PRESIDENT KRUGER SE GRAF DEUR VANDALE GETEIKEN

Lance James vier tagtig goue jare
Augustus 11, 2018
Irma Joubert en stories is sinoniem
Augustus 11, 2018

Vandale het die graf van President Paul Kruger in die Heldeakker, Pretoria geteiken. Groot skade is aangerig deur die borsbeeld op sy graf te vernietig.

 

In 1995 het vandale ook President Kruger se graf verniel en die oorspronklike marmerbeeld beskadig. In die proses het die groot grafblad ook seergekry – die krake lê steeds oor die Hollandse boodskap: “Gestorven in Ballingschap te Clarens, in Switzerland”. Kort ná die insident is die beskadigde marmerbeeld met ’n bronsbeeld vervang.

Diegene wat die FAK geldelik wil ondersteun om die beeld te herstel, kan R10 per SMS bydra. SMS “Kruger” en jou naam na 38508 (SMS’e kos R10).

President Kruger is op 14 Julie 1904 in Clarens, Switzerland oorlede en op 16 Desember 1904 in die Heldeakker te ruste gelê. Meer as 20 000 persone het die begrafnis bygewoon.

 

Die FAK was, in samewerking met die Ou Presidensie Historiese vereniging, betrokke by die beveiliging van President JH Brand se familiekerkhof in Bloemfontein. Die afgelope naweek is die heining onthul tydens die 130ste herdenking van President JH Brand se sterfdag op 14 Julie 1888.

 

“Skaars is een President se graf beveilig, of ’n ander President se graf word verniel. Die wyse waarop Afrikanererfenisse geteiken word, is kommerwekkend. Ten spyte van die departement van kuns en kultuur se standpunt dat standbeelde en monumente nie beskadig moet word nie, ontbreek die politieke wil om die vandalisme van Afrikanererfenisse stop te sit. Dit plaas groter druk op kultuurorganisasies om met beperkte fondse self in te gryp om Afrikaners se historiese erfenis, soos die beeld en grafsteen, te herstel en te beveilig,” sê Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Die Tshwane-metroraad is verantwoordelik vir die bestuur van die Heldeakker. Die historiese begraafplaas is die laaste rusplek van verskeie historiese figure, onder andere Koningin Victoria se kleinseun, prins Christian Victor, Jopie Fourie, Andries Pretorius, genl. Louis Botha, Afrikaanse digters  soos Eugène Marais en Jan FE Celliers, asook voormalige Eerste ministers H.F. Verwoerd en J.G. Strijdom.

 

Diegene wat die FAK geldelik wil ondersteun om die beeld te herstel, kan R10 per SMS bydra. SMS “Kruger” en jou naam na 38508 (SMS’e kos R10).

 

*Die FAK is ’n organisasie sonder winsbejag.

The post PRESIDENT KRUGER SE GRAF DEUR VANDALE GETEIKEN appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico