Eerste spore

Eeue voor Afrikaners hul eerste spore aan die Suidpunt van Afrika getrap het, was hier reeds vele ander spore. Die San, ’n volk van jagters en versamelaars, het reeds sowat 35 000 jaar gelede in die Kaap gewoon. Die Hollanders het na hulle as bosjemans verwys wat letterlik “mense wat agter gevlegte takkies woon” beteken. Hul leefwyse was eenvoudig, maar hulle het nogtans indrukwekkende rotsreliëfs, -tekeninge en -skilderye agtergelaat. Die Khoi-Khoin (letterlik “Mense-Mense”) was ’n tweede groep mense wat in die Kaap gewoon het. Hulle was ’n volk van skaap- en beestelers.

foto 2

Dias uitgebeeld op ‘n posseël van Suidwes-Afrika

Bartholomeu Dias was die eerste Europeër wat op 3 Februarie 1488 in Mosselbaai sy voet aan wal gesit en met plaaslike Khoi-Khoi-stamme handel gedryf het. Tydens sy terugreis na Europa het Dias ’n kruis by Kwaaihoek opgerig wat vandag die oudste Westerse gedenkteken in Suider-Afrika is. Hy het die Kaap, “Kaap van Storms” genoem, wat deur die Portugese koning herdoop is tot Cabo da Boa Esperança (“Kaap die Goeie Hoop”).

 

Vanaf 1500 het Portugese skepe op pad na Indië gereeld in Mosselbaai aangedoen om vars water, voedsel en ander voorrade te laai. Tafelbaai is in 1503 deur die Portugees Antonio da Saldanha ontdek wat ook die eerste Europeër in die geskiedenis was om die Tafelberg te bestyg. Ten spyte van die Kaap se strategiese ligging het die Portugese geensins daarin belanggestel om hier ’n permanente nedersetting te stig nie. Daar was ander hawens aan die Afrika-kus soos Lourenço Marques (Maputo) in Mosambiek wat in teëstelling met die Kaap in alle Portugese behoeftes kon voorsien.

Die VOC

In die middel van die sestiende eeu het Spanje sy politieke mag regoor Europa gevestig. Kolonies, soos Suid-Amerika, se rykdomme is geplunder. Spanje wou die Rooms-Katolieke staatsgodsdiens op kleiner volke afforseer. Die Nederlanders het hulle teen die Spaanse oorheersing verset. Die gevolg was ’n 80-jarige oorlog tussen die magtige Spaanse ryk en die klein Nederlandse state. Die Spanjaarde het spottend na hulle verwys as die “geux de mer” of geuse. Dit beteken “bedelaars van die see”. In 1648 het die Geuse onder leiding van Willem van Oranje die Spaanse juk afgewerp en hul vryheid verwerf. Na afloop van die oorlog het Nederland vinnig ontwikkel tot die wêreld se belangrikste handelsnasie.

In 1602 is die VOC gestig en teen 1650 was dit die wêreld se grootste handelsonderneming. Dit kan in vandag se terme vergelyk word met die handelsryke van Henry Ford en Bill Gates. Net in die tydperk 1652 tot 1662 het 250 skepe met 40 200 mense aan boord verby die Kaap na die Ooste geseil. Om dié rede het die VOC besluit om ’n verversingspos aan die Kaap te stig.

Foto 3

Kaap de Goede Hoop tydens die VOC-jare

Op 6 April 1652, vier jaar na die oorlog, het Johan Anthonisz (Jan) van Riebeeck aan wal gestap om ’n VOC-nedersetting te stig. Van Riebeeck se opdrag was om ’n fort vir sowat 80 mense te bou, klein akkers aan te lê, groente en vrugte te verbou en handel met die inheemse bevolking te dryf. Aanvanklik was Van Riebeeck se fort vierhoekig en deur ’n wal met palissades om beskerm.

