Pomphuis, Princestraat

Waterhof (Geen toegang)
December 12, 2017
De Waalpark
December 12, 2017

John F. Comfield ■ Ou pomp in Princestraat 1824 ■ William Fehr-versameling

Van ’n totaal ander aard en funksie as die pragtige herehuise aan die voet van Tafelberg is die ou pomphuis in Oranjezicht op die hoek van Prins- en Sir George Greystraat. Sedert die 17de eeu is die water vir huislike gebruik deur slawe van die openbare fonteine aangedra, waarvan daar een op die Parade was. In die begin van die 19de eeu is die Burgersenaat deur ’n spesiale skenking van die regering in staat gestel om ’n verbeterde stelsel van openbare waterverskaffing in te voer. Die water vanuit die berg is in damme opgevang en van daar met hout- en ysterpype na putte gelei. Op so ’n put is ’n pomphuis met ’n swaaipomp opgerig. Hierdie pomp staan as ’n Hurling-pomp bekend en is volgens familietradisie gebou deur Jan Frederik Hurling, ’n Sweedse kolonis wat in 1743 in die Kaap aangekom het.

Slawe het die pomp laat werk deur ’n lang houthandvatsel, met ’n gewig aan die een kant, heen en weer te swaai. Genoemde pomphuis is die enigste oorblyfsel van hierdie vroeë waterleiding. Die water het uit die bek van ’n leeu gekom wat uit hout gesny is. Bokant die leeu was ’n lei waarop besonderhede i.v.m. die waterverbruik waarskynlik aangeteken is.

(Geproklameer 1937)

John F. Comfield ■ Ou pomp in Princestraat 1824 ■ William Fehr-versameling

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, p. 24.