Pionierswerk op Genadendal

Die Statebybel
January 28, 2015
Khoi-Khoin verloor selfstandigheid
January 30, 2015

Die trekboere het, soos reeds gesê, die slawe en Khoi-Khoin by hul godsdiensoefeninge betrek. Ook sendingwerk is aangepak. ’n Paar predikante in Nederland het die Evangeliese Broederkerk of Morawiese Genootskap gevra om ’n sendeling na die Khoi-Khoin aan die Kaap te stuur.

Georg Schmidt van Herrnhut in Silesië was dadelik bereid om te gaan. Hy was 27 jaar toe hy in Julie 1737 in Kaapstad land. Hy het ’n deeglike opleiding ontvang van graaf Nikolaus von Zinzendorf, stigter van die Broedergemeentes, en is ses jaar lank deur die Rooms-Katolieke owerheid opgesluit weens sy werk onder die verdrukte Protestante van Morawië.

Die amptenare aan die Kaap het hom vriendelik ontvang, en ná ’n tydelike verblyf by Soetemelksvallei by die Riviersonderend het hy sy eintlike werk vroeg in 1738 by Baviaanskloof, tans Genadendal, begin.

Hy het die Khoi-Khoin landbou geleer om hulle daar te vestig. Vir sy onderrigklasse het hy Hollands as medium gekies omdat hy die Khoi-Khoin se taal te moeilik gevind het om aan te leer, en omdat die inwoners Hollands reeds deels kon praat en verstaan. Hy het ’n paar ABC-boekies in die Kaap gekoop en sy leerlinge het gou die letters van die alfabet bemeester. In 1742 het hy hulle die eerste keer begin leer om te skryf. Verder het hy hulle leer lees, bid en sing en hulle aangespoor om hulle te bekeer. Hy het hulle vermaan om hul kinders streng op te voed en het diegene getug wat gedans, gedrink of weggeloop het. Soms het hy die sweep gebruik om die kinders in hul onderrig te tugtig. Sy sukses het opspraak verwek, want die Khoi-Khoin is as “onbekeerbaar” beskou, al is dit nêrens formeel so gestel nie.

Maar ondanks sy sukses was daar teenstand. In Nederland is die Herrnhutters van 1739 af as ’n “sekte” beskou. Boonop het Schmidt die Kaapse predikante aanstoot gegee toe hy vyf van sy bekeerlinge gedoop en hulle broeders en susters genoem het, al het hy in 1742 magtiging van Zinzendorf ontvang om die sakramente te bedien.

Die predikante van die Kaap, Stellenbosch en Drakenstein het by die klassis in Amsterdam beswaar gemaak teen sy ordening en doopsbediening. Die predikante se negatiewe verslag het algemeen bekend geraak waardeur daar heelwat vyandigheid teenoor Schmidt by die koloniste ontstaan het, asook ’n mate van afvalligheid onder sy gemeente. Voordat hy nog van die klassis van Amsterdam verneem het dat hy sy werk mag voortsit, maar nie mag kinders doop nie, is Schmidt in 1744 na Europa om hindernisse uit die weg te probeer ruim. Pogings om hom te laat terugkeer, het misluk.

Die Khoi-Khoin van Genadendal het egter Schmidt se leringe bewaar, hul kinders leer lees en bid en gewag op die terugkeer van sendelinge. Die Hollands wat hulle by Schmidt geleer het, het hulle ook aan hul kinders geleer sodat daar geen taalprobleem vir die sendelinge was wat die werk in 1792 hervat het nie. In 1834 het Genadendal ’n drukpers gekry wat veral van 1859 af ’n stroom lektuur in Hollands en Afrikaans aan bruin mense verskaf het.