Siegfried Mynhardt (1906-1996)
August 20, 2018
Adam Tas (1668-1722)
August 20, 2018

Die geskiedenis van Port Elizabeth

Daar word algemeen aanvaar dat Bartholomeus Diaz Algoabaai op sy soektog na ’n seeroete na die Ooste ontdek het. Dit moes ’n buitengewone kalm dag gewees het toe Diaz in die jaar 1486, hierdie vreemde nuwe baai met sy twee Iomp skepe, na ’n lang, stormagtige seereis om die Kaap die Goeie Hoop, binnegevaar het. Die oppervlakte was so mooi kalm dat hy die naam Bahia da Logoa, d.i. Baai van die Lagune daaraan gegee het; vandaar die naam Algoabaai. Om die aankoms van die eerste blanke op hierdie strand te gedenk, het hy, na bewering, ’n hoë kruis van kalkklip op een van die rotsagtige eilandjies in die baai opgerig en die eiland Santa Cruz, of Saint Croix soos dit vandag bekend staan, genoem.

Behoudens besoeke deur enkele ontdekkingsreisigers en die stranding van een of twee skepe het Algoabaai in die volgende twee eeue in vergetelheid versink. Destyds was die enigste blankes in die omgewing van Algoabaai ’n paar trekboere en hul gesinne wat met hul troppe vee op soek was na weiding. Hulle moes voortdurend op hul hoede wees teen swerwende bendes vyandige naturelle wat die indringing van blanke nedersetters met wrewel bejeën het. As gevolg van die moorddadige aanslae op die blankes het die Hollandse burgers van Graaff-Reinet vertoë om hulp tot die regering gerig en toe daar geen ag op geslaan is nie, het hulle teen die owerheid in opstand gekom. Die waarnemende goewerneur, generaal-majoor Dundas, het besluit om hierdie opstand met wapengeweld te onderdruk. Generaal Vandeleur is in bevel van tweehonderd man na Graaff-Reinet gestuur, terwyl twee skepe, die Hope en die Star, met troepe en kanonne aan boord, na Algoabaai gevaar het. Hier het hulle op ’n nabygeleë plaas met die naam van Papenkuilsfontein, eiendom van Thomas Ferreira, kamp opgeslaan. Hierdie plaas het in later jare die beroemde historiese Cradock Place geword.

Foto: Die blokhuis wat naby die drif by die Baakensrivier opgerig is en die paar militêre geboue en wonings van destyds, was die nederige begin van die huidige stad Port Elizabeth

In hierdie stadium is daar besef watter voordele daar sou wees aan Algoabaai as landingsplek en hawe vir skepe onderweg na die Ooste. Generaal Vandeleur het besluit om permanent ’n militêre pos in hierdie omgewing te vestig en het gevolglik ’n houtblokhuis uit Kaapstad bestel wat dan ook op die laagliggende terrein naby die drif oor die Baakensrivier opgerig is. Daar was plek vir 60 man en klein veldkanonne is binne-in gemonteer. Daarna is daar ’n begin gemaak met die aanbou van sterker verdedigingswerke op ’n meer geskikte terrein. Die nuwe fort is op die kop wat oor die Baakensrivier uitkyk, opgerig en is in 1799 voltooi toe die naam Fort Frederick, ter ere van S.K.H. die  hertog van York, daaraan gegee is. Die garnisoen het uit sowat driehonderd man bestaan en spoedig is daar vir hulle barakke gebou; ook magasyne vir miliêre voorrade, ’n bakhuis, ’n hospitaal, ’n smidswinkel, ’n skrynwerkerswinkel en dies meer. Dit kan as die beskeie oorsprong van Port Elizabeth beskou word.

Foto: Fort Frederick (1799-1868), die eerste militêre buitepos in die Oostelike Provinsie. Dit is in 1799 opgerig en na S.K.H., die destydse hertog van York genoem. Die kommandant, kaptein Francis Evatt, het die landing van die Britse Setlaars vanuit hierdie fort waargeneem

Die fondament van Port Elizabeth is toe reeds gelê, maar amptelik dateer sy bestaan vanaf die aankoms van die Britse Setlaars in 1820. In hierdie stadium was daar maar min vir die ou dorpie te sê. Hy het selfs nie eers ’n naam gehad nie. Afgesien van die soldate, is die blanke bevolking op sowat vyf-en-dertig geraam. ’n Ry hoë sandduine wat van die mond van die Zwartkopsrivier tot by Kaap Receife gestrek het, het die see onsigbaar gemaak vanaf wat tans die stad se hoofstraat is. In die jaar 1820 het sir Rufane Donkin in die plek van lord Charles Somerset as goewerneur waargeneem. Een van sy eerste pligte was om toesig te hou oor die vestiging van ’n groot geselskap immigrante wat in die noodtydperk na die Napoleontiese oorloë deur die Britse regering uitgestuur is. Hy het in Algoabaai aangekom en alle voorbereidings vir die aankoms en ontvangs van die nuwe setlaars met behulp van kol. Cuyler, kapt. Evatt en kapt. Moresby getref.

Foto: Die Chapman waarmee die eerste Britse Setlaars in Algoabaai aangekom het, het op die aand van 20 April 1820 in die baai anker gewerp

Die eerste setlaarskip wat in Algoabaai aangekom het, was die Chapman. Hy het die aand van 10 April die anker laat val en was alleen daar by die oop ankerplek totdat die Nautilus die baai vier dae later binnegevaar het. Die ander skepe het met ongereelde tussenposes aangekom totdat die hele vloot saam daar voor anker gelê het. Toe kon daar ’n ongekende bedrywigheid vanaf die verlate, sanderige strand van Algoabaai waargeneem word. Die reëlings wat op die strand vir die ontvangs van die nuwe aankomelinge getref is, was die oprigting van ’n groot aantal tente op die terrein van die huidige hoofstraat om skuiling te bied, ’n goeie voorraad lewensmiddele en die bymekaarmaak van alle beskikbare ossewaens in die omgewing om die immigrante na die persele wat in die distrik Albanie aan hulle toegewys is, te vervoer. Die hortende ossewaens het maar stadig beweeg en gevolglik is verskeie geselskappe verplig om van ses weke tot twee maande op die strand van Algoabaai deur te bring. Onder die transportryers was ook Piet Retief wat hulle op bekwame wyse gehelp het om hul bestemming te bereik. Uiteindelik was al die tente op die strand leeg en nadat die immigrante na hul onderskeie persele in die wildernis van die distrik Albanie vervoer is, is hulle daar aan hul lot oorgelaat. Die welvarende gemeenskap in hierdie deel van die Oostelike Provinsie getuig vandag nog van hul deursettingsvermoë.

Foto: Sir Rufane Donkin, goewerneur aan die Kaap tydens die aankoms van die Britse Setlaars. ’n Skildery in die stadhuis van Port Elizabeth

Op 6 Junie 1820 het sir Rufane Donkin aan die nuwe nedersetting die naam Port Elizabeth gegee ter ere van sy jong vrou Elizabeth wat twee jare tevore in Indië oorlede is. As ’n blywende gedenkteken ter herinnering aan haar het hy ’n piramide van klip op die kop (tans die Donkinreserwe) bokant die plek waar die Britse Setlaars aan wal gestap het, opgerig.

Tydens die eerste paar jaar van Port Elizabeth se bestaan was daar min wat daarop gedui het dat die plek bestem was om binne so ’n kort tyd tot so ’n groot, belangrike nywerheidstad te ontwikkel. Grond was goedkoop en persele is teen £1 tot £5 stuk verkoop. Een van die inwoners van destyds beskryf die plek ietwat pessimisties as “ ’n klompie erbarmlik opeengehoopte hutte wat die Baai baie laat lyk na ’n gehuggie van die beter tipe Hottentotte”. Maar ten spyte van hierdie verwaarloosde voorkoms het die verkeer van ossewaens toegeneem en Port Elizabeth sy plek as “Sleutel tot die Binneland” begin inneem. Die toestand van die paar paaie, of liewer, die gebrek aan paaie, het sorgwekkend geword. Ten einde die paaie te herstel en instand te hou, het kol. Cuyler ’n klein belasting op die inwoners, wat reeds ’n paar honderd beloop het, gehef.

Foto: Kaptein Francis Evatt (1770-1850) word weens sy lang verbintenis met die nedersetting met reg die “Vader van Port Elizabeth” genoem

In 1825 is ’n landdrossetel ingestel met kapt. Evatt as regeringsverteenwoordiger en terselfdertyd is Engels tot amptelike taal van die Baai verklaar. Ses jaar later het ’n paar bestaande strate name gekry. Verdere vooruitgang is gemaak toe Port Elizabeth tot ’n vry pakhuishawe verklaar is, sodat alle skepe toegelaat is om vrag en passasiers daar af of op te Iaai. Huise en winkels het spoedig langs Hoofstraat, Kasteelheuwel, Chapelstraat en rondom die ou vlei in die huidige Westelike weg verrys. Die armer gebiede het na die suidelike en noordelike kante van die dorpie uitgestrek. Vir baie jare Walmer ’n stuk plaasgrond wat as “ver uit die dorp” beskou is.

Daar was geen plek van aanbidding totdat die St. Mary’s-kerk in 1830 voltooi is nie. Ongeveer ses-en-dertig jaar later het die Rooms-Katolieke kerk van St. Augustine die kroon gespan op die lewenstaak van Vader Murphy, een van die uitstaande persoonlikhede onder die vroeë setlaars. Die eerste klein regeringskooltjie is in Chapelstraat geopen, gevolg deur die stigting van die Grey-instituut in 1856. Gedurende die eerste ses-en-dertig jaar van sy bestaan het die dorp nie ’n hospitaal gehad nie. ’n Klein woonhuisie is vir dié doel in Rodneystraat gehuur en vandaar is dit ’n paar jaar later verskuif na die eerste provinsiale hospitaal op Richmond-heuwel. Dit moes weer op sy beurt plek maak vir die uitgebreide Provinsiale Hospitaal wat ons vandag ken. Ook was daar geen koerant van enige aard totdat die Eastern Province Herald in 1850 onder die redaksie van die voormalige skoolmeester, John Paterson, sy verskyning gemaak het nie.

Foto: Die gewese Grey-instituut op die Donkin-reservaat teenoor die baai. In 1860 opgerig, was dit tot 1915 in gebruik, toe die nuwe gebou en terrein in Mill Park betrek is. Vandag huisves die gebou ’n laerskool

Die inwoners van die Baai moes hulle veertig jaar lank op kerse en olielampe verlaat om hul huise te verlig, terwyl die strate snags in algehele duisternis gehul was, met uitsondering van ’n paar lampe wat hier en daar buitekant die deure van ’n paar winkels langs Hoofstraat te sien was. In die laat sestigerjare is die strate uiteindelik flouerig verlig met behulp van gas uit die gasfabriek in die Noordeinde. Die volgende veertig jaar of wat het die dorp van hierdie diens gebruik gemaak totdat elektriese beligting in 1906 sy verskyning gemaak het.

’n Gereelde watervoorraad vir huishoudelike gebruik was die grootste probleem. In verskillende dele van die dorp is putte gegrawe, reënwatertenks opgerig en in tye van droogte is water in vaatjies van huis tot huis verkoop. Toe is daar ’n klein dammetjie by die Haairivier (tans Humewood) gebou en vandaar is water deur ’n lang pyp na die middel van die dorp gelei. Uiteindelik is die hele probleem opgelos deur die aanbou van die Van Staadensrivier-dam en die huidige moderne Churchill-dam.