In Maart 1653 is die verversingspos vir die eerste keer op die proef gestel. ’n Vloot onder die bevel van admiraal Gerard Demmer het in Maart 1653 by Van Riebeeck se verversingspos aangedoen. Die vloot is van groente, vleis en melk voorsien, en die kolonie se prestasies is deur admiraal Demmer ná sy terugkeer in Nederland geloof. Die landbou-aktiwiteite is geleidelik uitgebou, en reeds in 1659 is die eerste wyndruiwe geoes. Die Kaapse bevolking is versterk met die invoer van die eerste slawe in 1658. Saam met die slawebevolking is die Islam-godsdiens aan die Kaap gevestig.

’n Nuwe taal

Die VOC se amptelike taal was Nederlands. Soos die skepe van verskillende lande die VOC-verversingstasie besoek, is daar spoedig in ’n mengelmoes van tale soos Frans, Engels en Portugees gekommunikeer. Skeepslui het van die plaaslike bevolking se woorde begin opteken. Khoi-woorde soos dagga, boegoe en kierie was al voor 1652 opgeteken en is vandag steeds deel van die woordeskat van Afrikaans. Alhoewel Nederlands die oorheersende taal was, het daar stadig maar seker uit die mengelmoes van tale ’n nuwe taal ontstaan. Hierdie taal is Afrikaans – spontaan vernoem na die Afrika-bodem waaruit dit ontstaan en wortelgeskiet het.

Vryburgers

Die Vryburgers was werkers van die VOC aan wie toestemming verleen is om die VOC se diens te verlaat (dus “vry burgers” te word) en te gaan boer. Sedert 1657 is die eerste plase aan hulle toegeken. Aanvanklik moes die Vryburgers saai en plant wat die VOC voorskryf en die lae pryse van die VOC aanvaar. Reeds in 1658 het die Vryburgers in opstand gekom teen die VOC se ekonomiese voorskriftelike regeerwyse. Die Vryburgers was nie net pioniers wat deur landbou die kontinent moes tem nie, maar ook ekonomiese en politieke pioniers. Hul stryd om ekonomiese vryheid was die voorloper vir die latere stryd vir politieke vryheid. Hier is die eerste grondslag gelê vir Afrikaners se politieke en ekonomiese vryheidsideale.

Die despotiese regering van die VOC het inderwaarheid in skerp teenstelling met die Nederlandse regeerpraktyk gestaan. MCE van Schoor wys dat die Nederlanders in die sestiende en sewentiende eeu politieke en godsdienstige vryhede geniet het soos geen ander volk ter wêreld nie. Die verskil is waarskynlik daaraan te wyte dat die Staten-generaal aan die VOC die volmag gegee het om handel te dryf, ooreenkomste met vorste en klante te sluit, goewerneurs en regters aan te stel en hul eie verdedigingstelsel te vestig. In praktyk het dit beteken dat die Nederlandse regering nooit sy invloed in die Kaap kon laat geld het nie, omdat die VOC as ’n staat binne ’n staat gefunksioneer het. Dit is ironies dat die nasate van die Geuse wat agt dekades baklei het vir politieke en ekonomiese vryheid, nou self die onderdrukkers van vryheidsideale geword het.

Die ontwikkeling van ’n eg Suid-Afrikaanse identiteit onder die pioniers het ongeveer 40 jaar later sigbaar geword toe vier jongmans op Sondag 6 Maart 1707 met ’n Stellenbosch-meulenaar stry gekry en toe handgemeen geraak het. Landdros Johannes Starrenburg het ondersoek ingestel en die jongmans met ’n rottang bygedam. Hendrik Biebouw, ’n 17-jarige jeugdige, het op die landdros geskree: “Ik wil niet loopen, ’k ben een Africaander al slaat die landrost mijn dood, of al setten hij mij in den tronk. Ik sal, nog wil niet swijgen.” Die landdros hét hom en die ander in die tronk gegooi, en in ’n brief aan die regering in Kaapstad het hy aanbeveel dat die vier seuns verban word.

