongeveer vier maande lank in Durban op parool. Hy was van mening dat die voortsetting van die oorlog futiel was, en die voortvegtendes verantwoordelik gehou vir die vernietiging van die land en die sterftes onder die bevolking. Daarom het hy in Desember 1900 gehelp om die “Burgher Peace Committee” tot stand te bring, waarvan hy ook die voorsitter word. Hierdie liggaam sou hom die volgende drie maande bemoei met die oortuiging van die Boere te velde, hul vrouens in die moordkampe, sowel as Afrikanerleiers in die Kaap, dat die stryd gewonne is. Hy sê in Januarie 1901 in ’n ope brief aan sy broer Christiaan dat hy nie ’n verraaier is nie, aangesien hy openlik met laasgenoemde en president Theunis Steyn oor sy oortuigings gesels het. Vanweë die Burgervredeskomitee se gebrek aan sukses, word die Orange River Colony Volunteers, geskoei op die lees van die National Scouts in Transvaal, in die lewe geroep. Nou gaan ’n groep afvallige Vrystaatse burgers letterlik oor om in gewapende konflik teen hul broers en landgenote te tree, en sodoende aan Britse kant as joiners te baklei.

Piet de Wet het die Boeresaak as bloot ’n sentimentele en emosionele petalje beskou, en per geleentheid “sentiment” as “the curse of my Race” beskrywe. Hy het hom nou volkome met die idee van Britse heerskappy vereenselwig, en later ook gesê dat die “aantygings” van die Britse mishandeling van Boervroue en -kinders ongegrond is. Buiten sy eerlike oortuigings (waarvan die teendeel nog nooit bo redelike twyfel bewys is nie, want genoeg dokumentasie staaf sy latere uitsprake) was daar egter ook finansiële gewin vir Piet de Wet uit sy verraad. Só het hy byvoorbeeld van die vee ontvang wat die Britte by die Boere gesteel het. Die “Volunteers” was nie slegs gehate onder die Bittereinders nie, maar onder die hele volk. Hul harde behandeling van vroue, kinders en oumense (byvoorbeeld tydens die afbranding van plase en tydens verblyf in die moordkampe) het in die besonder uitgestaan. Hierdie haat het verdiep toe die joiners in 1903 om vergoeding en kompensasie by die nuwe Britse oorheersers aanklop.

Vanaf 1903 onttrek Piet de Wet hom aan die openbare lewe, en wy hom aan die landbou. Hy het op sy plaas die lewe van ’n verstoteling gevoer. Sy neef Barend het ná die oorlog in ’n brief vir hom gesê dat hy (Piet) vir die ganse Afrikanernasie nie meer bestaan nie, en dat die ganse Suid-Afrika nog te klein sal raak vir hom. Tydens generaal Christiaan de Wet se gevangenisskap na die Rebellie het Piet hom in 1915 wou besoek – ook om “die saak tussen hom en sy broer uit te maak.” Christiaan de Wet het geweier, aangesien hy “niks aan hom te sê [het] nie!” Tot sy dood het Christiaan de Wet nooit weer met sy broer gepraat nie. Piet de Wet sterf op 27 Februarie 1929 op sy plaas. Sy vrou en al sy kinders oorleef hom.

Verdere leesstof:

 

  • Du Preez, M. 2004. Broedertwis. (In Of Warriors, Lovers, and Prophets: Unusual Stories from South Africa’s Past. Cape Town: Zebra Press p.121-131).
  • Grundlingh, A. 1999. Die “Hensoppers” en “Joiners”: Die rasionaal en verskynsel van verraad. Pretoria: Protea.
  • Grundlingh, A. 2001. General Piet de Wet. (In Torlage, G. red. Leaders of the Anglo-Boer War, 1899-1902. Braamfontein: Raven Press. p. 27-29).
  • Van Rensburg, A.P.J. 1970. De Wet, Pieter Daniël. (In De Kock, W.J. red. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, I. Pretoria: RGN. p. 195-197).
  • Van Schoor, M.C.E. 2007. Christiaan Rudolph de Wet: Krygsman en Volksman. Pretoria: Protea.