Die eerste polisiemag het bestaan uit drie onbevoegde konstabels wat nie uniform gedra het nie, bygestaan deur twee Fingo’s. Hul diens het elke dag om 8 vm. begin en om 6 nm. geëindig. ’n Klein woonhuisie op die markplein het as tronk gedien, maar later is die tronk na die Noordeinde verskuif waar dit weer op sy beurt afgebreek is toe die huidige ruim nuwe gevangenis voltooi is.

Na gelang die dorp vinnig begin uitbrei het, het dit nodig begin word om ’n soort munisipaliteit in die lewe te roep. Die eerste verkiesing het in 1847 plaasgevind en ’n raad van kommissarisse bygestaan deur wykmeesters, is benoem. Hulle het met groot finansiële moeilikhede te kampe gehad totdat Port Elizabeth in 1860 die status van ’n borough bereik het en deur ’n burgemeester en ’n behoorlike saamgestelde dorpsraad bestuur is. 1 Januarie 1861 kan as die mondigwording van Port Elizabeth beskou word, want toe het die nuutgevormde borough amptelik in werking getree. Die nuwe dorpsraad, met mnr. William Smith, die eerste burgemeester, in die voorsittersstoel, het sy eerste vergadering in die stadsaal wat toe nog nie voltooi was nie, gehou.

Foto: ’n Blik op die markplein en Castle Hill omstreeks 1860, met die byna voltooide stadhuis links

Die bou van die eerste seewal of golfbreker het tien jaar in beslag geneem, die lewensduur daarvan was kort. In 1867 was daar ’n verskriklike storm. Die Baakensrivier het geweldig gestyg en met die vloedwaters het daar ’n enorme hoeveelheid slik afgekom wat die binneste hawekom byna 4½ voet diep bedek het, sodat dit vir skepe onbegaanbaar geword het. Wat die vroegste planne vir ’n hawehoof in port Elizabeth betref, is daar min bekend. Tot 1837 is alle uitvoerladings op die skouers van sterk naturelle na die platbodem-brandingsbote wat net agter die branders gelê en wag het, gedra en vandaar na die skepe wat in die Baai voor anker gelê het, vervoer. Op dieselfde wyse is alle invoergoedere deur hierdie naturelle aan wal gedra en in die pakhuise van die verskillende skeepmaatskappye gehou totdat ossewaens beskikbaar was om dit na die binneland te vervoer. Passasiers is ook op die rugge van naturelle aan wal gedra totdat daar later ’n stewige stoel wat aan twee pale vasgemaak is, vir dié doel gebruik is. Die eerste klein hawehoof het in 1837 sy verskyning gemaak, maar is ’n paar jaar later in ’n storm weggespoel. ’n Ander houthawehoof wat in die plek daarvan opgerig is, het tot die vroeë sewentigerjare diens gedoen en is deur ’n hawehoof op ysterpale vervang. Selfs toe nog het alle skepe in die ankerplek gelê en is passasiers in ’n rietmandjie op-en afgetrek. Uiteindelik het die ou hawehoof op ysterpale verdwyn toe die huidige ruim Charl Malan-kaai in 1933 amptelik geopen is.

Die eerste spoorlyn is in 1875 geopen en het tussen Port Elizabeth en Kommandokraal (die huidige Addo) geloop.

Die vervoerbedryf tussen Port Elizabeth en Europa is hoofsaaklik aan Britse seilskepe toegewys en die heenreis alleen het etlike maande geduur. In 1857 het die Britse Admiraliteit die tender van die Union Company (tans die Union Castle-redery) vir die posbootdiens na die Kaap aanvaar. Die eerste skip was die Dano (530 ton). Sy hoogste snelheid was 7½ knope en sonder seile sou hy nooit die Kaap binne die 42 dae wat volgens kontrak ooreengekom is, kon bereik het nie. Die eerste vrag wat deur hierdie skip vervoer is, het slegs £102 opgelewer, terwyl die kajuite deur ses passasiers in beslag geneem is. Op hierdie beskeie wyse is ’n diens ingestel wat vandag nog deur die talryke sierlike lynbote van die Union Castle-redery instand gehou word.