Hendrik Biebouw se uitroep is om twee redes belangrik:

Eerstens was Hendrik Biebouw se openbare verset op Stellenbosch die eerste geleentheid dat daar aangeteken is dat ’n Europeër die naam Afrikaner vir homself gebruik. Die vier seuns is almal in Suid-Afrika gebore, terwyl die amptenare Nederlanders was. Die uitroep dat hy ’n Afrikaner is, staan in die teken dat hy nie die gesag van die Nederlandse landdros erken nie.

Tweedens staan Biebouw in die teken van die Vryburgers se toenemende ontevredenheid met die outokratiese bestuurstyl en korrupsie van die VOC-amptenare. Verskeie Vryburgers het onder leiding van Adam Tas in die geheim ’n klagskrif aan die Here XVII in Amsterdam gestuur. Nadat goewerneur Van der Stel daarvan te hore kom, word Tas verhoor en vir ongeveer ’n jaar in Die Kasteel aangehou. Die uiteinde was egter ’n oorwinning vir die Vryburgers. Die Kompanjie het ten gunste van die Vryburgers beslis en Willem Adriaan van der Stel, sekundus Samuel Elsevier, landdros Johannes Starrenburg en Petrus Kalden is na Nederland teruggeroep. Frans van der Stel, broer van die goewerneur, is uit die Kaap verban. Dit was die einde van Van der Stel en sy bondgenote se skrikbewind.

Die koms van die Franse Hugenote

Duisende Protestantse Christene is deur die Rooms-Katolieke Kerk vervolg, gemartel en doodgemaak nadat Koning Lodewyk die Edik van Nantes, wat godsvryheid in Frankryk waarborg, herroep het. Protestante mag ook nie meer vir eredienste bymekaarkom nie, hul kerke is verwoes en hul predikante is verban of doodgemaak. Hierdie gebeure wat duisende kilometers ver in Europa afgespeel het, het ’n blywende invloed op die godsdienstige en ekonomiese ontwikkeling van die Kaapkolonie uitgeoefen.

Tussen 1688 en 1700 het sowat tweehonderd Franse Hugenote uit Frankryk gevlug en aan die Kaap gearriveer. Die meeste Hugenote het hulle in Franschhoek en Drakenstein gevestig. Bekende Hugenote-vanne is Du Plessis, Du Toit, Viljoen, Naude, De Villiers, Malan, Du Preez, Malherbe, Cronjé, Pienaar en Senekal. Gewilde Hugenote-name is Francois, Pierre, Etienne, Jacques en Louis. Die trekleier, Piet Retief, was ’n afstammeling van die Hugenote.

Die Hugenote se vervolging toon watter opoffering geloofsoortuiging kan eis. Hulle koms na die Kaap het ’n nuwe diepte aan die Vryburgers se vryheidstrewe en identiteit gegee. Omrede hulle as Protestante geprotesteer het teen godsdiensonderdrukking, was een van hul grootste nalatenskappe godsdiens- en gewetensvryheid. Die Hugenote het ook blywende spore nagelaat op die Kaapse kultuur, wynbou, argitektuur en ekonomiese ontwikkeling.

Die eerste trekboere

In die loop van die agtiende eeu het ’n steeds groter plattelandse bevolking van boere ontwikkel. Hierdie boere was opsoek na nuwe en groter weivelde vir hul vee. Die swerwende boere, bekend as trekboere, met hul groot troppe vee het gaandeweg die Kolonie se grense na die Oos-Kaap verskuif. Soos wat die Kolonie se grense verskuif het, het hulle in aanraking gekom met die vyandige Xhosa-stamme. Die Groot Visrivier is as die oostelike grens van die Kaapkolonie bepaal, maar reeds in 1779 het die Eerste Grensoorlog tussen die trekboere en die Xhosas uitgebreek vanweë botsings oor grond, weiding en vee. Die VOC was nie in staat om die setlaars teen Xhosa-aanvalle te beskerm nie, met die gevolg dat die trekboere op hulself aangewese was vir eie beskerming.

