President Kruger se laaste besoek aan Rustenburg

President Kruger se besoek aan Rustenburg, Boekenhoutfontein en Waterkloof in 1892
April 10, 2017
Sandrivierkonvensie-monument
April 10, 2017

(Geskryf deur H.M. Rex, soos verskyn in Historia Junior)

President Kruger se laaste amptelike besoek aan Rustenburg het teen die einde van Maart 1899 plaasgevind. Sover bekend het hy ook nooit weer daarna in sy private hoedanigheid ’n besoek aan Rustenburg afgelê nie en vir daardie rede was sy laaste besoek aan die dorp wat hy in 1850 help aanlê het, ’n gedenkwaardige gebeurtenis in die gebeurtenisvolle lewe van die gryse en geliefde Staatspresident.

In die geselskap van die President was onder andere die heer Schalk Burger, een van die Uitvoerende Raadslede. Op pad na Rustenburg het die President en sy geselskap by veldkornet Meyer op Sterkstroom (waar Marikana se pad vandag uit die grootpad wegdraai) oornag. Die volgende oggend het hulle net na ontbyt, ongeveer agtuur, van Sterkstroom vertrek. ’n Twintigtal burgers onder leiding van veldkornet Piet Kruger, ’n seun van die President, wat destyds in daardie omgewing gewoon het, het met ’n groot wapperende Vierkleur die stoet gelei. Daarna het die vlagafdeling van die Staatsartillerie gevolg en onmiddellik agter hulle die rytuig van die President, getrek deur agt uithalerperde en begelei deur die orige artilleriste.

Weldra het daar ook ander rytuie by die geselskap aangesluit en het die stoet algaande langer geword. Van veraf kon die swierige swaai van die presidentskoets, te midde van ’n digte stofwolk, waargeneem word. Dit was in elke opsig ’n indrukwekkende geselskap. Onder hulle was daar jong ylbebaarde manne, in die fleur van hulle lewe, maar ook talle bejaarde manne met lang baarde wat saam met die ou President die land skoongemaak en opgebou het. Baie van hulle was nog in staat om te vertel van die veldslae en veldtogte teen die impi’s van Dingaan en Silkaats wat hulle as jongmanne self deurgemaak het.

Ongeveer ’n halfuur te perd van Rustenburg af, net nadat hulle die wadrif in die Hexrivier deur is en op Waterkloof aangeland het, het die geselskap weer ’n keer stilgehou. Hier het die Rustenburgers – ongeveer 300 burgers – saam met ’n groot aantal burgers uit ander wyke, vooraf byeengekom en op die koms van die President en sy gevolg gewag. Toe die optog in die gesig kom, is verskillende salvo’s afgevuur, wat dadelik van die kant van die President se geselskap beantwoord is. Sonder uitsondering was almal baie bly om hulle geliefde ou Staatspresident weer te sien.

Hier (waar die Kroondalbrug vandag die Hexrivier oorspan) het hulle taamlik lank vertoef omdat die President, stiptelik betyds soos hy altyd was, nie voor die vasgestelde uur die dorp wou binnegaan nie. Onderwyl die geneesheer wat hom vergesel het, nogeens die oë van die President behandel het, het die res van die vergaderdes koffie gedrink en brood geëet.

Die jongmanne het uitgelate heen en weer gestap, gesels en geskerts en ook seker gemaak dat hulle perde goed opgesaal en gereed is om vir die laaste paar myl in die pad te spring. Die President het naderhand ook al begin haastig word en uit vervelendheid het hy ’n paar keer op en af tussen die burgers gestap. Toe die bevel uiteindelik kom om op te saal, het die President sy koetsier vriendelik aangejaag om gou te maak. Heel spoedig was alles agtermekaar en kon die stoet in beweging kom vir die Iaaste skof op pad na Rustenburg.

Die optog het dadelik vinnig begin beweeg. Die Rustenburgers was van toe af op die voorpunt van die geselskap, terwyl die Transvaalse vlae lustig oor hulle hoofde gewapper het. Die stoet het van nou af steeds langer geword en ’n indrukwekkende vertoning gemaak. Minstens dertig rytuie het hulle intussen by die geselskap aangesluit. Selfs musiek het nie ontbreek nie. In een van die rytuie het iemand ’n harmonika bespeel terwyl in ’n ander een ’n viool gehoor kon word. Nou en dan het daar bo die geratel van die wiele en die getrappel van die perdepote uit, die tone van die Transvaalse Volkslied en die bekende en destyds gewilde “Op! Op met die Vierkleur!” geklink.

Toe die dorp in gesig kom, is daar dawerende vreugdeskote afgeskiet en die dorpsbewoners het al wat ’n klok was, begin lui – selfs die klok van die Verenigde Kerk wat op daardie tydstip nog nie in die toring van die pasvoltooide kerkgebou opgehang was nie. Vir hierdie besondere geleentheid was die nuwe kerkklok op ’n stellasie gemonteer en ’n naturel het lustig met ’n hamer daarteen geslaan.

Hierdie laaste intog van president Kruger in die dorp wat hy ’n halfeeu vantevore help aanlê het, was inderdaad ’n feestelike gebeurtenis. Die Rustenburgers het hulle beste klere vir die geleentheid aangehad en het die President hartlik en spontaan toegejuig. Sommige inwoners van die dorp het selfs bo-op die dakke van sekere geboue in die hoofstraat geklim en vandaar hulle vlae geswaai en die President toegejuig.

In Rustenburg se stil en afgesonderde bestaan het daar op daardie oggend in Maat 1899 weer skielik lewe gekom en alles het daarop gedui dat president Kruger aangekom het in die dorp waaraan sy naam altyd verbind sal bly. Die juigende en belangstellende skare het egter nie besef nie dat hulle besig was om ’n historiese tydstip in die lewensloop van president Paul Kruger te belewe. Dit was – op 73-jarige leeftyd – sy laaste besoek aan Rustenburg, want vyf jaar later sou hy as ’n banneling in ’n vreemde land, baie ver van sy geliefde Rustenburg, sy laaste rus binnegaan.