Strooidakkerk

Die historiese kruiskerk met sy strooidak aan die Paarlse hoofstraat is die oudste kerkgebou van die Ned. Geref. Kerk wat nog in die RSA in gebruik is.

Die gemeente van die Paarl (afhanklik Drakenstein genoem) is reeds in 1691 gevestig. In 1720 het die gemeente sy eerste volwaardige kerkgebou ingewy. Hierdie kerkgebou het tot April 1805 diens gedoen – 85 jaar lank dus. Deur hierdie periode het ’n aantal bekende predikante die Woord hier bedien, onder andere dominees PA van Aken, Salomon van Echten, Petrus van der Spuij en Robert Aling. Die Voortrekkerleiers Pieter Retief, Sarel Cilliers en Louis Tregardt was onder die talle dopelinge wat in dié ou kerkie, 24 m lank en 12 m breed, die sakrament ontvang het.

In 1799 het die kerkraad tot die oprigting van ’n nuwe kerkgebou besluit en terselfdertyd onderneem om self vir die befondsing van die projek in te staan. Die ywerige dominee Aling het die gemeente op roerende wyse opgeroep om tot die boufonds by te dra. Danksy die intensiewe huiskollekte wat deur die owerheid goedgekeur en deur diakens Jacobus Marais en Johannes Minnaar van stapel gestuur is, kon daar reeds vroeg in die volgende jaar bekend gemaak word dat 39 029 gulde, 50 slawe vir een maand se diens, drie messelaars vir ’n vasgestelde werktyd, 22 vragte riet en 23 transportwagtogte gekontroleer is.

Die gebou sou “in ene kruisgedaante” met ’n binnewerk van 30 m by 11 m opgerig word. Dominee Aling het persoonlik met die bekende agtiende-eeuse argitek, LM Thibault, onderhandel, dog hom met die oog op besparing versoek om slegs  ’n “uitwending” plan te teken. Die kerkraad het self ’n bou-opsigter, ene Petrus Jordaan, aangestel.

Dit was aanvanklik die plan om geelhoutbalke per boot van Mosselbaai te laat kom, maar nadat geblyk het dat dit te duur sou wees, is ander balke in Kaapstad aangekoop. Aangesien die gebou so hoog en breed sou wees, het argitek Thibault voorgestel dat dit verleng sou vernou en van meer pilare voorsien moet word. Die kerkraad het egter bevind dat ’n “menigte van pijlaren” sou veroorsaak dat sommige kerkgangers nie die preekstoel sou sien nie en gevolglik is van die plan en Thibault se dienste afsien. ’n Geskil in verband met laasgenoemde se rekening het daarop uitgeloop dat die kerkraad die bedrag van 200 riksdaalders aan Thibault moes oorbetaal.

In die jaar 1800 is die geliefde dominee Van Aken, yweraar vir die kerkbouprogram, oorlede en toe die kerkraad verder verneem dat die koste van hout gestyg het, is die werk ’n paar maande  gestaak. Spoedig is die spanpoging egter hervat. Reëlings is getref rakende die maak van bakstene en die vervoer van dekstrooi. Daar is selfs ooreenkomste met Paarliete aangegaan in verband met die huisvesting en voedsel vir ambagsmanne, handlangers en slawe. (Uit ’n Bolandse boere-oogpunt is dit insiggewend dat slaweambagsmanne en gewone handlangers onderskeidelik twee en drie “bierglazen” wyn, benewens voedsel, op gesette tye per dag moes ontvang.)

Thibault se bouplan is deur dié van mejuffrou Georg Conrad Küchler vervang. Küchler  het ook onderneem om die werk vir 50 000 riksdaalders te voltooi. Die here CH Niehaus en Johan Meyer het vir hom as borge geteken.

Teen die einde van 1802 was die kerkgebou sover voltooi dat die kerkraad dit deur kundige boumeesters uit Kaapstad kon laat inspekteer. Küchler moes enkele veranderinge en versterkings aanbring. Origens is besluit om die gebou van ’n steen- in plaas van kleivloer te voorsien. Voorlopig is om finansiële redes die soldering uitgestel.

Met die voltooiing van die kerk, kon die preekstoel nou uit die ou kerk oorgebring word – ’n taak wat deur meulenaar Bart Louw tee 15 riksdaalders onderneem is.

Die oprigting van die kerkgebou het vyf jaar in beslag geneem. Van binne is dit treffend en indrukwekkend vanweë die eenvoud en soberheid wat dit uitstraal. Aan die westergewel is die ou spreuk sol justiliae illustra nos aangebring.

Die inwyding van die “Paarlsche kerk” is op 28 April 1805 deur dominee JP Serrurier, emeritus-leraar van die gemeente Kaapstad, waargeneem. Op die Maandag na die inwyding van die nuwe kerk is die oue per openbare veiling van die hand gesit.

Deur die afgelope nagenoeg 180 jaar het die Strooidakkerk weinige veranderinge ondergaan. In 1824 is dit van ’n solder en twee galerye voorsien. In 1838 is die nuwe preekstoel, ’n skenking van mejuffrou MM Krynauw, in gebruik geneem. Die koperpen of -kapstok waaraan dominee GWA van der Lingen sy muts gehang het, is nog daar te sien. In  1852 is die gebou vergroot en van ’n konsistorie voorsien. In 1878 is nuwe kerkbanke, in 1872 lamplig en in 1882 ’n galery in die oostervleuel – waarop die orrel geïnstalleer is –aangebring.

Soos dit tans daar staan, met sy netjiese strooidak, wit mure, omring van sipres- en eikebome, straal die ou gebou ’n ou-wêreldse, landelike sjarme en statigheid uit. Hiertoe lewer die omringende kerkhof met sy grafkelders ’n wesenlike bydrae.

Die kerkhistoriese betekenis van die Strooidakkerk bestaan ook daarin dat sommige van ons land se voorste geestelike leiers as predikante in hierdie gemeente gestaan het. In meer as een geval het hul invloed tot ver buite die gemeentegrense en buite hul eie tyd heen gestrek.

Die Strooidakkerk het ook ’n unieke bydrae tot die Suid-Afrikaanse kerkmusiek en- sang gelewer. Van die beroemdstes onder ons eertydse orreliste het die orrels van die Strooidakkerk bespeel, gemeentesang gelei, orrellesse gegee en koor- en orreluitvoerings gelewer en sodoende ’n unieke kerkmusiektradisie geskep. Pieter Hugo was tien jaar lank ’n “goeie orrelis”. Tussen die jare 1847–1875 het die heer JS de Villiers (Jan Orrelis) wye bekendheid verwerf, onder meer in 1887 as orrelis aangestel. Veertien jaar lank het hy die kerksang en -musiek bevorder. Deur sy orreluitvoerings en dié van sy begaafde seun, PK, is die Paarlse gemeente en gemeenskap sterk musiekbewus gemaak. In die Strooidakkerk is Rocco de Villiers se bekende Koraalboek en geestelike kantate gebore. ’n Geëerde orrelis was AC van Velden, wat die kerkkoor as permanente instelling gevestig het, terwyl dit voorheen slegs by besonderse geleenthede opgetree het.

Die Strooidakkerk van die Paarl, waarvan die 175e bestaanjaar op luisterryke wyse in 1980 gevier is, neem ’n unieke plek onder ons nasionale gedenkwaardighede in. Kerkhistories en argitektonies is dit ’n ligbaken op die pad van ons Afrikaner volkswording en geestesgroei.

Bron: Booysen, B. 1989. Die Strooidakkerk. In Afrikanerbakens, Aucklandpark: FAK, pp. 46–48.