President Kruger se besoek aan Rustenburg, Boekenhoutfontein en Waterkloof in 1892

Piet Retief
April 10, 2017
President Kruger se laaste besoek aan Rustenburg
April 10, 2017

(Geskryf deur HM Rex, soos verskyn in Historia Junior)

Dit was die gewoonte van die President om jaarliks een of meer reise deur die Republiek te onderneem. Op so ’n landsreis het hy dan persoonlik met sy burgers in aanraking gekom en hom met hulle moeilikhede op hoogte gestel. By sulke geleenthede het hy dan versoekskrifte of memories ontvang, afvaardigings te woord gestaan en vergaderings toegespreek.

Gedurende Februarie 1892 het president Kruger so ’n jaarlikse besoek aan Rustenburg gebring en terselfdertyd ook van die geleentheid gebruik gemaak om ’n besoek aan sy ou woonplase naby Rustenburg af te lê.

Die President en sy gevolg is op 3 Februarie om nege-uur die oggend deur ongeveer ’n honderd gewapende burgers te perd verwelkom in die vorm van saluutskote en die aanbieding van ’n verwelkomingsadres. Dieselfde middag om twee-uur het daar ’n goedbygewoonde openbare vergadering plaasgevind, vermoedelik onder die skaduryke bome op die terrein wat vandag ingesluit word deur Pretorius-, Van der Hoff- en Loopstraat, skuinsoor die teenswoordige Grand Hotel.

Ten aanvang het die President die burgers versoek om hulle griewe en versoeke aan hom bekend te maak. Langdurige en uitvoerige besprekings oor verskillende uiteenlopende sake het daarop gevolg. Onder andere in verband met die destyds brandende vraagstuk van die tolle, die arbeidskwessie, onderwyssake en die finansiële toestand van die Republiek. Tot die algemene tevredenheid van die aanwesige burgers, het die President uitvoerig op alle geopperde sake ingegaan en verduidelikings gegee. Teen ongeveer vyfuur was die vergadering afgeloop en het die Rustenburgse burgers weer oor genoeg interessante stof beskik om hulle vir baie dae en weke aan die gesels te hou.

Onmiddellik na afloop van die vergadering het die President na sy woonplaas Bcekenhoutfontein, ongeveer 13 myl noord van die dorp, vertrek, met die doel om die bakens van die plaas aan te wys met de oog op die Algemene Opmeting wat op daardie tydstip in die Rustenburgse distrik aan die gang was. Die plaas Boekenhoutfontein het in 1862 in die besit van kommandant Paul Kruger gekom en op die plaas was destyds ’n klein maar stewiggeboude eenvertrekhuisie wat waarskynlik deur Bronkhorst, die vorige eienaar opgerig is en wat vandag nog aan die westekant van die Krugerwoning staan. Die Bronkhorst-huis is deur Kruger met nog ’n vertrek vergroot en toe hy en sy gesin in die loop van die sestigerjare gereeld in die wintermaande, van Waterkloof daarheen gegaan het vir jag- en veeweidingsdoeleindes, het hulle van die huisie gebruik gemaak (ons kan dit die eerste Krugerwoning op Boekenhoutfontein noem), totdat die tweede (en huidige) Krugerwoning aan die begin van die sewentigerjare gebou is. Vroeg in 1873 het die amplose oud-kommandant-generaal Paul Kruger en sy gesin Waterkloof verlaat en hulle op die skilderagtig-geleë Boekenhoutfontein gaan vestig. Mettertyd is die plaas onder die kinders verdeel en die grootste gedeelte van Boekenhoutfontein in teenstelling met Waterkloof – is vandag nog in besit van die afstammelinge van president Kruger.

In 1958 het die Historiese Monumentekommissie ’n brons gedenkplaat met die volgende bewoording op die voorste stoepmuur laat aanbring: Van 1862 tot 1903 was hierdie plaas die eiendom van S. J. P. Kruger, Kommandant-generaal (1863-1873), Lid van die Uitvoerende Raad (1874-1876), Vise-President (1877-1880), Lid van die Driemanskap (1880-1883) en van 1883 tot 1902 Staats-President van die Suid-Afrikaanse Republiek.

Na die aanwysing van die bakens is president Kruger die volgende oggend weer op pad terug na Rustenburg en vandaar na sy lieflingplaas, Waterkloof, enkele myle suid van Rustenburg.

