Met die koms van Jan van Riebeeck en sy mense in April 1652 om aan die Kaap die Goeie Hoop vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie se skepe ’n verversingspos te stig, word daar aan ons Suiderstrand ’n loot van die lewenskragtige en toe reeds gelouterde Kerk van die Hervorming in Nederland geplant. Daar verloop egter ruim ’n halfeeu voordat die gemeente wat met verloop van tyd hier gegroei het, op Sondag 6 Januarie 1704 sy eerste werklike kerkgebou in gebruik kan neem. Hierdie eenvoudige, maar mooi agtkantige gebou is opgerig op die verlate onderste gedeelte van Kompanjiestuin wat al in Desember 1677 deur kommandeur Joan Bax en sy Raad vir die aanlê van ’n begraafplaas – en toe later vir ’n “behoorlyck proper kerckje” – aangewys is.

Die gebou het nie die gewone kruisvorm gehad wat in ons land so gewild sou word nie, want in dié geval is die arms van die Griekse kruis deur skuins dwarsmure verbind, sodat ’n gedeelte van elkeen van die vier oop hoeke gevul is. Dit is op die patroon van die sewentiende-eeuse “preekkerke” gebou, waarin die grondplan óm ‘n middelpunt ontwerp is. Omdat die toring destyds nie óp die gebou nie, maar daar teenaan opgerig is, het dit die sloping van die eerste ou kerk oorleef.

Groote Kerk

Verskeie uitbreidings ten spyt, kon die beskikbare ruimte in die kerk mettertyd nie meer in die behoefte van die groeiende gemeente voorsien nie. Toe dit dus teen 1779 blyk dat die gedurige “swart leckagie” in die gebou die houtwerk bedreig, besluit die kerkraad om in plaas van slegs grootskaalse herstelwerk daaraan te laat doen, dit aanmerklik te vergroot. Deurdat hierdie vergroting, wat in 1781 voltooi is, in die uitbouing van die vier half-oop hoeke bestaan het, bly die kruisvorm van die skuins dak behoue, maar origens neem die kerk toe die vorm van ’n vierkant aan met plat dakke op die nuwe aanbousels.

Na meer as 84 jaar begin die mooi ou preekstoel ook tekens van verrotting en wurmbesmetting toon, met die gevolg dat die kerkraad dit in Augustus 1788 aan die Kompanjie se knap en die later so gevierde beeldhouer Anton Anreith, opdra om ’n nuwe te maak. Terwyl Anreith die beeldhouwerk tot volle bevrediging van die kerkraad uitvoer, doen die Kompanjie se baastimmerman, JJ Graaff, die houtwerk, en op 29 November 1789 lewer dominee JP Serrurier as oudste leraar van die gemeente, die eerste preek van die nuwe kansel af, wat vandag nog die bewondering van baie uitlok.

9-2-018-0106_Grootte_Kerk_Adderley_street_Cape_Town_(2)
Sedert 1816 het veral die platte van die uitgeboude hoeke van die ou kerk meermale groot uitgawes aan herstelwerk geverg en algaande ook steeds groter kommer gewek … en toe stort daar tydens ’n oggenddiens in Februarie 1835, tot die ontsteltenis van baie kerkgangers, ’n stuk pleistering van die kapiteel van een van die vier groot pilare af!

Nadat daar lank bespiegel en geredeneer is oor die moontlikheid of die eerbiedwaardige ou gebou heeltemal gesloop en deur ’n nuwe vervang moet word, volg die besluit om die dak te vervang en terselfdertyd die kerk van binne – alles volgens die planne van luitenant-kolonel Robert Thomson, bevelvoerder van die Royal Engineers – so te laat verander dat dit met etlike honderde sitplekke vergroot kan word. Toe daar geen bevredigende tenders inkom nie, maak die kerkraad hom gereed om, onder toesig van die bekende argitek en bouer Herman Schutte, self te laat bou. Heel gou stel Schutte verskeie wysigings in die planne voor. Deur die vloer van die gebou een meter hoër te maak, sal die kerk nie alleen binne droër en gesonder wees nie, maar ook met sy treffende uiterlike voorkoms tussen die hoë openbare geboue in die omgewing baie beter vertoon. Nóg belangriker egter was die verandering van die dak.

320px-Groote_Kerk_1824

’n Wit en swart afdruk van ’n skildery deur TF Cromfield van die Groote Kerk en ou slawehuis in 1824

Toe die dak afgegooi is en Schutte, saam met die goewermentsargitek, John Skirrow, die mure en fondamente deeglik kon ondersoek, blyk dit dat die ou mure en fondamente vir die beoogde herbou van die kerk geheel en al ongeskik is. Begin November 1836 het die kerkraad dus geen ander keuse as om te besluit dat die hele gebou, behalwe die toring en die konsistoriekamer, gesloop moet word nie!

