Politieke stryd oor taal en universiteit

Veranderinge in die taal
January 22, 2015
Afrikaans word universiteitstaal
January 22, 2015

Engels was lank die enigste of vernaamste onderwysmedium maar langsamerhand het Nederlands en Afrikaans ook onderrigtaal geword. Engelse enkelmediumskole was al meer as ’n eeu iets algemeens; Afrikaanse enkelmediumskole het stadig maar seker bygekom. Taalbewuste onderwysers kon deur Afrikaanse gedigte en volksgeskiedenis ’n groter getrouheid aan volk en taal help kweek. NP van Wyk Louw het gesê dat die Afrikaanse skool in die stad Afrikaans gered het. Het dit ’n kwarteeu later gekom, was die taal reddeloos verknoei. “”Die skool met Afrikaans as voertaal was soos ’n rugdop wat nog net-net betyds oor ons sagte buitevleis gegroei het – soos by ’n jong kreef glo.”

Omstreeks 1916 het die stryd oor universiteite ten einde geloop. By die opening van die eerste Unie-parlement op 4 November 1910 het die Goewerneur-generaal gesê dat die Regering ’n nasionale Suid-Afrikaanse universiteit wil stig met ’n skenking van £500 000 deur die mynmagnaat en finansier sir Julius Wernher en die finansier Otto Beit, ’n vriend van Rhodes. Hollands-Afrikaanse koerante soos De Volkstem het gepleit vir die erkenning van Afrikaners se taalregte aan so ’n universiteit.

’n Eerste wetsontwerp vir ’n nuwe universiteit in Kaapstad is in 1912 ingedien, maar teruggetrek omdat die donateurs nie tevrede was met die aanvanklike bepaling dat die universiteit moes sorg om artikel 137 van die grondwet uit te voer nie, dit wil sê Engels en Hollands gelyk te behandel. In ’n nuwe wetsontwerp is die taalbepaling verwater, en daarteen was Afrikaners gekant. Die bestuur van ’n Waaksaamheidskommissie, professor A Moorrees, doktor DF Malan en JG van der Horst, het by Stellenbosch teen die wetsontwerp beswaar gemaak. Hulle het die bekende woorde gebruik dat Stellenbosch “staat voor een idee!” Dit is nie ’n blote opvoedingsinrigting nie, maar “die simbool en waarborg van die volk se eie kragtige, groeiende, uitdrukking soekende nasionale lewe”. Afrikaanse koerante, kerk- en onderwysleiers het vir hul taal gepleit.

Ná heelwat onderhandelinge is besluit dat die £500 000 van die Beit-Wernher-bemaking sou gaan aan ’n toekomstige Universiteit van Kaapstad. Genoeg geld moes gevind word om die voortbestaan van die Stellenbosse kollege te verseker.

Vermoënde Afrikaners was skaars. Stellenbosch het tog ’n donateur gekry: meneer JH Marais, wat saam met drie van sy broers op die diamantvelde in Kimberley ryk geword het deur diamantaandele en aansienlike belange in De Beers. Marais was Nasionale LV vir Stellenbosch en die man wat die geld gegee het om De Burger op te rig. In 1898 het hy geld geskenk om ’n fisikagebou op Stellenbosch te bou. Hy het £100 000 nagelaat vir ’n universiteit. Die bedrag het baie daartoe bygedra dat Stellenbosch as onafhanklike universiteit sy eie oktrooi ontvang het. Meneer Jan Marais het in sy testament bepaal dat die “Trustees” by die toekenning van die geld sal sorg dra dat “aan het College de Hollandsche Taal in zijn beide vormen – d.w.z. Afrikaans zoowel als Nederlandsch – geen minder plaats dan het Engelsch innemen zal”.