Van ’n klein verwaarloosde vissersdorpie het Port Elizabeth ontwikkel tot die welvarende nywerheidstad en vakansieoord van vandag waarop Suid-Afrika met reg trots is.

 

PORT ELIZABETH VANDAG

Honderd-en-vyftig jaar gelede was Port Elizabeth nouliks meer as ’n beskeie vissersdorpie.

Vandag is dit een van die Unie se belangrikste handel- en nywerheidsentrums met ’n groot en besige hawe en ’n totale bevolking, blank en nie-blank, van bykans 300 000. Die sonnige klimaat en sy aanloklike strande maak die stad ook een van die gewildste vakansie-oorde in ons land.

Port Elizabeth se nywerheidsgeskiedenis dateer terug na 1811 toe die baanbreker Frederick Korsten besluit het om ’n looiery en smidswinkel in Algoabaai op te rig. Geleidelik het ondernemingsgees verander in vervaardigingsdurf en teen die einde van die 19e eeu het die stad reeds gevestigde nywerhede gehad waaronder looierye, wolwasserye, skoeiselfabrieke en voedselverwerking.

Vandag is die stad se nywerhede gegrond op hegte fondamente en vertoon dit ’n groot verskeidenheid en progressiewe uitbreiding.

Foto: Die middestad soos ’n mens dit uit die kloktoring sien

Die leernywerheid waarmee die stad se nywerheidsontwikkeling begin het, vervaardig vandag nagenoeg twintig persent van die Unie se skoeiselopbrengs. Die klerasienywerheid het 1 400 werknemers in 22 fabrieke, baie waarvan erkende leiers op die gebied in die land is. Die tekstielfabrieke het ook vinnig uitgebrei en word verteenwoordig in drie moderne wolwasserye, twee wolkamfabrieke, breiwolfabrieke, ’n moderne weeffabriek en verskeie ander tekstielondernemings.

Die vervaardiging van elektriese kabels sedert 1949 en van kragontwikkelingstoerusting ’n jaar later het verder tot die nywerheidsvoortuitgang bygedra.

Een van die stad se belangrikste nywerhede is die montering van motors en ander voertuie. Van ’n klein begin het sowel Ford as General Motors oor die afgelope vyf-en-twintig jaar aansienlik uitgebrei en vandag word motors en vragmotors uit die Baai so ver weg versprei as Noord- en Suid-Rhodesië, die Kongo en langs die oos- en weskus van Afrika.

Verwante nywerhede het gou op die motormonteerfabrieke gevolg. Dit sluit in ’n hele paar vervaardigers van motorbande, veiligheidsglas, bakke vir busse en handelsvoertuie, skuurmiddels, en dergelike meer.

Die groot moderne sementfabriek en verskeie belangrike ingenieursondernemings speel ’n belangrike rol in die nywerheidsvooruitgang. Ander fabrieke lê hulle toe op die vervaardiging van sinkplaat, chemiese stowwe, batterye, borsels, meubels, houers van allerlei aard, elektriese gloeilampe, metaalkaste, motorbatterye, huishoudelike metaalware o.a. stowe en yskaste, poleermiddels, ens.

Geleë digby ’n groot vrugte- en groenteproduserende landbougebied, het dit byna van self gekom dat ’n belangrike inmaakbedryf opgebloei het wat vandag tot die land se uitvoergoedere bydra. Hierby sluit aan die vervaardiging van spuitwater, vrugtesappe, dranke, lekkergoed, beskuitjies en blikkiesmelk.

