President Kruger se begrafnis

Die lot van die presidente
January 23, 2015
Afrikaans of Nederlands?
January 23, 2015

Die dag met die begrafnis, 16 Desember 1904, “was dit byna of die republiek nog geleef het”, skryf DW Krüger. Oudstryders in die uniforms van die Republikeinse polisie en die Staatsartillerie het ’n erewag gevorm om die praalbed. Die lykdiens is gehou deur predikante van al drie die Afrikaans-Hollandse kerke. Voor aan die lykstoet na die Kerkplein het sestien voormanne gestap in rye van vier, met generaals Botha, De la Rey, De Wet en Schalk Burger in die voorste gelid. Toesprake is gehou deur Burger, De Wet en Botha. Laasgenoemde het die laaste brief voorgelees wat hy van die President ontvang het. Die brief is op 19 Junie 1904 met die hulp van dokter Leyds geskryf. Dit het gevolg op ’n verslag wat Botha aan Kruger gestuur het oor die stigting van ’n politieke party, “Het Volk”, op 23 Mei 1904 in De Volksstem-gebou. ’n Deel van president Kruger se laaste boodskap lui in ’n Afrikaanse vertaling:

“Wie vir hom ’n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie. Daarom: soek in die verlede al wat goed en mooi was wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik. Dit is waar: veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verniel, geval. Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat daar tans terneer lê. Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat dié eenheid, dié eendrag by u regeer.

“Vergeet nooit die ernstige waarskuwing nie wat lê in die woord: verdeel en heers, en waak dat hierdie woord nooit op die Afrikaanse volk van toepassing sal kan wees nie. Dan sal ons nasionaliteit en ons taal bly en bloei; wat ek self nog daarvan sien of beleef, lê in Gods Hand.

“Gebore onder die Engelse vlag, wens ek nie daaronder te sterf nie.

“Ek het geleer om my te berus by die bittere gedagte om die oë in die vreemde te sal sluit as ’n balling, byna heeltemal alleen, ver van bloedverwante en vriende, wat ek waarskynlik nooit sal weersien nie, ver van die Afrikaanse grond wat ek wellig nooit weer sal betree nie, ver van die land waaraan ek my beste gewy het om dit oop te maak vir die beskawing en waar ek ’n eie nasie sien ontplooi het. […] Uit die diepte van my hart groet ek u en die ganse volk.”

Toe Botha die brief voorlees, kon selfs die sterkstes hul aandoening nie bedwing nie.
Van die Kerkplein is die stoet deur Kerkstraat-Wes, langs die president se woonhuis en sy kerk, na die begraafplaas. Vooraan was ’n perdekommando onder bevel van generaal CF Beyers. Die manne was ongewapen; die besit van gewere was nog verbode. Die enigste gewapendes was die Britse soldate wat langs die lykstoet gemarsjeer het en die hoë offisier wat as verteenwoordiger van die Goewerneur vlak agter die lykstoet gestap het in sy rooi baadjie. Agt swart perde het die lykkoets getrek, en goed sigbaar vir die skare was die geel eikehoutkis bedek deur die twee vlae van Transvaal en die Vrystaat. By die begrafnis was 20 000 mense teenwoordig. Met spesiale treine, te perd of met karre is almal daarna huis toe.