Vryheidsideaal

Die historikus Pieter Kapp wys daarop dat die Kaapse vryheidsideale saamgeval het met twee ingrypende internasionale gebeure, naamlik die Amerikaanse Vryheidstryd en die Franse Rewolusie.

  • Die Amerikaanse vryheidstrewe het die omskepping van 13 Amerikaanse kolonies in ’n federale republiek onafhanklik van Brittanje en Europa tot gevolg gehad.
  • Die grusame Franse Rewolusie wat in 1789 uitgebreek het, was ’n ingrypende vorm van verset teen onderdrukkende heersers. Vryheid, gelykheid en broederskap het saam met republikeins-demokrasie, wat burgers se regte waarborg, krete geword wat regoor die wêreld weerklink het.

Aan die Kaap het die internasionale gebeure daartoe gelei dat die aanvanklike behoefte aan ekonomiese vryheid uitgebrei het na ’n strewe om politieke vryheid. Die Kaapse Patriotte-beweging (1778‒1787) het aangedring op die VOC se erkenning van die plaaslike burgers se politieke regte.

Die Franse Rewolusie in 1789 het ook die doodsklok vir die VOC gelui. In 1795 het Frankryk Nederland binnegeval en die Prins van Oranje het na Engeland gevlug. In Nederland het die Bataafse Republiek met Franse steun tot stand gekom.

In die Kaap het die burgers van Graaff-Reinet en Swellendam van die politieke omwenteling gebruik gemaak om in 1795 twee republieke te stig. In Graaff-Reinet het die inwoners vir landdros Maynier verjaag as gevolg van swak plaaslike bestuur en korrupsie. Alhoewel die twee republieke die band met die despotiese en onsimpatieke VOC wou verbreek, wou die burgers hulle nie losmaak van die Nederlandse Staten-generaal nie. Die twee republieke het kortstondig bestaan tot Brittanje die Kaap die eerste keer beset het.

Britse oorheersing

Aanvanklik sou die Britse besetting net ’n tydelike reëling wees om Britse belange teen Frankryk te beskerm. Die strategiese posisie op die seeroete na die Ooste en die uitbreek van die Napoleontiese oorloë het die Britte genoop om teen 1806 die Kaapkolonie finaal te beset. Die Kaap sou nooit weer Hollands wees nie. Die nuwe Britse bewind het weinig van die ou VOC se bestuurstyl verskil. Om die rede was die verhouding tussen die Britse besetters en die Kaapse bevolking van die begin af gespanne.

Dit was aan die begin van die negentiende eeu vir koloniale moondhede soos Brittanje ondenkbaar om selfbeskikkingsreg aan enige Britse kolonie toe te staan. Die Britse goewerneur aan die Kaap het sy outokratiese en selfregerende mag behou en kon op eie gesag proklamasies uitreik. Hy was slegs verantwoordelik aan die Britse Sekretaris van Kolonies.

Foto 4

Die 1795-rebellie in Graaff-Reinet

Die Britte het hul taal- en kultuurstempel op alle lewensterreine probeer afdruk deur ’n imperialistiese verengelsingsbeleid. Daarby was die Britse regering in Kaapstad ver verwyderd van die probleme wat die plattelandse boere op die Oosgrens ondervind het. Die verwydering tussen die staat en sy burgers het spoedig aanleiding gegee tot groter vervreemding tussen die inheemse burgers en die staat. Die meeste burgers het soos vreemdelinge in hul eie land begin voel.

Slawerny as ekonomiese praktyk

Slawerny was destyds ’n algemene arbeidspraktyk en die hoeksteen van die wêreldekonomie. Brittanje het leiding geneem met radikale hervormings wat teen 1834 tot die algehele vrystelling van slawe binne die hele Britse Ryk gelei het.

Ten spyte van die Britse regering se beloftes van vergoeding het die grensboere groot finansiële skade gelei, wat bankrotskappe en skuldprobleme tot gevolg gehad het. Nie die vrystelling van slawe nie, maar die verbreekte beloftes oor vergoeding en die gevolglike finansiële skade was een van die redes van die Groot Trek.