In vergelyking met die 200 fabrieke waarmee Port Elizageth in 1925/26 gespog het, is daar tans 650 nywerheidsondernemings in die stad. Die Middellandse Kamer van Koophandel het van ’n klein begin uitgegroei tot ’n magtige organisasie met ’n ledetal van meer as 200 nywerheidsondernemings wat 36 000 werknemers in diens het en wat masjienerie en toerusting ter waarde van £4 000 000 verteenwoordig.

 

Handel

Die grondslag waarop Port Elizabeth se handelslewe as hawestad berus, is met sy ontstaan vasgelê. Die Port Elisabethse Kamer van Koophandel, in 1864 gestig, het deurgaans aktief in die ontwikkeling van die hawe belanggestel en bly ’n kampvegter vir die uitbreiding van die fasiliteite wat die uitgestrekte binnelandse gebied waarheen sy invoer- en fabrieksgoedere versprei word, bedien.

Die handelsmoontlikhede wat die stad bied, is veelomvattend. Alle bankinstellings insluitende die Suid-Afrikaanse Resewebank het takke in die stad.

Port Elizabeth se uitvoerhandel sluit in wol, huide, velle, angorahaar,

Foto: Die hawegebied van Port Elizabeth

sitrus, sagte vrugte, eiers, met ’n stygende uitvoer van pynappels in die jongste tyd. Vervaardigde artikels uit die stad se fabrieke vul die lys uitvoergoedere aan.

Die moderne, groeiende hawe het alle gedagte aan die dae toe swaarbelaaide brandingsbote in die vlakwaters van die geskiedkundige “Beach” geland het, uitgewis. Hoewel Port Elizabeth die Iaaste van die erkende Suid-Afrikaanse hawens was wat van ’n ten volle toegeruste hawe voorsien is, bewys statistieke dat dit vandag vir die staat die winsgewendste hawe in die land is. Dit hanteer die tweede grootste vragwaarde wat in die land ingevoer word en die uitgaande skepe Iaai die grootste hoeveelheid wol, angorahaar, huide, velle en vrugte. Die uitvoer van mangaanerts kan nou ook bygereken word.

Die hawefasiliteite word steeds uitgebrei om die groeiende handelsverkeer te behartig.

 

Wol

Port Elizabeth is by uitstek ’n wolsentrum. Die bes-toegeruste wol pakhuise in die land is hier opgerig en die stad beskik oor ’n puik wolbeurs waar ’n groot deel van die Unie se jaarlikse wolskeersel per openbare veiling verkoop word.

Foto: Wol word in die verkoopsaal van die Wolbeurs opgeveil. Die stad maak daarop aanspraak dat die wol-verkoopsaal die mees moderne in die wêreld is

 

Behuising

Ten spyte van die versnelde tempo in die nywerheidsuitbreiding die afgelope dertig jaar het Port Elizabeth nog geen arbeidstekort ondervind nie; ook is die stad nie deur arbeidsonrus of loonverskille geteister nie. Hierdie vreedsame bestaan van ’n produktiewe gemeenskap word in hoofsaak toegeskryf aan die stadsraad se uitmuntende behuisingskema wat as die beste in die land beskou word.

Reeds dertig jaar gelede is ’n aanvang gemaak met ’n behuisingskema vir die lae- en middelinkomstegroepe. Aan blankes is reeds 846 spesiale huise in netjiese woonbuurte verkoop en word 1 694 op ekonomiese grondslag verhuur.

Vir kleurlinge het die stadsraad 1 686 huise opgerig wat beskikbaar gestel word aan die sub-ekonomiese groep en 780 huise aan gesinne in die ekonomiese groep. Hierdie diens word nog verder uitgebrei met 188 skakelhuise en 1 071 aparte huise onderskeidelik waarvan 450 reeds voltooi is.

Op die gebied van naturellebehuising het die stadsraad baanbrekerswerk verrig, ook ten opsigte van die gebruik van naturellearbeid, omdat daar reeds van die begin af geredeneer is dat blanke arbeid teen vakunie-lone die prys van behuisingskema so hoog sal opstoot dat dit vir die meeste naturelle-huurders onekonomies sal word.

