Marthinus Prinsloo is op 9 Oktober 1838 in die distrik Graaff-Reinet gebore, oudste seun van Nicolaas Frans en Isabella Johanna Petronella Rautenbach. In die 1840’s trek die gesin na die Vrystaat en vestig hulle vir ’n wyle op Bloemfontein, waarna hulle na die plaas Waterval in die Bethlehem distrik verhuis. Soos menige pionierseun het die jong Marthinus het weinig formele skoolopleiding ontvang. Tog openbaar hy reeds op ’n vroeë ouderdom leierseienskappe en is hy bekend as ’n skrander en begaafde seun, veral na sy optrede in die Basotho-oorloë. Reeds op die jong ouderdom van 28 word hy in Augustus 1867 verkies as veldkornet vir die Winburgkommando. Ná die Basotho-oorlog word die taak Prinsloo opgelê om die okkupasiewet in die Verowerde Gebied toe te pas, sowel as om die plase daar te inspekteer.

Vir sy aandeel in die oorlog ontvang Prinsloo in 1869 die plaas Leeuwspruit in die Ladybrand distrik, waar hy snel vooruitboer en ’n gesiene man in die omgewing word. Hy trou met Elsie Petronella Jacoba Botha, wat vir hom vyf seuns en agt dogters in die lewe bring. In 1876 word hy verkies as volksraadslid vir die wyk Koranaberg. Hy dien op ’n aantal kommissies, en raak bekend as ’n goeie spreker. Hy vestig hom in 1882 opnuut op die familieplaas Waterval, en reeds in 1883 word hy weer tot die volksraad verkies, hierdie maal vir die wyk Taaiboschspruit. Hy dien terselfdertyd as kommandant van die Winburgkommando, en hy is ook vrederegter. In 1889 onttrek hy hom uit die openbare lewe, koop ook die plaas Vredepoort, en word ’n vermoënde man.

Toe die kommandeerbevel in Oktober 1899 uitgaan is Marthinus Prinsloo 61 jaar oud, en die mees senior offisier in die noord-Vrystaat. Die kommando’s van Bethlehem, Vrede, Winburg, Harrismith, Kroonstad en Heilbron verkies Prinsloo tot hoofkommandant, en hy lei hulle in hierdie hoedanigheid na die Natalse front. Hy neem hier aan ’n aantal gevegte en die beleg van Ladismith deel. Na die Britse deurbraak bewaak hy vir ’n ruk die passe in die Drakensberge, totdat president Steyn hom terugroep Kroonstad toe, wat intussen die nuwe Vrystaatse hoofstad geword het. In Junie 1900 lê Prinsloo sy amp as hoofbevelvoerder van die Vrystaatse Republiek neer, maar hy dien nog nie-amptelik onder generaal Piet de Wet, en speel ’n beduidende aandeel in die oorwinning oor die Yeomanry rondom Lindley.

Prinsloo het nog nie-amptelik ’n generaalsrang behou, en nadat president Steyn gesê het dat hy eersgenoemde as ’n gewone burger beskou, heers daar onsekerheid oor wie welke rang in die Vrystaatse magte beklee. Generaal Christiaan de Wet word beskou as die mees senior offisier, maar is nie as sodanig verkies nie. ’n Volle krygsraad verkies hom toe as sulks met ’n oorweldigende meerderheid. President Steyn stel Prinsloo as waarnemende hoofkommandant aan, met die opdrag om die passe in die Brandwaterkom te bewaak. Dit is ’n onaangename taak, want baie van die manskappe se vrouens, kinders, vee en huisdiere is ook in die lomp laer aanwesig. Ná De Wet se uitwyking na die Transvaal keer meeste van sy agtervolgers hulle op Prinsloo, en hy word spoedig omsingel. Hy ontvang opdrag van die krygsraad om ’n wapenstilstand aan te vra, maar dit word geweier. Na aanleiding hiervan bied hy voorwaardelike oorgawe aan die Britse magte aan, maar toe ook dít geweier word, gee hy op 29 Julie 1900 met 3 000 man aan generaal Hunter oor.

Daar is onenigheid oor die aard en motief van Prinsloo se optrede. Baie het sy oorgawe as verraad beskou. Generaal de Wet het dit beskryf as “’n gruwelike moord op regering land en volk”, terwyl Prinsloo se eie broer Michael gedreig het om hom dood te skiet. Terwyl die meeste burgers na kampe op Indië gestuur is, is Prinsloo in Simonstad aangehou. Vanweë die feit dat van die burgers onder hom ook na die oorlog repatriasiehulp ontvang het, is die aantygings van verraad opnuut gehoor. Hierdie persone sou as die “nine-penny boys” bekend raak. Marthinus Prinsloo het na die oorlog na sy plaas teruggekeer as oud en afgeleef. Hy was verstoot en eensaam, en hy sterf daar in 1903.