deur Dawie du Plessis

louw wepener

Louw Wepener

Lourens Jacobus Wepener is op 21 Julie 1812 op Graaf-Reinet gebore, die vierde kind van Frederik Jacobus en Johanna Maria Wepener. Sy ouers het hom op jong ouderdom ontval, waarna hy in die sorg van sy oom Lourens Erasmus geplaas is. Die jong Louw was ’n besondere skrander skolier, en sy skoolmeester William Robertson en ds. Andrew Murray het hulle daarvoor beywer dat hy hom as predikant moet bekwaam. Sy oom wou egter nie toelaat dat hy na Skotland gaan nie. Derhalwe word hy timmerman, en begin later in die distrik Somerset boer. Later verhuis hy na die plaas De Nek in die distrik Aliwal, waar hy uiters suksesvol boer. Hy tree in 1840 met Hester Susanna Nel in die huwelik, maar sy sterf slegs drie maande na die geboorte van hul seun Frederik Daniel Jacobus. Hy hertrou in 1843 met Hilletjie Maria Levina Durand, ’n huwelik waaruit drie seuns en drie dogters gebore word.

Anders as sy broers neem hy nie aan die Groot Trek deel nie. In die tydperk 1834 tot 1853 neem hy deel aan die Sesde, Sewende en Agtste Grensoorloë teen die Xhosas. Hy was aanvanklik veldkornet, en word later tot kommandant bevorder vanweë sy dapperheid en goeie leierseienskappe. Reeds in die Sesde Grensoorlog het hy hom as onverskrokke krygsman onderskei. Hy was egter ontevrede met die Britse owerheid se beleid van gelykheid tussen die blanke soldate en die nie-blanke pandoere in die weermag. Toe die Eerste Basotho-oorlog in 1858 in die Oranje-Vrystaat uitbreek vertrek Wepener sonder aarseling na die front, en vestig hom ná die stryd permanent in die Republiek. Hy koop as welgestelde man twee plase, Constantia en Moordenaarspoort, in die distrik Bethulie, waar hy weereens ’n sukses van die boerdery maak. Ook in die siviele lewe het hy leierseienskappe openbaar, en hy word deur die burgers tot vrederegter verkies.

Wepener word as assistent-kommandant aangestel toe die Tweede Basotho-oorlog in 1865 uitbreek, waarop hy na Winburg vertrek om by die ander Boerekrygers aan te sluit. Ná ’n onsuksesvolle aanval op Mabolela (stat van koning Moshesh se broer Moperi) word die Vrystaatse magte in drie kommandantskappe verdeel ten einde Basotholand uit drie dele aan te val. Die moeilikste taak word Louw Wepener opgelê, aangesien sy manskappe die Basotho’s in die bergagtige suide moes trotseer. Sy innoverende taktiek om die Basotho’s se statte met ’n voorlaaierkanon te bestook, en dan onder dié dekking te voet te storm, werp vrugte af, en teen Augustus sluit hy by die hoofmag in Thaba Bosigo aan. Van hier af word ’n finale aanval op Moshesh se bergvesting beplan. Weens onenigheid tussen die Boere loop die eerste aanval op ’n mislukking uit, en vir die tweede word Wepener deur generaal Fick op 15 Augustus 1865 beveel om met 500 vrywilligers die bergpoort vol Basotho-skanse aan te val.

Die Basotho’s was self met gewere bewapen, en het groot klippe op die Boere afgerol wat weens die terrein die aanval te voet moes aanpak. Nietemin het Wepener na ongeveer ’n uur en ’n half die bergpoort met ’n handjievol manskappe bereik. Hier het die Gideonsbende die duisende Basotho’s met hul pistole begin terugdryf. Dit is tydens hierdie aanval wat Louw Wepener dodelik gewond is. Dr. Prosper Lautré, sending-geneesheer van die Paryse Evangeliese sendinggenootskap het Wepener op die kruin van Thaba Bosigo begrawe. Sy seun het die oorskot later op sy plaas Constantia gaan herbegrawe. Laasgenoemde het later die Volksraadslid vir Wepener in die Vrystaatse volksraad geword. Hy was ook landdros op Zeerust en Heidelberg in die Transvaal.

Louw Wepener, die “Swartmaanhaar”, se dapper dog kalme optrede in die kryg het bewondering van alle kante afgedwing. Ten einde sy eie krygers te kry om Wepener se onverskrokke gedrag te probeer ewenaar, het Moshesh opdrag gegee dat sou Wepener gevang of gedood word, die Basotho’s sy hart moet uitsny en eet. Aan Boerekant was hy die inspirasie agter president F.W. Reitz se gedig Ter nagedagtenis van kommandant Louw Wepener. Die dorp Wepener (gestig in 1867) is na Louw Wepener vernoem. In 1941 word ’n monument op sy graf naby Bethulie opgerig, en daar is ook ’n monument op sy plaas De Nek. In 1965 word ’n bronsbeeld van hom op die dorp Wepener opgerig. Twee militêre toekennings vir dapperheid is in die vorige bedeling na hom vernoem – die Louw Wepener-dekorasie (1952-1975) vir buitengewone heldemoed, en die Louw Wepener-medalje (1967-1975) vir dapperheid by die redding van lewens. Daarby was daar ’n tyd lank ook die Regiment Louw Wepener as Weermagseenheid in die SAW.

Verdere leesstof:

  • Grobbelaar, J.J.G. Wepener, Lourens Jacobus. 1970. (In De Kock, W.J. red. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, I. Pretoria: RGN. p. 911–912).
  • Grobbelaar, P.W. 1968. Die Swartmaanhaar van die Suide. (In Die groot Afrikaanse heldeboek. Kaapstad: Human & Rousseau, pp. 146–160.