Politieke krisis

Bitterheid van die verlede
January 23, 2015
Verskillende houdings oor swartes
January 23, 2015

Die droogte van 1932–1933 was nie die eerste groot droogte nie – daar was ook dié van 1864, 1903 en 1916. Behalwe baie beeste het boere in 1932 sowat 2 354 000 en in 1933 7 451 000 stuks kleinvee verloor. In 1939 het Suid-Afrika nog byna 10 miljoen minder skape gehad as in 1930. Daarby het die droogte saamgeval met die ergste ekonomiese depressie wat die land beleef het. ’n Bitter politieke stryd het ontstaan oor die goudstandaard, ’n geldstelsel waarin die geldeenheid gelyk is in waarde met ’n vaste hoeveelheid goud; in beginsel kon iemand destyds ’n pondnoot by die bank inwissel vir ‘n goue pond. Diepgaande verskille het bestaan oor die vraag of Suid-Afrika die goudstandaard moet behou nadat Engeland op 21 September 1931 daarvan afgestap het. Die NP wou dit behou, die SAP wou dit afskaf. Vir Hertzog was die goudstandaard simbool van Suid-Afrika se ekonomiese onafhanklikheid.

Op 16 Desember 1932 het Tielman Roos, wat in 1929 uit die politiek getree en appèlregter geword het, sy toetrede tot die politiek aangekondig. Dit het daartoe gelei dat nog meer kapitaal as voorheen uit die land onttrek is. Die regering het op 28 Desember 1932 die goudstandaard verlaat. Baie mense het geglo dat net ’n koalisie tussen die NP en SAP die land kon red. Toe Hertzog aan ’n groep boere vra wat van Afrikaans gaan word as daar koalisie kom, het een uitgeroep: “Generaal, gooi weg die taal! Gooi weg die taal!” Hertzog, wat koalisie baie lank sterk teengestaan het, het tot die idee bekeer geraak. Einde Maart 1933 het Hertzog ’n kabinet aangekondig waarin generaal Smuts en vyf ander lede van die SAP opgeneem is. Die Kaaplandse leier van die Nasionale Party, doktor DF Malan, was nie in die kabinet nie.  Hy, maar veral doktor AL Geyer, redakteur van Die Burger, en Parlementslede soos menere Hans Strydom, Paul Saner en CR (Blackie) Swart, was teen koalisie.

Aan die einde van 1934 het die NP en SAP saamgesmelt en die Verenigde Party gevorm. In die volksmond het hulle die benaming Smelters verkry, en die Nasionaliste wat nie wou saamsmelt nie, die naam Gesuiwerdes. Dié twee groepe het mekaar met ergernis, giftigheid, selfs haat beveg oor taal-, rasse- en ander kwessies.

PJ Cillié, later redakteur van Die Burger, het daardie jare as jong joernalis beleef, en naderhand in ’n lesing die broederstryd ’n “stryd om legitimiteit” genoem. “Dit het om baie strydpunte gegaan, maar die wesenlike was die vraag: Watter leiers, watter party praat vir en verteenwoordig die ‘ware Afrikanerdom’? Wie is op die hoofpad na die toekoms? Wie besit en dra die verbondsark?” Twee basiese Afrikanerinstinkte, aanvullend en albei nood-saaklik vir voortbestaan, het met mekaar gebots. Dit is die “lewensnoodsaaklike drang na selfwees” en die ewe belangrike drang om vriende te vind en te wees. Cillié vergelyk dit met ’n boom: ’n boom kan net so min sonder wortels as sonder takke en blare lewe. “’n Volk wat sy inwaartse instink leer beskou as in stryd met sy uitwaartse drange, of omgekeerd, is soos ’n boom waarvan die wortels en die takke teen mekaar baklei. Dit is teen die natuur. Waarmee ons in die jare van skeuring besig was, was teen ons ware natuur.”