Waterkloof Nr. 4 was die eerste plaas wat in besit gekom het van die jeugdige Paul Kruger en vir die grootste gedeelte van 40 jaar (tot in 1873) het Kruger op dié mooi-geleë en waterryke plaas gewoon. Die watervoor wat hy amper 120 jaar gelede aangelê het en ook nog ander sigbare tekens van sy verblyf en handewerk kan vandag nog op die plaas gesien word. ’n Paar honderd tree suidwes van die terrein van die ou opstal is die Kruger-kerkhoffie waar Paul Kruger se eerste vrou, Anna Maria du Plessis en hulle vroeggestorwe eersteling begrawe lê. Daar kan ook die graf gesien word van PJ Riekert, een van die eerste Heemrade van Rustenburg.

Die beriggewer van De Volksstem het destyds, in Februarie 1892, as volg oor president Kruger se besoek aan Waterkloof geskrywe: “Op die môre van die 4de het omtrent ’n vyftigtal burgers die President tegemoet gery. Onder hulle was ook twee lede van die Tweede Volksraad. Met die Veldkornet en die Onder-veldkornet aan die spits van die burgers het hulle hom ongeveer ’n uur te perd van Waterkloof ingewag. Omstreeks drie-uur het die President en sy gevolg by die woning van sy oudste seun, die heer C. Kruger, aangekom. (Dit was natuurlik die woonhuis wat nog deur die President gebou en vir baie jare deur hom en sy gesin bewoon is.) Net nadat president Kruger uit sy rytuig gestap het, het die Volkslied, gesing deur die skoolleerlinge onder leiding van hulle onderwyser, die heer A. van Niekerk, deur die lug weergalm. Die sing van die lied het plaasgevind onder die geknal van ’n oorverdowende saluut. Die skoolkinders het ook vooraf gesorg vir ’n mooi ereboog vir die President.

“Na die verwelkoming deur sang en saluutskote, is ’n verwelkomingsadres aan die President deur die heer MB Brink (die grootvader van mnr. DS Brink, LPR vir Rustenburg en tans Voorsitter van die Provinsiale Raad) voorgelees. In die adres is in herinnering geroep hoedat die President baie jare gelede op Waterkloof begin woon het en wel toe daardie omgewing nog woes was, maar dat die Republiek danksy ’n interne vrede, tot groot welvaart gekom het.

“Vervolgens is ook ’n verwelkomingsadres deur die leerlinge van die ‘ondersteunde School te Waterkloof, wyk Hexrivier, distrikt Rustenburg’ voorgelees.

“Die heer MB Brink het ook die Presidentsvrou hartlik verwelkom en het onder andere daarop gewys dat die vrede wat op daardie tydstip geheers het, ’n verhoring was van die gebede wat sy, omring deur die barbare, opgestuur het toe sy vir maande alleen, met haar suigeling aan haar bors geklem, op Waterkloof moes bly. Dikwels moes Kruger haar alleen tuis gelaat het, terwyl sy teenwoordigheid elders op kommando in belang van die vryheid van land en volk noodsaaklik was.

“Die President het in baie gepaste woorde geantwoord: hy het die burgers bedank vir die eer wat hulle hom aangedoen het, maar daarop gewys dat die lof homself nie toegekom het nie, maar aan God se Alwyse Bestier. Hy het ook belowe om in die toekoms steeds te waak vir die regte van die volk. Terwyl hy hom na die skoolkinders wend, het hy ook hulle bedank en die hoop uitgespreek dat die pogings wat op daardie tydstip aangewend is vir die bevordering van die opvoeding, die gewenste vrugte sou dra. Die President het die waarde en belangrikheid van die opvoeding besef, het hy hulle meegedeel, omdat hyself van daardie voorreg ontstoke was. Die President het verder die hoop uitgespreek dat die Volkslied tog veral nie die plek van die godgewyde gesang sou inneem nie.

“Daarop het die skoolkinders een van die destyds uiters gewilde volksliedere “Op! Op met die Vierkleur!” laat hoor.

“Die heer C Kruger het nie alleen gesorg vir ‘’n smaaklike ete vir die President en sy eggenote nie, maar ook vir al die burgers wat daardie middag op Waterkloof teenwoordig was.

“Die President het die volgende môre na Rustenburg vertrek, vergesel deur ongeveer honderd burgers en was teen die aand van 5 Februarie weer terug op Pretoria.”