Reeds in 1938 is met die aanbou van die modeldorp New Brighton begin en vandag nog word na McNamee Village as ’n voorbeeld van die ideaal in naturellebehuising verwys. Sedert dié tyd is 18 533 huise van verskillende aard en grootte vir Bantoe in goed beplande buurtes opgerig.

Agterbuurt- en plakkersdorp-opruiming geskied tans teen versnelde tempo onder ’n nuwe skema genoem “Site-and-Service” wat na sy voltooiing 11 500 gesinne sal huisves. Hieronder word aan gesinne elk ’n standplaas in ’n nuwe buurt toegesê wat voorsien is van sanitasie, water, weë en straatligte. Hulle kan dan ’n tydelike pondokkie oprig om in te woon terwyl die stadsraad dit opvolg met die oprigting van twee kamers, die eerste deel van ’n vierkamerwoning. Wanneer al die gesinne van twee kamers voorsien is, begin die bou-eenheid wat die skema uitvoer om die bykomstige vertrekke aan te bou wat die huise sal voltooi.

Die bou-eenheid wat hiermee werksaam is, bestaan uit 550 naturelle wat tot veertien huise per dag voltooi.

 

Aantreklikhede

As vakansieoord beskik die stad oor ’n groot verskeidenheid aantreklikhede vir besoekers en vakansiegangers vanuit die binneland en ander gebiede benoorde die Limpopo. Ook hieruit spreek die vooruitstrewendheid van die stadsraad.

Die somervakansieseisoen strek vanaf Oktober tot Maart en dan bied die stad vermaaklikheid en ontspanningsgeriewe om aan elke smaak en behoefte te voldoen. Ook gedurende die wintermaande trek die stad ’n groeiende aantal besoekers uit die kouer dele van die land.

Humewood met sy goed ontwikkelde strandgeriewe asmede die aantreklikhede van die unieke Happy Valley en die skilderagtige Watertuin bly ’n groot aantrekkingskrag vir groot en klein. Verder is daar die wye King’s Beach en Summer Strand en die pasvoltooide McArthur-swembadhuis wat ruimte aan 2 000 besoekers bied wat in veiligheid in seewater wil baljaar. Hier is ook warm seewaterbaddens vir rumatieklyers en ’n skilderagtige en veilige kinderswembad.

Foto: Rustige toneel in Setlaarspark waar ’n mens die stadsrumoer gou heeltemal kan vergeet

Humewood en omgewing bied tennisbane, rolbalbane, ’n kampeerterrein, ’n piekniekstrand, ’n opelugdansvloer en reeds beroemde hengelmoontlikhede. Saans word die hele omgewing met sterk vloedligte en gekleurde liggies tot ’n skilderagtige feëland omtower.

Die stad is goed bedeeld met aantreklike parke, o.a. die St. George-park waar ook verdere ontspanningsgeriewe vir sportgeesdriftiges bestaan, Prince Alfred-park, Victoria-park, Nelson Square Garden en die unieke Setlaarspark ’n pragtige natuurreservaat waar ’n mens heeltemal van die stadsgewoel kan wegkom. Ook word die geskiedkundige Donkinreservaat verder met rotstuine en blombeddings verfraai.

Vir inwoners en besoekers is daar geleentheid tot ’n verskeidenheid uitstappies na omliggende gebiede, soos langs die Marine Drive tot by Schoenmakerskop; na Swartkops, bekend weens sy minerale baddens; na Redhouse waar die seiljagsport beoefen word; na Amsterdamhoek of dié St. George-strand; na die Van Staadenspas of die Van Staadensriviermond; na Seaview of die nabygeleë en groeiende dorp Uitenhage. Verder weg is Grahamstad, Gamtoosrivier, Jeffreysbaai of die Addo Olifantpark.

