President Kruger keur koerant op Sondag goed

Nuttelose beleërings
January 22, 2015
“Rooi Bul” vang Churchill
January 22, 2015

Soos mens kan verwag, is die nuus oor die veldslae gretig afgewag. Groot paniek het ná die Slag van Elandslaagte in Pretoria geheers. Onder die gesneuweldes was doktor Herman Coster, gewese staatsprokureur van Transvaal, en die Duitse graaf Zeppelin, vrywilliger aan Boerekant, en CG de Jonge, wat op 12 September 1899 deur die Volksraad uit ’n hoë pos by die Transvaalse departement onderwys afgedank is op aandrang van NG predikante, wat deur De Jonge oor hul Engelsgesindheid gekritiseer is. Daar was gerugte dat die hele Duitse korps en byna die hele Hollanderkorps gesneuwel het.

De Volksstem het egter in die nag van Saterdag 21 op Sondag 22 Oktober noukeurige berigte van sy frontkorrespondente ontvang, onder andere van doktor JC Kakebeeke, wat weggekom het. Dit het geblyk dat die toestand nie so ernstig was nie.

Frederik Rompel van De Volksstem is met dié telegrafiese verslag na die President, waar die landdros van Pretoria en ’n paar ander belangrike amptenare sprakeloos met verslae gesigte gesit het. President Kruger was kalm, en het almal aangeraai om te wag vir betroubaarder berigte. Die eerste berigte was van vlugtelinge, en iemand wat vlug, sien ’n boom vir die duiwel aan. Hy het nooit die verhale van weghardlopers geglo nie, het Kruger gesê. Die nuwe feite het die President skitterend in die gelyk gestel. Dieselfde aand om elfuur het De Volksstem verskyn met ’n spesiale uitgawe wat bewys het dat die eerste berigte misdadig oordrewe was en dat, hoe tragies ook al, die Slag van Elandslaagte ’n roemryke wapenfeit was.

Die redaksie van De Volksstem het gevoel dat dit nodig sou kon wees om ook op Sondag te verskyn om kwaadwillig veroorsaakte paniek te onderdruk. Die Transvaalse volk is ’n Christelike volk en De Volksstem wou nie graag die godsdienstige gevoelens van ander kwets nie. Rompel het dus verlof gaan vra om op Sondag te verskyn as dit noodsaaklik moet wees. Staatsekretaris FW Reitz het geen beswaar daarteen gehad nie, maar hy wou dat Rompel ook president Kruger raadpleeg.

Weer het Rompel na die President gegaan – “die fanatieke Calvinis”, soos die Engelse hom so graag genoem het – en die saak aan hom verduidelik. Eers het hy Rompel die telegramme laat voorlees en toe gevra: “En wat wil jy nou maak, donker Hollandertjie?” Hy het Rompel altyd so aangespreek. Dié het geantwoord: “President, ek wil ’n spesiale uitgawe laat verskyn.” Kruger het gevra: “En hoekom maak jy dan nie so nie?” “Ek is bang dat die werk op Sondag as onchristelik bestempel sal word.”

“En is dit dan Christelik om die mense op Sondag in angs en benoudheid te laat?”, vra die President. Hierop was net een antwoord: “Dankie, President – ek weet nou wat ek moet doen.” Toe Rompel die vertrek verlaat, roep Kruger hom terug. “Kyk hier, donker Hollandertjie, laat my die eerste afdruk van die spesiale uitgawe kry.” ’n Paar uur later was Rompel weer by die President met die buitengewone uitgawe, wat hy sorgvuldig gelees en met sy swaar bromstem goedgekeur het.