Europese setlaars

As gevolg van die langdurige oorloë in Europa het Europese immigrante reeds tydens die VOC-bewind hulle aan die Kaap gevestig. ’n Paar duisend Duitsers het tussen 1652 en 1795 hulle aan die Kaap gevestig. Die Duitse sendeling Georg Schmidt is in 1737 deur die Morawiese Sendinggenootskap gestuur om die evangelie aan die Khoi-Khoin te verkondig. In 1806 is die naam van die sendingstasie na Genadendal verander. Die Berlynse Sendinggenootskap het ook sendingstasies soos Amandelboom (vandag Williston) gevestig. Na 1800 het ongeveer nog 5000 Duitsers hulle in die Kaap gevestig. Die Britse bewind het die Duitsers veral in die westelike dele van die Kaapkolonie gevestig. Duits-Suidwes-Afrika is in die 1880’s as ’n Duitse kolonie gevestig.

Die beëindiging van die Napoleontiese Oorloë, tesame met die industriële vooruitgang in Brittanje het ’n ernstige werkloosheidskrisis veroorsaak. Om die probleem te oorbrug, het die Britse regering burgers in hul kolonies hervestig. Britse setlaars is gelok deur aan hulle vrye landbougrond in die Oos-Kaap te belowe. Die setlaars moes help om die Engelse leefwyse aan die Kaap te vestig en terselfdertyd ook die Oos-Kaapse grensgebied teen aanvalle van die Xhosa-stamme te verdedig.

Gedurende 1820 het 4000 Britse immigrante in Tafelbaai aangekom. Hulle is in Port Elizabeth, Grahamstad, Oos-Londen en die Albanie-distrik hervestig.

Goeie verhoudinge

Foto 5

Vrederegter Thomas Phillips oorhandig ‘n Bybel as afskeidsgeskenk aan Jacobus Uys

Die lewensomstandighede in die grensgebied was uiters moeilik as gevolg van droogtes, siektes, afstande, misdaad en die voortdurende aanvalle van Xhosa-stamme. Ten spyte van die moeilike omstandighede het die setlaars gewasse soos mielies, rog en gars suksesvol verbou. Skaapteelt en wolvervaardiging wat deur hulle in die gebied ingevoer is, sou gaandeweg tot winsgewende bedrywe ontwikkel. Ander setlaars, wat hulle al in Engeland as handelaars en sakemanne bekwaam het, het ’n hupstoot aan die plaaslike handel en ekonomie gegee en die vinnige groei van nuwe nedersettings soos Grahamstad en Port Elizabeth bevorder.

Die grensbewoners was in die omstandighede afhanklik van mekaar se hulp en ondersteuning. Die Britse setlaars en die Hollandse oosgrensboere het uitstekend oor die weg gekom. Die goeie verhouding word ook later gesien, toe die vrederegter Thomas Phillips as verteenwoordiger van die Britse setlaars ’n Bybel as afskeidsgeskenk aan Jacobus Uys tydens die Groot Trek oorhandig het.

Tot 1795 het die VOC die vrye drukpers aan die Kaap verban. Saam met die koms van die Setlaars het koerante soos die Grahamstown Journal ontstaan. Hierdie koerant sou as kommunikasiemiddel ’n belangrike rol speel om die grensbewoners in te lig van internasionale tendense, maar ook aan hulle ’n stem te gee vir eie griewe. Die koerant het van tyd tot tyd berigte in Hollands geplaas en ook Piet Retief se manifes in 1837 gepubliseer.

’n Klein groepie 1820-setlaars het verder noordwaarts na Natal getrek, wat destyds deur Shaka met ’n leër van hoogs opgeleide en gedissiplineerde Zoeloe-krygers geregeer is. Hulle het hulle in Port-Natal (Durban) gevestig. Die Voortrekkers sou later weer met hierdie groep in aanraking kom.