Port Elizabeth is ook ’n belangrike sportsentrum, sy dit op die gebied van rugby of krieket, sokker of gholf, tennis, swem, atletiek, bofbal of boogskiet. Daar is nie minder as ses gholfbane beskikbaar nie en daar is meer as ’n dosyn uitmuntende rolbalbane. Internasionale wedstryde teen besoekende rugby-, krieket-, sokker- of hokkiespanne vind gereeld in Port Elizabeth plaas en belangrike tenniswedstryde word ook daar gereël. Elke jaar vind die nasionale hengelwedstryde daar plaas. ’n Groot aanwins op sportgebied is die pasvoltooide Boet Erasmus-stadion, hoofkwartier van Oos-Kaapland se Rugby-unie, wat teen ’n koste van £110 000 opgerig is. Die stadion is uiters doeltreffend ingerig en o.m. is daar voorsiening gemaak vir 55 persmanne met ses telex-masjiene byderhand.

Perdewedrenne vind in die Baai ook ’n groot aanhang.

 

Opvoedkundige inrigtings

Die stad beskik oor ’n groot aantal skole en die Port Elizabethse Tegniese Kollege is ’n uitmuntende inrigting wat saam met die nywerheidsontwikkeling gegroei het. Dit is toegerus met moderne apparaat en word beheer deur ’n raad van 30 lede wat elke afdeling van die stad se nywerheids- en sakelewe verteenwoordig.

Foto: Kursusse aan die Tegniese Kollege voorsien in sowel die handels- as die nywerheidsbehoeftes van die stad

Weens die stygende aanspraak op ’n plaaslike universiteit het Rhodes-universiteit te Grahamstad besluit om ’n universiteitsuitbreiding in Port Elizabeth te stig. Op die oomblik word die Ou Museumgebou vir dié doel herskep en ingerig en klasse sal reeds volgende jaar ’n aanvang neem. Die inrigting sal bekend staan as Rhodes-universiteit Port Elizabeth en die plan is voorlopig om slegs driejarige kursusse in die afdelings Handel en Lettere aan te bied.

 

Besienswaardighede

Foto: Die oorspronklike vuurtoring met oppasserswoning langs die piramide-gedenkteken op die Donkin-reservaat

Port Elizabeth het twee baie bekende bakens. Die een is die Donkin-reservaat met sy geskiedkundige vuurtoring en klein piramide ter ere van die vrou na wie die stad vernoem is en die ander is die Campanile, d.i. die gedenktoring ter ere van die 1820-setlaars. Dis in 1923 ingewy.

Die St. George-kunsgalery, opgerig teen ’n koste van £20 000, is in 1956 geopen. Hoewel dit nog nie ’n permanente uitstalling van naam huisves nie, is daar gereelde uitstallings te sien wat vir kunsliefhebbers beslis die moeite werd is.

’n Treffende standbeeld as aandenking aan die perde wat in die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 omgekom het, is in Port Elizabeth opgerig. Die beeldhouer was Joseph Whitehead.

Foto: Die Campanile of kloktoring, opgerig ter gedagtenis aan die aankoms van die Britse setlaars, met die hawe op die agtergrond

Port Elizabeth se bekendste besienswaardigheid bly egter sy unieke slangtuin. Dit is onlangs na ’n nuwe perseel by Humewood verskuif. Hier is die museum nou in ’n moderne gebou gehuisves en ’n veel groter slangtuin is uitgelê. ’n Oseanarium is bygevoeg en bestaan uit ’n reusetenk, 70 voet in deursnee.

In alle opsigte versinnebeeld die Baai, soos Port Elizabeth in die wandel bekend staan, die snelle groei van ons land op sowel stoflike as geestelike gebied. Mag die stad se leuse Tu Meliora Spesa (Vestig u hoop op beter dinge) steeds verwesenlik word.

 

Bron: Redgrave, J.J. 1960. Lantern, September: 45-55.