President Steyn se ontsnapping

Hensoppers en joiners
January 22, 2015
Beraadslagings oor vrede
January 22, 2015

Die joiners het die Britte baie gehelp, en dit was een van hulle wat ’n Britse kolonne vroeg die môre van 10 Julie 1901 na die Noord-Vrystaatse dorp Reitz gelei het om byna al die lede van die Vrystaatse regering te vang. Omdat president Steyn “die siel van die oorlog” was, soos generaal Botha dit uitgedruk het, sou sy gevangeneming ’n nekslag vir die stryd gewees het.

Die lede van sy staf en kommando het altyd die grootste respek en liefde vir Steyn gehad. Meer as eenmaal het van hulle gesê dat die wyse waarop hy die agting van almal behou en die onderlinge vrede bewaar het, ’n wonderwerk was. Daar was soms meningsverskille tussen sy manne, maar Steyn kon met ’n paar woorde die eensgesindheid herstel. Sy kalm deurdringende aanblik kon niemand weerstaan nie. “As President liewers wil raas of die sambok gebruik, dan kon ek my man beter staan,” het een van sy amptenare eendag gesê – “maar daardie kyk!” Hy het hom self soms verontrief om ander te help. ’n Man met net ’n paar flenters aan sy lyf het eendag by die President kom hulp soek. Sonder ’n woord klim Steyn van sy perd, trek sy broek uit en gee dit aan die burger. Gelukkig het sy agterryer gou ’n ander broek gebring.

President Steyn het ’n paar heliograaftoestelle gehad, wat hy wou laat repareer, en het besluit om ’n dag of twee in Reitz te bly omdat daar ’n klein smidswinkel was. Die manskappe was uit die gemeente Reitz en kommandant P Davel het hulle toegelaat om die nag in hul kerkhuise te slaap; dus was hulle oor die hele dorp versprei. Steyn het sy tent voor ’n huis laat opslaan en sy perd was in ’n stal, omtrent drie tot vierhonderd tree van die tent.

Vroeg die oggend het Ruiter, die President se kok en lyfjonge, opgestaan om koffie te maak. Hy hoor toe ’n geraas en gewaar dat dit die vyand was. Hy storm die President se deur binne met die uitroep: “Oubaas, hier is die Engelse!” Ruiter het hom na sy perd gelei; die Britte was al drie tot vierhonderd tree ver. Steyn wou eers reguit deur die dorp ry, maar Ruiter het gesê: “Nee, oubaas, kyk dit is vol Kakies daarlangs.” Toe hy wegjaag, hoor Steyn ’n skoot agter hom. Ruiter het van sy perd afgeval of afgespring. Steyn kon verder jaag en ontsnap.

Steyn het later van Ruiter gehoor wat gebeur het. Hy was nie gewond nie, maar het van sy perd afgespring omdat hy bang was. Die offisier wat op hulle geskiet het, het terwyl hy na Steyn beduie, gevra wie daar ry. Ruiter het geantwoord: “Dit is sommer ’n ou boer.” “Waar is die President?” “Hy het in sy tent geslaap.” “Kom, wys vir my.” “Goed, baas, kom maar aan.”

Ruiter het die offisier toe van die een plek na die ander gelei om Steyn tyd te gee om weg te kom, en eindelik na die tent waar die ander regeringslede gevang is. Gordon Fraser, Steyn se private sekretaris, het gesien hoe Ruiter die offisier rondlei, maar nie geweet dat Steyn ontsnap het nie. Hy het gewonder of Ruiter verraad gepleeg het, totdat hy van die Kaapse rebel Curlewis verneem het dat Steyn ontvlug het. Ruiter het daarna weer by Steyn in diens getree, maar met groter prestige. Dit het hy ook sy makkers laat voel.