Politieke stryd en die Hertzogprys

Langenhoven veg teen Nederlands
January 22, 2015
Afrikanerverdeeldheid vererger
January 22, 2015

Die politieke spanning wat Langenhoven in staat gestel het om redakteur te word, het al van vroeg af bestaan tussen generaal Botha, eerste minister, en generaal Hertzog, sy minister van justisie. Botha wou die Engelse nie afskrik nie, en dié was teen Hertzog oor dié se onderwysbeleid in die Vrystaat. Sommige Afrikaners het al voor Uniewording vreemd begin staan teenoor Botha, wat die welwillendheid van die Britse regering en publiek probeer werf het deur die Cullinan-diamant aan koning Eduard VII te skenk. Dié diamant van 3 025 karaat is op 25 Junie 1905 in die Premiermyn naby Pretoria gevind. Sommige Afrikaners het die skenking beskou as ongevraagde spandabelheid in ’n tyd van geldnood. Botha was egter ’n man met ’n groot persoonlike aanhang. Duisende mense het hom gevolg.

Hertzog het weer ’n groot aanhang gekry onder Afrikaners wat sterk gevoel het oor hul taal. Die Engelse vyandigheid teenoor hom het ’n hoogtepunt bereik toe hy as die Vrystaatse minister van onderwys in 1909 drie inspekteurs van onderwys afgedank het omdat hulle sy onderwyswet wou laat verongeluk. Dit was dié wet wat Hollands en Engels op gelyke voet geplaas het. Die drie inspekteurs was woedend en een van hulle het £1000 skadevergoeding van Hertzog geëis ná iets wat laasgenoemde op 26 Augustus 1910 op ’n openbare vergadering gesê het. Die hof het op 2 November 1911 skadevergoeding van £25 toegeken, maar Hertzog moes ook die hofkoste betaal.

Afrikaners oor die hele land, veral die Vrystaters, het die hofsaak ook as hulle saak beskou en spontaan besluit om die hofkoste te betaal. Ryk en arm het bygedra: van 3d. tot £25; £2272 is ingesamel. Die geld is op 27 Junie 1912 in Kaapstad oorhandig. Nadat die hofkoste afgetrek is, was daar ongeveer £1200 oor. Dit het Hertzog aan die Akademie geskenk. Die rente daarop moes gaan vir die aanmoediging van “nationale lectuur”, sowel geskiedkundige as belletristiese. So is die Hertzogprys geskep, die literêre prys in Afrikaans met die grootste prestige.

Intussen het Hertzog voortgegaan met sy toesprake oor taalgelykheid. Op 5 November 1912 het hy op Nylstroom gesê dat “die Afrikaner” nie deur vreemdelinge geregeer moet word nie. Die Afrikaners, en dit sluit Engelssprekendes in wat in die land gewortel is, moet baas wees in die politiek, die onderwys en administrasie. Daarop het die Engelse van Natal gereageer “net soos ’n wilde perd wat jy ’n blik aan die stert gebind het”, het Botha op 12 Oktober aan president Steyn geskryf. Nog groter was die verontwaardiging oor ’n toespraak van Hertzog op 7 Desember 1912 op De Wildt naby Rustenburg. Hy het gesê dat, waar die belange van Suid-Afrika in stryd is met dié van die Britse Ryk, Suid-Afrika eerste moet kom. Drie dae later het ’n Natalse minister, kolonel sir George Leuchars, bedank. Ná vergeefse pogings om die geskil te besleg, het ook Botha bedank, maar die goewerneur-generaal, lord Gladstone, het hom gevra om ’n nuwe kabinet saam te stel. Hy het Hertzog uit sy tweede kabinet weggelaat. Die ander Vrystaatse lid in die kabinet, Abraham Fischer, het ondanks raad van Hertzog en president Steyn minister gebly.