Die planne vir die nuwe gebou word deur Skirrow en Schutte opgestel en die bouwerk staan onder Schutte se toesig, terwyl LF Anhuyser vir die timmerwerk verantwoordelik is. Op ’n dag ná, word die fondamentstene vir die nuwe kerk 136 jaar na dié van die oue, op 27 Desember 1836 gelê. In Mei 1837 moet daar oor die plafon besluit word. Vandag nog verkondig die indrukwekkende gewelf – met sy breë spanning sonder kolomme om dit te stut en sy mooi gestukadoorde rosette waar die kroonlugters hang – die kundige vaardigheid van die ou argitek-bouer wat byna hartstogtelik vir ’n gepleisterde plafon, as  baie duursamer en sierliker as een van plank gepleit word.

Nadat die Gereformeerdes sedert einde Augustus 1835 hul godsdiensoefeninge in die Lutherse kerk in Strandstraat gehou het, is hul reikhalsende verlange om weer in ’n kerk te aanbid, met die inwyding van die nuwe gebou op 31 Januarie 1841 vervul. Sedert die uiteindelike voltooiing van die kerkgebou in Breestraat en die inwyding daarvan in Oktober 1847, raak die een aan die Heerengracht mettertyd as die Groote Kerk en die ander een as die Tweede, die Nieuwe of ook die Bovenkerk bekend.

Nog voordat die ou kerkgebou afgebreek is, moes die grafkelders onder die vloer daarvan, opgevul word. Daarin is weggelê verskeie gesagvoerders uit die tyd van die  VOIK, ’n Britse goewerneur uit Oos-Indië en ook ’n hele aantal ander manne van rang en stand, sowel as talle gewone burgers en burgeresse uit die ou Kaapse samelewing, saam met hul kinders. Daarby kom die grafmonumente – waarvan die swierige stellig dié van goewerneur Simon van der Stel uit 1712 was – wat indertyd teen die mure in die kerk aangebring is. Hulle is blykbaar met die vergroting van die gebou teen 1870 verwyder, en tot dusver is slegs twee teruggevind. Gelukkig pryk ’n klompie van die historiese wapenskilde of rouborde wat vroeër in die begrafnisstoete, veral van vername manne, saamgedra en daarna in die kerk gehang is, vandag weer teen die mure onder die galerye.

Nadat die derde orrel van die ou kerk – ’n geskenk van die welgestelde handelaar Jan Hoets in 1826 – in telkens vergrote en verbeterde vorm nog gedurende meer as ’n eeu ook in die nuwe gebou diens gelewer het, word die huidige orrel begin Desember 1957 in gebruik geneem. Hierdie pragtige instrument, wat al die grootste kerkorrel in die suidelike halfrond genome is, speel ook in die ou Moederstad se musieklewe ’n vername rol.

Die klok wat vandag nog in die toring hang, en wat al sy aandeel in talle historiese plegtighede gehad het, dra die monogram van die VOIK (VOC) en is in 1726 deur JA de Grave in Amsterdam gegiet. Langs die grote hang daar ook ’n kleiner een, wat in 1810 deur Thomas Mears in Londen gemaak is.

Van onskatbare waarde is die kerksilwer wat in die Groote Kerk bewaar word. So is daar die twee klein gegraveerde Nagmaalbekers met deksels wat die kerkraad reeds in 1669 deur “daniel de silversmit” – Daniel Echt, ’n Sweed van geboorte – laat maak het. Hulle is onder die heel oudste bekende stukke Kaapse silwer – terwyl daar ook twee inkkokers is wat Matthias Lötter in 1737 vervaardig het. Die mooi doopbak waaruit duisende lede van agt of meer geslagte Kaapse kinders en andere gedoop is, is een van die weinige egte stukke wat van die kunsvaardigheid van die vroeë Kaapse silwersmid Johann Hasse getuig. Saam met die koperstander, is dit in 1752 deur ’n gesiene dame aan die kerk geskenk.

Op die plek waar die Groote Kerk staan, word die Here God dus nou al meer as 280 jaar lank aanbid. Vir geslagte van gelowige kerkgangers is die plek deur ’n ryke skat van gewaarwordinge en herinneringe ook van geestelike ervaringe geheilig, en vir die Afrikaners van Kaapstad was die kerk aan die Heerengracht – later Adderleystraat – nog altyd ’n waardige beliggaming van die Kerk van hul vaders en ’n helder ligbaken langs hul dikwels moeilike pad vorentoe.

Bron: Hopkins, HC. 1989. Groote Kerk. In Afrikanerbakens. Aucklandpark: FAK, pp. 32-35.